Rubrieke - Marita van der Vyfer

Ewig jonk

Ek hoor my man se onderdrukte snorklag. En toe tref dit my: Dis presies wat ek geword het – ’n middeljarige vrou met ’n spul kinders.

Maar dis nie hoe ek myself sien nie!

Ek dink aan myself as ewig dertig (soos SARIE) en aan my ideale ryding as ’n metaalkleurige sportmodel met ’n afslaankap. Ek sien myself deur die wingerde van die Franse platteland bestuur met die wind wat my blonde hare op ’n aantreklike manier deurmekaarkrap, Ani di Franco se “Amazing Grace” in die CD-speler, ’n boks Belgiese sjokolade verleidelik oop langs my op die leersitplek.

G’n teken van die verwoesting wat kinders in ’n kar kan saai nie.

Ons koester mos almal ’n beeld van onsself wat nogal hemelsbreed verskil van wat ons eintlik is.

My eintlike ryding is ’n krokkerige gesinsmotor met smerige sitplekke vol speelgoed, tienertydskrifte, leë McDonald’s-kardoese en krummels net waar jy kyk. Wanneer ek bestuur, is my hare gewoonlik nie aantreklik deurmekaar (of selfs aantreklik netjies) nie. Ek bestuur terwyl ek my hare kam, my lippe verf, my maskara aansmeer en op die bakleiende kinders skreeu. (Ek móét skreeu om gehoor te word bo die dreunende rap-klanke van die radiostasie wat die tiener op die voorste sitplek gekies het sonder om my toestemming of my opinie te vra.) Dis die harde werklikheid. Dankie tog ons het ons drome.

Soos die meeste mense het ek ook ’n soort blinde kol as ek myself in die spieël beskou. (En ek praat nou nie net van die kar se truspieëltjie wat my gebrekkige grimeerspieëltjie geword het nie.) Dis seker maar ’n vorm van selfbeskerming, ’n oorlewingsmeganisme. Dink net, as ons elke oggend ons plooie moes tel terwyl ons ons tande borsel. Ons sou mos net daar voor die spieël inmekaarsak van depressie.

Ter stawing, ’n staaltjie oor my ouers wat op ’n Sondag in die kerk gesit en opmerk het dat daar heelwat meer bejaardes as gewoonlik teenwoordig is. Seker ’n ouetehuis van iewers, fluister my ma vir my pa. Kort daarna verwelkom die dominee die matriekklas van negentientoet van die plaaslike hoërskool – waar my ma net ’n enkele jaar later ook matriek geskryf het – en my pa draai verlig na my ma en fluister: “Ek wou mos sê hulle lyk almal baie ouer as ons!”

En blykbaar is hierdie blinde kol by die huidige geslag van middeljariges erger as by enige vorige geslag. Middeljarig? Wie, ek? En hoe haat ek nie daardie woord nie! Ons is die eerste geslag wat saam met die rebelse rockgroepe van ons jeugjare oud word. Nie waardig oud word nie, vergeet daarvan, ons skop en skreeu al die pad. Soos die Rolling Stones, wat onlangs weer op ’n wêreldtoer vertrek het – en oupa Keith Richards wat in die hospitaal beland het omdat hy uit ’n boom geval het.

My stiefseun het ’n paar jaar gelede met groot opgewondenheid die musiek van Led Zeppelin en Jimi Hendrix ontdek. Stel jou voor hoe ontnugter hy was toe hy agterkom die “oumense” in die huis het dekades gelede al na dié ouens geluister. Deesdae hang hy en sy pa graag saam in die sitkamer rond terwyl “Stairway to Heaven” of “Wild Thing” oorverdowend oor die luidsprekers dreun.

Persoonlik het ek ’n sagte plek vir Janis Joplin se skor, smeulende stem. Mal daaroor om na haar te luister terwyl ek bestuur – die skaars kere wanneer ek alleen in my kar is, bedoel ek nou – en dan maak dit ook nie eens saak dat dit ’n simpel gesinsmotor met smerige sitplekke is nie. Nee wat, terwyl ek uit volle bors saam met Janis bulder – freedom’s just another word for nothing left to loooose – vergeet ek van my vele kinders en my vele plooie en sommer ook van al my ander probleme.

Dan voel ek waaragtig of ek vir ewig en ewig jonk gaan bly.