Rubrieke - Marita van der Vyfer

Alles val uitmekaar

Ek weet, ja, ek klink nou of ek myself probeer oortuig van iets waaraan ek begin twyfel het.

Want die probleem met ou geboue is dat hulle, wel, oud is.

Ou geboue, soos ou mense, het nou eenmaal meer sorg nodig as jong geboue en jong mense. Daar is altyd iets wat breek, iets wat die gees gee, iets wat herstel of vervang moet word. Things fall apart; the centre cannot hold. Elke keer as ek dié beroemde versreël van W.B. Yeats lees, dink ek nie – soos die digter bedoel het – aan politieke stelsels en filosofiese kwessies nie. Nee, ek dink aan die lewensgevaarlike elektriese bedrading en die klammigheid in die mure en die vrot vloerplanke van my “karaktervolle” ou kliphuis in Provence.

Die Engelse sê mos dit reën nooit nie en dan sous dit ewe skielik. Nou ja, in ons ou huis reën dit heeltyd, figuurlik gesproke, want daar’s altyd iets wat breek of bars of lek. En dan sous dit ook nog elke nou en dan, wanneer alles gelyktydig breek, bars en lek.

Die afgelope maand was weer ’n sousmaand.

Eers het die handvatsel van die bejaarde kombuiskraan sommer net so morsaf gebreek. En toe kom ons agter iewers in die vorige halfeeu het ’n vorige eienaar daardie kraan só stewig vasgeskroef dat niemand, niemand, dit ooit weer sou kon losskroef nie. Toe ons eindelik, ná vele beproewende dae in ’n kraanlose kombuis, ’n loodgieter kon oorreed om te kom huisbesoek doen, het dit só ’n gesukkel afgegee dat hy gedreig het om die kraan met dinamiet uit te skiet.

Maar toe ’n nuwe kraan tog oplaas geïnstalleer is, het ons ganse gesin om die glansende voorwerp vergader, so stom verwonderd soos ’n hen voor ’n naaimasjien. (Dis my Fransman se uitdrukking.) Hoe op aarde het mense eeue lank sonder kraanwater in die kombuis gelewe? Om te dink daar is stééds miljoene mense wat nie lopende water in die huis het nie!

Maar ons juig nog so oor die luukse van lopende water, toe besef ons dat hierdie water nie warm word nie. En dié keer is die probleem helaas nie tot die kombuis beperk nie. Ná drie dae van koue storte en sponsbaddens met kastrolle water wat op die stoof warm gemaak word, daag die oorwerkte loodgieter eindelik weer op. Die goeie nuus is dat dit nie die hele warmwatertenk is wat vervang moet word nie, lig hy ons in, net die termostaat. Die slegte nuus is dis Vrydagmiddag. Die loodgieter se naweek begin amptelik oor ’n uur. Hy sal beslis nie voor Maandag die termostaat kan vervang nie.

Dit beteken toe nóg drie dae van hurk in ’n plastiekbadjie terwyl jy warm water uit ’n strandemmertjie oor jou skouers giet. En aanmekaar wonder hóé mense eeue lank sonder lopende warm water gelewe het. En om te dink daar is steeds miljoene mense wat nie warmwaterkrane in hulle huise het nie!

Daar’s darem niks soos ’n bietjie ontbering om jou te laat besef hoe begenadig jy eintlik is nie. Intussen het ons weer warm water gekry én die kombuiskraan werk steeds – maar gister het ’n waterpyp op die boonste verdieping onverklaarbaar begin lek. Ons het dit eers agtergekom toe die water deur die plafon van die onderste toilet begin sypel. Teen vanoggend moes jy ’n sambreel saamneem as jy die toilet wou gebruik.

Dié dat my geloof in ou huise vandag bra wankelrig voel.

Ek wens amper ek kon die hele ou kasarm verkoop en op ’n splinternuwe gholflandgoed gaan woon. Maar nou ja, elke huis het seker maar sy kruis. As ek op ’n gholflandgoed woon, sal my vensters seker aanmekaar stukkend geslaan word deur gholfballe. En ek sal heeldag na gholfspelers se vervelige uitrustings moet kyk. En, ergste van alles, ek sal moet leer gholf speel.

Ag nee wat, dan bly ek liewers by die kruis (en in die ou huis) wat ek ken.