Rubrieke - Marita van der Vyfer

Broodnodig

Wie onthou nog die smaak van ’n stewige plaasbrood, pas uit die oond, brosbruin buite en sponssag en spierwit binne?

Ek was ’n stadskind, met ’n werkende stadsma wat nie self brood gebak het nie, maar ek het plaasfamilie gehad en plaasvakansies geniet. Elke keer as ek ’n oondwarm tuisgebakte brood ruik, tot vandag toe, word die smake en reuke en klanke van daardie vakansies vir my opgeroep. Romerige melk wat ’n paar uur gelede nog in die koei se lyf was. Die sifdeur van die kombuis wat so aanmekaar klap-klap. Moerkoffie wat in ’n meelsakkie in ’n emaljekan gebrou word.

My nooi is in ’n nartjie, my kindervakansies in ’n brood. So iets.

En as jou ma of jou ouma destyds nie hul eie brood gebak het nie, dan was ’n goeie bakker se brood darem ’n gawe troosprys. Op die meeste dorpe was die bakkery ’n paradyslike plek, ’n wasemrige, louwarm tempel waar die geure van suurdeeg en anys en suiker soos wierook in die lug hang, met die bakker natuurlik in die rol van priester.

Nou word ’n geslag kinders groot wat nie meer tuisgebakte brood óf bakkersbrood ken nie. Net massa-vervaardigde fabriekbrode, kleurloos en geurloos en lig soos spoeg. Broodbak het ’n outydserige, tydmorserige gedoente geword. Die geknie, die gerys, die gewag … Ag, nee wat, kom ons ry sommer gou na die naaste kafee.

Hoeveel mense ken jy wat nog elke dag hul brood by ’n bakker aanskaf?

Waar is al die bakkers heen?

Toe ek ’n dekade gelede op die Franse platteland beland het, het dit my mateloos behaag dat selfs die onbenulligste gehuggie met ’n eie bakker spog. ’n Dorp met skaars ’n duisend siele sou soms tot drie bakkers aan die lewe hou. Natuurlik – as elke siel elke dag ’n brood by een van die drie bakkers koop, en soms ook croissants en terte en al die ander smaaklikhede wat bakkers bied. Hoe héérlik, het ek gedink elke oggend as ek my elegante Franse fluitbrood gaan koop, hoe salig beskááf.

Nou kom ek agter dat die bakkers minder word.

Helaas, ook hier in die land van smulpape, waar die gehalte van kos nog altyd belangriker was as die prys, selfs hier is die supermark-kultuur besig om oor te neem. Supermark-brode en supermark-vleis en supermark-groente vir ’n gemaksugtige supermark-geslag. En tant pis, soos my bure graag sê, vir die bakkers en die slagters en die groentesmouse wat in die proses verdwyn.

Dit onthuts my heeltemal onbehoorlik. Die karikatuur van ’n Fransman is immers ’n ou met ’n weglê-snor en ’n skewe baret op die kop en ’n baguette onder die arm. Die snorre en die barette het lankal net ’n mite geword, maar die baguette onder die arm sien ek nog elke dag oral om my. Dis vir my onvoorstelbaar dat daardie lang Franse brood, met die stukkie outydse papier so mooi om die middellyf vasgeplak, eersdaags vervang kan word deur ’n reghoekige Anglo-Saksiese supermark-brood in ’n plastieksakkie. Dit kan tog nie!

Verstaan my mooi, dis nie net oor ’n Franse tradisie dat ek treur nie. Dis ongelukkig ’n internasionale tendens dat alles eenders word, oral beskikbaar in enige seisoen, of jy nou in Beijing of Bronkhorstspruit woon. Globalisasie, word dit glo genoem. Vir my klink dit soos die groot gelykmaak. Weldra gaan alle brode wêreldwyd dieselfde lyk, proe en ruik.

Wat gaan dan van die oorblywende bakkers word?

Soms droom ek dat daar iewers ’n hemel is waar bedreigde en reeds uitgestorwe spesies van werkers doodtevrede hul ding kan doen. Kersmakers en glasblasers en skaapskeerders. Barbiers en koetsiers en snelskriftiksters. En binnekort dalk ook bakkers en slagters en groentesmouse van oral op aarde.

Ek dink aan daardie hemel, elke keer as ek ’n volmaak gevormde, chemies gedokterde, internasionaal beskikbare fabriekbrood met ’n onmoontlike lang raklewe in my naaste supermark aanskaf.

En ek vra myself af of dit nou regtig, wel, broodnodig is om só ’n onbevredigende affêre te eet?