Rubrieke - Marita van der Vyfer

Feëverhaal

“Kyk, Mamma, die slakke het die feetjies se brief geëet!”

“Nou wáár kom dít nou vandaan?” wil ek verontwaardig weet. (Terwyl ek blitsvinnig verskonings uitdink.) “Dis seker die wind wat dit weggewaai het. Die feetjies het dit seker misgekyk. Wáárom het jy dit nie onder die roosboom gelos nie?!”

Want onder die roosboom sou ek dit raaksien elke keer as ek by die kombuisvenster uitkyk. Sou ek dit kon red, kon wegsteek in ’n boks hoog op ’n rak, saam met al haar briefies aan Kersvader en die Tandemuis, wat ek nog eendag vir haar sal wys. Maar toe gaan staan en besluit sy, sonder om my in te lig, om die feetjies se brief agter ’n struik in die verste hoek van die tuin weg te steek.

En nou sit ons met ’n geloofskrisis.

“Lieve feekies fan die roesboem,” lees ek toe ek die velletjie papier versigtig uit die klam en verweerde koevert lig, “ek vil ê jile moet by my kom kyer.” (Hier het die slakke ’n volmaakte ronde gat gevreet sodat ek die volgende paar woorde moet raai, maar dis vermoedelik iets soos “sodat ek julle kan sien”.) “Vant ek het nog noit ’n regte feekie gesien nie. Kom sondagmidag fyfuur.”

Om enige moontlike misverstand te vermy het sy haar volle naam, adres en selfs haar telefoonnommer bygevoeg. (Sodat die feetjies haar kan bel?) Intussen het Sondagmiddag gekom en gegaan en die enigste gaste wat opgedaag het, was die vraatsige slakke.

“Miskien kan die feetjies nie lees nie!” soek ek steeds verskoning. “Of dalk praat hulle ’n ander taal?”

Want ek wil hê sy moet so lank as moontlik aanhou glo. In Kersvader en die Paashaas en kabouters en meerminne en eintlik enige ander karakter wat in die land van verbeelding en fantasie gebore is. Peter Pan se Neverland, daar waar kinders nooit groot en sinies hoef te word nie, dis waarvan ons hier praat. Ek is lankal verban uit daardie land, soos alle volwassenes om my, maar solank my laatlam haar paspoort behou, kan ek darem nog op ’n manier in verbinding bly met die verlore paradys.

Jare gelede, lank voor ek self kinders gehad het, het ek na ’n toneelstuk van Peter Pan in die ou Nico Malan in Kaapstad gaan kyk. Ek was die enigste volwassene in die stampvol Saterdagmiddag-saal wat sonder ’n kind aan die hand opgedaag het. Sonder ’n verskoning om daar te wees. Maar dit was ’n tyd in my lewe toe dit vir my nodig was om weer ’n slag in aanraking te kom met my kinderlike kant. En raai, dit het gewerk. Vir die res van my lewe sal ek die oomblik onthou toe die ganse gehoor verbete begin hande klap (ek net so hard soos die res), om te wys dat hulle in feetjies glo. Om te keer dat Tinkerbell se liggie dowwer word.

Want elke keer as ’n kind sê, “Ek glo nie meer in feetjies nie”, dis hoe J.M. Barrie dit in sy tydlose toneelstuk stel, gaan daar iewers op aarde ’n feetjie dood. En elke keer as ’n feetjie doodgaan, dis hoe ek deesdae daaraan dink, is die wêreld ’n bietjie kouer en killer. Meer realisties en rasioneel. Minder verbeeldingryk en kreatief.

Daarom klou ek saam met my kind vas aan haar kinderlike geloof. Daarom stel ek voor dat ons die feetjies vannag probeer nader lok met feetjiekos. Wat sou feetjies eet? wonder ons saam. Heuning en appels, besluit sy. Sy sny ’n appel in popspeel-stukkies, drup heuning bo-oor en los die offerande onder die roosboom. Douvoordag sluip ek buitentoe om van die kos ontslae te raak en ’n boodskap op ’n blou plakpapiertjie te los: Dankie, Mia.

En dit werk sowaar.

’n Paar uur later kom sy stralend aangehardloop. “Kyk, Mamma! As my kinders eendag wil weet of feetjies rêrig bestaan, sal ek hierdie papiertjie vir hulle wys!” En ek sug van verligting, want my dogter het nog ’n paar maande, weke of dae grasie gekry voordat sy ook die land van verbeelding moet verlaat.

Intussen wag ons opgewonde dat die feetjies weer kom kuier.