Rubrieke - Marita van der Vyfer

Deurnagdans

Ek sal die ou kennisse in my slaap onthou. En die volgende oggend, wanneer julle leepoog lê en wonder wát daardie Nuwejaarsvoorneme nou weer was waaroor julle gisteraand so gespog het, sal ek die jaar vars en uitgerus aandurf.

Wel. Dis hoe ek myself getroos het, jare gelede, toe ek agterkom Oujaarsaand is die moeilikste aand van die jaar om ’n betroubare en bekostigbare kinderoppasser te vind. Nou is die kinders amper almal groot genoeg om hulself op te pas – maar ek moet bely ek het nogal gewoond geraak daaraan om Oujaarsaand in droomland te vier.

Want selfs v.K. (vóór Kinders) het ek swaar gesluk aan die gedwonge vrolikheid van dié nag. Daar’s net iets in my wat weier om vrolik te word as ek bevéél word om vrolik te wees. Trouens, ek het van die aakligste argumente in my lewe op Oujaarsaande opgetel, met arme onskuldige metgeselle wat nie kon verstaan wáárom ek so dwarstrek in my deftige aandrok nie.

Of in my simpel vermomming. Aangesien Oujaarspartytjies dikwels fancy dress-geleenthede is, het ek dikwels die volgende oggend die absurde hoop gekoester dat almal, selfs my metgesel (veral my metgesel), sou vergeet as wie of wat ek vermom was. Sodat almal sou sê, “Ai, Cleopatra (of wie ek ook al daardie jaar was), het haar darem sleg gedra gisteraand” eerder as “Ai, Marita het haar darem sleg gedra . . .”

En toe verander alles laas jaar, hier op my amper-oudag, toe ek onverwags ’n heerlike Oujaarsnag saam met my Franse skoonfamilie deurbring. Ek het geweet die familie van Lille beplan ’n byeenkoms wat dreig om tot dagbreek te duur, maar ek het nóóit gedog ek sou teen dagbreek nog op die dansbaan wees nie. Ek het nie eens geweet daar sou ’n dansbaan wees nie.

Ek het vergeet hoe groot en heg my man se familie is. Daar is soveel broers en susters en kinders en kleinkinders dat hulle ’n dorpsaal met ’n diskoteek kon huur – en sonder moeite kon vul. Daar is soveel vasvatvroue onder die susters en skoonsusters en niggies dat hulle die saal lieflik kon versier en ’n viergangmaal aan lang tafels kon voorsit. En om te verseker dat almal, van die jongste kleinkinders tot ouma en oupa, in ’n lekker verspotte luim sou wees, het hulle besluit om ’n fancy dress te hou.

Daar was ’n 9-jarige Ninja-vegter en ’n 14-jarige nar en ’n 19-jarige Charlie Chaplin en ’n 25-jarige cowboy, en vele ander gekostumeerde karakters van alle ouderdomme. Daar was ’n hele paar hippies van so rondom veertig jaar. Daar was ’n 75-jarige boemelaar. En daar was my man wat hom vermom het deur ’n
das te dra.

Laat ek verduidelik. Vir ’n “normale” man is ’n das natuurlik nie ’n vermomming nie, maar ek het my Alain nog nóóit met ’n das gesien nie. Nie eens op ons troudag nie. En omdat ons nie vermommings in ons vakansietasse gepak het nie, moes ons op die nippertjie improviseer. Ek het voorgestel hy dra een van my rokke en ek dra een van sy uitrustings en dan gaan ons as transvestiete, wat’s nou makliker? Maar Alain het viervoet vasgesteek. Sy pa en sy broers sou nóóit ophou om hom te treiter as hy heelaand in ’n rok moes rondwals nie. Toe kies hy maar die teenoorgestelde opsie en trek hom so manlik as moontlik aan, tot
en met die das.

Aangesien ek my ook as ’n dasdraende, besnorde man vermom het, het sommige familielede aanvanklik gewonder wie die nuwe gay paartjie op die dansbaan is. Een van die niggietjies het my na die vrouetoilet gevolg en geskok teruggehardloop om vir my dogter te vertel daar’s iets fout met daai man. Waarop Mia vieserig geantwoord het: “Natuurlik. Daai man is my ma.”

Ons het sowaar regdeur die nag gedans, ek en my man en ons dasse en ons snorre, saam met die minderjarige narre en die middeljarige hippies en selfs die 75-jarige boemelaar. Gróót families, het ek weer eens besef, kan gróót pret wees.