daniele_niehaus_web
Rubrieke - Marita van der Vyfer

In die sop

En dan praat ons nie eens van die sonbesies wat jou skoon doof kan skree nie.

’n Aanslag op al vyf sintuie, dís waarvan ons hier praat. Die geure en die smake op die oggendmarkte, die oorvloed van vars vrugte en groente, die onvergeetlike tradisionele geregte wat jy met hierdie produkte kan optower. Die onverwagse argumente wat die voorbereiding van hierdie geregte kan ontlok …

Probleem met enige tradisionele gereg is dat die tradisie van streek tot streek verskil, dikwels ook van dorp tot dorp, of selfs van huis tot huis. As elke kok dan boonop heilig oortuig is dat sy eie resep die oorspronklike, onvervangbare, regte, egte ware Jakob is, kan ’n onkundige buitelander soos ek met ’n aaklige kopseer pleks van ’n smaaklike bord kos sit. Soos nou die dag weer gebeur het toe ek my geliefdes wou verras met ’n tipiese en tradisionele somerse pistou-sop.

Pistou is die Provensaalse weergawe van pesto, met ander woorde, jy het vars basiliekruid daarvoor nodig, en sommer baie ook, maar dis lank nie die enigste rede waarom dit ’n somersop genoem word nie. Jy het ook vars tamaties nodig, en murgpampoentjies, en bowenal boontjies. Várs bone, van verskeie kleure en vorms, wat slegs in die somer beskikbaar is. Die resep wat ek by my Franse skoonma geërf het, beveel minstens drie soorte boontjies aan, rooies, wittes én groenes, maar vermeld geen presiese hoeveelhede nie.

G’n probleem nie, dog ek ewe dapper, ek gaan gou die groente op die oggendmark koop en dan vra ek sommer so om my rond vir ’n resep.

Gróót fout, weet ek nou.

Die vrou met die gekleurde blonde hare en fris bo-arms wat die groente verkoop, raai my sonder aarseling aan om dieselfde hoeveelheid van al drie soorte boontjies te gebruik. “Non! Non!” roep ’n tannietjie links van my uit, so klein dat sy onder my elmboog kan inpas, en ek skrik so vir die dringende klank in haar stem dat ek amper die mandjie vol boontjies laat val. Pistou-sop vra méér wit en rooi bone, heelwat minder groenes. En moenie die fèves vergeet nie, tjip ’n ander tannie van agter af in. Sonder ’n hand vol fèves, dis nou daardie lekker plomp botterbone, is g’n pistou-sop sy sous werd nie.

“Quoi?” roep die kaboutertannie aan my linkerkant uit. Sý maak al dekades lank pistou-sop sonder botterbone, en niemand het dit nog ooit gewaag om vir haar te sê haar sop is nie sy sous werd nie!

Wag nou, keer ’n jonger vrou laggend, dis mos nou nie nodig om oorlog te maak oor ’n pot sop nie. Háár ouma het geglo jy kan maar die groenboontjies ook uitlos. Jy gooi net bietjie meer basiliekruid by.

Nou lyk die tannie agter my asof iemand haar met ’n pot sop oor die kop gegooi het. Skoon verdwaas van skok. Dis tog nie móóntlik om so ’n dis sonder groenboontjies te maak nie, prewel sy. Terwyl die kaboutertannie omdraai om ’n verdere opinie in te win: “En jy, Marie-Claire, hoe maak jy jou pistou-sop?”

Dis op hierdie punt dat ek besluit om weg te sluip.

Hulle kom nie eens agter ek is nie meer daar nie. Terwyl ek ’n ent verder by ’n sypaadjie-kafee sit en koffie drink, hoor ek steeds die ontstoke stemme om die groentetafel. Dit klink of minstens tien tannies teen dié tyd aan die sop-oorlog deelneem.

En pistou-sop is veronderstel om ’n eenvoudige gereg te wees. Enigiets meer ingewikkeld – sê nou maar bouillabaisse, die befaamde vissop van Marseille – sou moontlik ’n burgeroorlog kon ontketen.

Ek het toe nooit die sop gemaak nie. Ek weet stééds nie wát alles in ’n regte, egte pistou-sop hoort nie. Ek weet net ek sal nóóit weer by ’n Provensaalse oggendmark vir enige tradisionele resep loop soek nie.

Dis nie resep soek nie, dis moeilikheid soek.