Rubrieke – Koos van der Merwe

Waak oor jou hart

Dis nêrens op enige agenda van enige organisasie in die wêreld nie. Geen akademikus het tot dusver navorsing daaroor gedoen nie, en ek weet van geen vak op skool waar dié tendens bespreek word nie.

Tog is dit ’n wêreldwye probleem wat in elke huis en kantoor voorkom. Nie net sporadies nie, maar weekliks. Ek onthou dit het in my kinderjare baie trauma veroorsaak. Ek het nog nooit met enigiemand gepraat wat nie van kindsbeen af daardeur geraak is nie. Ek gee nie juis veel aandag aan conspiracy theories nie, maar vermoed ons het hier te doen met een van die grootste geheime sameswerings in die geskiedenis.

Ek praat van die misterieuse verdwyning van elektriese proppe, veral die soort wat jy nodig het vir die laai van selfone en die gebruik van haardroërs. Tweepuntproppe. Hoe hulle aanhoudend uit elke huis verdwyn, en waar die groot opgaarplek van al die miljarde verdwene proppe is, is vir my die grootste raaisel. As ek net die geld kon terugkry wat ek uitgegee het om tweepuntproppe te vervang sou ek môre vir my ’n nuwe viertrekvoertuig kon koop, met genoeg kleingeld om op ’n wêreldreis te kon gaan!

Dit lyk my dis hoe die lewe is. Daar is sekere dinge wat maar net gewaarborg is om te verdwyn as jy nie elke dag en byna elke oomblik daaroor waak nie. Sekere dinge is inherent geneig om weg te raak. En nie net elektriese proppe, naelknippers en skêre val in hierdie kategorie nie, maar dinge van oneindig meer waarde.

Meestal dinge van die hart.

Daarom waarsku die wyse skrywer in Spreuke reeds eeue gelede dat ’n mens moet waak. En oor die hart meer as oor enigiets anders. Liefde kan wegraak. Vrede kan verdwyn. Ongesiens. Sonder aankondiging en selfs sonder krisis.

Die kamers van die binneste vra gereelde kyk na binne. Gereelde stil word. Gereelde gesprek met Hom, wat kan sorg dat ’n mens nie op ’n dag vind dat jou hart êrens, soos ’n tweepuntprop, net weggeraak het nie.