Rubrieke - Marita van der Vyfer

Die mag van die pen

Maar aangesien die begin van ’n jaar tog ’n soort simboliese oomblik is, gaan ek dit nou benut om ’n geheime verslawing te bely. Iets wat ek al dekades lank, wel, indien nie wegsteek nie, dan ten minste verswyg.

Verskoon dus as ek die onderwerp met ’n ompad benader. Dis nie maklik om te bieg nie.

Een van die vreeslikste vreeslikhede is mos wanneer jy ’n ding doen bloot omdat jy daarvan hou – soos om deftige dasse of lang, ingewikkelde oorbelle te dra – en dan, een aaklige dag besef jy daardie ding het “mode” geword. Skielik lyk jy soos daardie spesie wat jy nog altyd heimlik bejammer het: die arme, arme modeslaaf. Die vrou (kom ons wees nou maar eerlik, gewoonlik is die slaaf ’n slavin), wat elke nuwe internasionale neiging blindelings volg, van skoene en sonbrille tot restaurante en reisbestemmings.

Maar daar is iets selfs ergers as om vir ’n modeslaaf aangesien te word. ’n Seisoen later, wanneer die mode oorgewaai het, sit jy steeds met jou lang, ingewikkelde oorbelle. En dan lyk jy, o wee, soos ’n patetiese potjie mosterd ná die maal. Jy wóú in die mode wees, maar jy’t die trein verpas. Siestog.

Jou enigste verweer is om hardkoppig aan jou oorversierings vas te klou tot dit weer mode word. Want mode, soos daardie lastige kat in die liedjie, kom altyd weer. As jy lank genoeg lewe (en genoeg pakplek in jou huis het), kan jy elke enkele kledingstuk wat jy nog ooit besit het, bewaar tot dit weer mode word.

Of elke enkele breipen, in my geval. Hier kom die belydenis nou. Die feit is – diep asemteug en senuweeagtige laggie – ek is ’n breier. Ek brei al van my tienerjare af en ek sal aanhou brei tot ek te seniel word om die steke te tel. Dis net, nou ja, weens die koekerige reputasie van dié beskeie “vrouetaak” doen ek dit al ’n dekade of drie verkieslik nie in die openbaar nie.

En toe ontpop die ouderwetse koekie skielik in ’n byderwetse tertjie. Madonna brei! Omtrent so ongelooflik soos Garbo laughs . En Julia Roberts en hope ander Hollywood-sterre, onder andere ook vreeslike macho-manne wat breikursusse volg en die kalmerende invloed van klikkende breipenne besing. Beter as joga, sug die “mooi mense”, meer pret as paaldans.

Nou sit ek met ’n nuwe probleem. Ek wou nooit ’n muwwerige koekie wees nie, maar nog minder wil ek ’n trendy tertjie word. My vurige hoop is dat die mode so gou soos die meeste ander modes sal oorwaai. Trouens, ek hoop alles sal reeds verby wees teen die tyd dat hierdie rubriek verskyn. Dink net! Madonna se breipenne vir altyd weggepak! Of nog beter, herwin as tradisionele wapens in die moderne stadsvrou se handsak. As sy weer ’n baba wil aanneem, sal hy ’n gekoopte trui moet dra.

Sodat die res van ons, die regte-egte-wol-van-die-aarde-breiers, weer ons breipenne kan uithaal sonder vrees dat ons as terminaal trendy beskou sal word. Sodat ons in vrede verder kan brei terwyl ons gesels, koskook, TV kyk of stories aan stout kinders vertel. Want dís hoe jy ’n regte egte breier van ’n byderwetse nabootser onderskei. Dié van ons wat dit al jare lank doen, doen dit terwyl ons minstens twee ander dinge ook doen. Breiers is gebore multi-taskers. (Dit verduidelik ook sommer hoekom mans so sukkel met brei.)

Terwyl die nabootsers en die nuwelinge se volle aandag opgeëis word deur hul lomp vingers en hul vallende steke en die onverklaarbare kraaineste in hul duur stringe wol. G’n kans om op te kyk nie, wat nog te sê van lekker klets. Nee wat, vergeet dit, wil ek vir hulle sê as ek hulle so sien aankarring. Teen die tyd dat julle behoorlik kan brei, het die mode lankal oorgewaai.

Skenk eerder jul pragtige penne en jul ontwerperswol aan dié van ons wat die pad gestap het. Wat sal aanhou om die pad te stap, peinsend en lesend en luisterend en babbelend, multi-tasking tot die laaste steek toe. Ons weet mos die (brei)pen is magtiger as die mode.