Rubrieke - Marita van der Vyfer

Laat die vonke spat

Maar dit bly ’n belangrike beroep. (Hóé belangrik het ek onlangs eers besef.) In Frankryk moet jy jaarliks jou skoorsteen laat skoonmaak as jy jou kaggel wil  gebruik, en moenie dink jy kan dit sommer self met ’n leer en ’n langsteelbesem probeer doen nie. Dit gaan oor papiere – soos omtrent alles in Frankryk. ’n Amptelike skoorsteenveër moet vir jou ’n amptelike sertifikaat gee, anders betaal die versekering nie indien jy die slagoffer van ’n brand sou wees nie.

Maar dit kos die prys van ’n Bosveldplaas – soos omtrent alles in Frankryk – om jou skoorsteen amptelik te laat skoonmaak. Daarom het ons dit nie die afgelope winter gedoen nie. Wel, om eerlik te wees, ook nie die vorige jaar nie. (Om hééltemal eerlik te wees, ek kan nie onthou presies wanneer laas ons skoorsteen skoongemaak is nie.)

Hoe ook al, ons het die hele winter, sonder enige probleme, ons kaggel benut. Totdat een van die tienerseuns op ’n aand ’n stewige stoel stukkend gesit het. (Is
dit te wyte aan ’n hormonale wanbalans? Of is dit net óns tienerseuns wat alle stoele so op die twee agterpote laat wieg?) Ek was lelik ontstig oor my verwoeste
stoel, maar my pragmatiese man het sy skouers opgetrek en voorgestel dat ons dit as vuurmaakhout gebruik.

Ek wou nog kapsie maak dat ons darem nie só armlastig is dat ons ons eie meubels moet verbrand soos die burgers van Stalingrad in die Tweede Wêreldoorlog
nie, toe herinner hy my dat ek onlangs op hierdie einste bladsy gepreek het oor die byderwetse nuwe sjiek van suinigheid. Oor hoeveel beter dit is om iets weer te gebruik eerder as om dit weg te gooi. So waarom nie ’n stukkende stoel weer gebruik om hitte aan ’n koue huis te verskaf nie?

Wel, nóú weet ek waarom nie, maar kennis kom mos altyd te laat. Die hout van die meubelstuk was vermoedelik behandel met ’n chemiese middel wat ons
onskuldige kaggelvuurtjie oombliklik in ’n angswekkende hellevuur laat verander het. Die brullende vlamme is hoog in die skoorsteen opgesuig, en toe spat die vonke, letterlik en figuurlik, in alle rigtings. Binne sekondes was die hele sitkamer so vol rook dat ons hoesend en proesend die vertrek moes ontruim om die brandweer te bel. My heldhaftige man het die deur toegemaak om te keer dat die rook verder versprei en toe op sy eie die vlamme probeer blus. (Wel, dit was sý idee om die stoel aan die brand te steek.)

Gelukkig het hy die situasie onder bedwang gekry, want ons het lánk gewag vir die brandweer. Trouens, ons het al begin om ons aandmaal te eet, flou van die honger ná die groot skrik, toe drie brandweermanne oplaas by die voordeur instrompel en iets soos Ouêfeah! skreeu. Of dalk was hulle vroue. Ek sal nie weet nie, want hulle was geklee in geslaglose ruimtevaarderpakke met diepseeduikmaskers en suurstoftenks op die rug. Die maskers het dit onmoontlik gemaak om te verstaan wat hulle sê, maar ons het later uitgewerk hulle wou weet waar’s die brand.

Brandweermanne, soos skoorsteenveërs, is helaas ook nie meer wat hulle was in die rolprente van my kinderdae nie. Ek dog hulle gryp net hul rooi jasse en gly so rats soos sjimpansees teen ’n paal af tot in die wagtende brandweerwa. Nooit besef hulle dra deesdae sulke swaar beskermende uitrustings dat hulle omtrent nie kan stap nie, wat nog te sê teen ’n paal afgly. G’n wonder ons het so lank gewag nie. Die hele Frankryk kan afbrand terwyl ’n Franse brandweerman sy masker en sy helm en sy suurstoftenk en al sy ander toerusting bymekaarkry.

Die goeie nuus, het die ruimtevaarders ons meegedeel terwyl hulle die koue as in ons kaggel bestudeer, is dat die skoorsteen nou so mooi skoon gebrand is dat ons nie ’n skoorsteenveër se dienste benodig nie.

Nou wonder ons, siende dat suinig so sjiek geword het, of ons nie volgende winter wéér die skoorsteenskoonmakery kan vermy deur bloot ’n stukkende stoel in die kaggel te gooi nie?