Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita blog oor haar nuwe kosprogram: “Merci, merci, merci!”

Marita van der Vyver is die gasvrou en aanbieder van die reeks waarin hulle Suid-Afrikaners wat in die suide van Frankryk woon en werk besoek en heerlik saamkook. Die span is Marike Bekker, Antoinette Goosen, Jacques Goosen en David Swart. Lees gerus die produksieblog om op die hoogte van sake te bly. Marita se kookboek, Somerkos in Provence, verskyn binnekort op die rakke.

Marita deel haar blog met sarie.com:

Woensdag 25 Augustus
Terwyl die opgewondenheid onder die Suid-Afrikaanse TV-span begin opbou soos ‘n Hoëveldse donderstorm, sit ek op die Franse platteland (waar almal om my steeds somervakansie hou), vasgekluister aan my rekenaar. Voordat Marike en Kie. oor presies twee weke hierheen vlieg, moet ek nog ‘n vrag rubrieke, artikels, kortverhale en wat nog alles klaarkry vir sperdatums in September. Want as die span eers hier is, gaan die poppe dans, die vonke spat en die hare waai terwyl ons aanmekaar reis en kook en kuier. Daar gaan beslis nie tyd wees vir rustig sit en skryf voordat ons die hele reeks klaar geskiet het nie.

Om alles erger te maak, het ons die gewone vloed van somergaste. Oorslaapgaste, kuiergaste, eetgaste, drankie-drink-gaste. Die afgelope twee weke moes ek en Alain elke dag, twee keer ‘n dag, minstens tien monde voer. En daarna skottelgoed was, opruim, kos koop vir die volgende kooksessie, weer begin kook… Goeie oefening vir MaritaKook, meen my man. Gimme a break, dis wat ek dink.

Hoop die gaste het intussen soos mis voor die son verdwyn, skryf Antoinette ewe hoopvol uit SA. Nee, Antoinette, hulle word steeds onverklaarbaar meer, soos die Bybelse visse en brode. (Om nou by ons kostema te hou.) En nou moet ek dadelik groet en ‘n paar eiervrugte in die oond gaan druk vir die caviar d’aubergine wat ons vanaand aanbied, saam met gevulde olywe en growwe patee en baie brood, vir ons volgende sessie gaste wat oor twee uur opdaag vir die lewensbelangrike Franse tradisie van l’apéro.

Dié van julle wat nie weet wat l’apéro is nie, moenie bekommerd wees nie, ons sal dit in ons kookreeks verduidelik. Watch this space…

Donderdag, 26 Augustus

Kyk, om op my ouderdom vir die eerste keer ‘n TV-aanbieder te word, is waaragtig nie perdekoop nie. Dit maak my lus om te koop en geld uit te gee, maar beslis nie op perde nie.

Nee, die afgelope maand of twee word ek aanmekaar in die versoeking gelei deur die onmoontlike beloftes van skoonheidsprodukte, al daardie roompies en vloeistowwe wat veronderstel is om jou binne twee weke twintig jaar jonger te laat lyk, al daardie advertensies in vrouetydskrifte waaroor ek nog altyd ietwat sinies geglimlag het. Want ‘n TV-kamera is wreed, sê almal wat weet.

Ek wonder selfs of ek nie ‘n kilo of drie moet probeer afskud voor ons begin om ons kookreeks te skiet nie – want die TV-kamera laat jou maklik vyf kilos vetter lyk, sê almal wat weet. Ek wonder of ek nie my hare nóg korter moet knip nie, want stomende kastrolle en warm oonde kan vreeslikee dinge met ‘n vrou se haarstyl doen, en daar gaan nie tyd wees om tussen elke twee takes na ‘n kam of ‘n borsel te gryp nie. Sê almal wat weet. Ek het selfs al vlugtig gewonder of ek nie my lippe moet laat tattoeëer en my wimpers permanent moet kleur nie, dan hoef ek nie nog met grimering ook te bodder as ons eers aan die skiet is nie. Want volgens almal wat weet, moet mens beslis nie ‘n TV-kamera sonder professionele grimering aandurf nie.

Enough already, wil ek uitroep. Dis ‘n kosreeks dié, dis nie Sex and the City nie! Hoe op aarde kan mens gewig verloor terwyl jy aan ‘n kosreeks werk?!? Ek is nou al weke lank besig om geregte te toets en ‘n dosyn gaskokke te help om hulle spyskaarte te kies. Ek eet nie net kos nie, ek leef en slaap op die oomblik ook kos. En selfs al sou ek ook op een of ander wonderbaarlike manier oornag vyf kilos afval (‘n nare maagaandoening? Nee wat, só graag wil ek nou ook nie gewig verloor nie), sal ek dit in elk geval dadelik weer optel as ons eers aan die reeks begin skiet.

Ons gaan ‘n maand lank kos kook, kos verfilm, kos gesels en – natuurlik! – ook kos eet. My mond water en my maag knor as ek net die spyskaarte lees wat die gaskokke vir my stuur. Nee wat, ek neem my nou plegtig voor om van ydelheid te vergeet. Ek gaan die hele affêre geniet, dis wat ek gaan doen. Dit klink in elk geval vir my soos die beste manier om te verseker dat toekomstige kykers dit ook geniet.

Vergeet van Sex and the City, mense. Glo my, ons gaan vir julle iets baie beters gee: Food and the French countryside. Lek solank julle lippe.

Dinsdag, 31 Augustus

KOOK SAL ONS KOOK
Die lekkerte van ons voortdurende stroom somergaste is dat ons die kans kry om baie van die resepte in ons komende kookboek weer ‘n keer te beproef. Nog ‘n onverwagse lekkerte is dat sommige van die gaskokke in die komende TV-reeks besluit het om dieselfde resepte, of interessante weergawes daarvan, voor die kamera te kook – en dit sonder dat hulle geweet het die resepte is in die boek opgeneem. Vir my net nog ‘n bewys dat ons die regte resepte vir die boek gekies het – en die regte gaskokke vir die reeks!

Twee weke gelede het ons byvoorbeeld vir ‘n paar Amerikaanse gaste ‘n tradisionele Provensaalse pissaladière voorgesit – ‘n lekkerny wat Leona en Jean Bodart van Cannes binnekort vir die reeks gaan aandurf. Want Cannes is aan die Franse Riviera waar hierdie deegdis met ansjovis en swart olywe en ‘n hele hoop uie ontstaan het en oorspronklik as ontbytkos deur bakkerye verkoop is. En laas week het ons ‘n Provensaalse tian vir ons kinders en ‘n klomp van hulle vriende gebak – ‘n groentedis, familie van die meer beroemde ratatouille, wat Isabelle van Lasseube later in die reeks gaan maak. Hoewel die name van die disse dalk vreemd klink, is dit in alle gevalle maklik genoeg om te maak met bestanddele wat geredelik beskikbaar is in Suid-Afrika. Dit was die vernaamste voorwaarde vir al ons gaskokke se spyskaarte.

Ons twee ‘proefkonyn-gaskokke’ is my seun Daniel en sy Franse vriendin Noèmie Jarniac,  wat albei pas begin studeer het aan die Universiteit van Grenoble. Hulle episode word eerste geskiet, die dag nadat die TV-span hier aankom, met die idee dat ons almal mekaar kan leer ken en die onvermydelike tandekry-probleme kan uitstryk voordat ons in onbekende kombuise beland. En aangesien hulle die pioniers moet wees, het ek hulle laas week gebied om hulle tamatietert en vrugte-weergawe van ‘n tiramisu voor my oë te kom maak. Van die begin tot die einde. Ja, selfs die brosdeeg vir die tamatietert wou ek hulle self sien vervaardig – hoewel ons in die reeks sal toegee dat haastige kokke maar die klaargemaakte deeg in ‘n winkel kan gaan koop. Hulle het sommer twee variasies van dieselfde tert gemaak, seker net om my stil te kry, en ná ek dit geproe het, was ek sowaar tjoepstil. Ons het dit dieselfde aand as voorgereg geëet, saam met ‘n ander befaamde Franse gereg, hoender met 40 knoffelhuisies. Wat veel vriendeliker smaak as wat dit klink, glo my gerus. Ons was 10 mense om die tafel onder die plataanboom, en daar het nie ‘n krummel van die twee terte of ‘n happie van die hoender oorgebly nie. En toe die gaste na die kaasbord steeds so ietwat peuselrig lyk – dit was weer eens ons kinders se vriende, uitgehonger ná ‘n week van kampeer langs die see – moes ek vinnig opspring om ‘n vrugteslaai te gaan optower.

Gelukkig het ander vriende uit Engeland, op pad na die Franse eiland van Korsica, die vorige dag twee kiste van die sappigste, lieflikste appelkose en perskes in ons streek gekoop en dit as pasella vir ons gelos. Ek kon hierdie vrugte as basis gebruik saam met wat ek ook al verder in die kombuis kon bymekaarskraap – ‘n appel en ‘n paar pruime, ‘n tros druiwe en ‘n bakkie bessies, ‘n halwe spanspek van Cavaillon – en alles in my mooiste glasbak meng. Woerts-warts gemaak, woerts-warts verslind, alles behalwe die glasbak.  Genoeg om enige lui gasvrou te laat grinnik van genot.      

Met die oorblywende appelkose en perskes het ek en Alain oor die naweek soet terte gebak en nog soeter konfyt gekook.

Dankie tog die somervakansie is amper oor. Vakansie? Vir wie nogal? Dankie tog die TV-span kom oor 10 dae.  Ek weet ek gaan nie wegkom uit kombuise nie, maar dit gaan minstens ander mense se kombuise wees. En hulle sê mos ‘n verandering is so goed soos ‘n vakansie?

1 September
Sien is glo

Sien is glo, sê hulle mos. Net ingeval julle my nie wil glo oor al ons gaste en die vreeslike gekuier en gekook en geëet en gedrink wat elke somer hier by ons gebeur nie, stuur ek vandag ‘n paar foto’s van verskillende kuiers om verskillende tafels in die buitelug. Elke prentjie skilder ‘n duisend woorde, of hoe?
Wel, die eerlike rede vir die prentjies is dat ek eenvoudig nie vandag tyd gaan hê om ‘n duisend woorde vir die blog te skryf nie.
Ek en Marike is besig om die ‘looporde’ van elke afsonderlike episode agtermekaar te kry. (Dis nou hoe dit gaan lyk as julle dit vroeg volgende jaar op julle kassies kyk.) Nooit geweet dis so baie werk om ‘n TV-episode van ‘n skamele halfuur op die lug te kry nie! En hierdie halfuur sluit 6 minute van advertensietyd in, dus is ons bydrae in werklikheid beperk tot 24 minute – maar daar sit weke van voorbereiding en ure van skiet agter elkeen van daardie minute. 
Somerkos in Provence Somerkos in Provence Somerkos in Provence
Somerkos in Provence Somerkos in Provence

Saterdag 4 September
As die weer saamspeel
 
Toe ek eergister wakker word, dog ek ek het oornag doof geword. Alles was so vreemd stil om my, asof my kop in watte toegedraai is. Toe besef ek: nee, dis net die mistral wat ophou waai het.

Ná dié naarste van alle nare winde weer dae lank soos ‘n stout kind om die hoeke van die huis gekerm het, het hy homself skynbaar uitgewoed en rustig gaan lê. Nie ‘n oomblik te vroeg nie, want ek het vaagweg bekommerd begin word dat die wind steeds teen 100 km/u gaan waai as die TV-span volgende week opdaag. Dis natuurlik nie onmoontlik om buitetonele in ‘n wind van 100 km/u te skiet nie, maar dis wraggies nie aangenaam nie. Ons is veronderstel om vrolike somerse tonele by markte en hawens te verfilm. Ek wil nie lyk soos ‘n CNN-joernalis wat oor ‘n orkaan verslag lewer nie.

Aan die ander kant, as die wind nou opgehou waai het, kan dit dalk oor ‘n paar dae weer begin – net mooi wanneer ons die eerste episodes moet skiet.   

Nee, kyk, nou skryf ek myself skoon benoud. Die weer bly een van die groot onsekerhede in so ‘n TV-reeks. September is veronderstel om ‘n goeie maand te wees vir verfilming – nie meer so ondraaglik warm nie, maar nog ver van koud; die omgewing lyk nog na somer, maar alles is rustiger met die ergste toeriste-bedrywigheid agter die rug – maar in Europa kan jy nooit té seker van die weer wees nie. Soms stortreën dit onverwags ‘n paar dae lank – en hier in die vallei van die Rhone-rivier is die mistral altyd ‘n onvoorspelbare element. Somer of winter, as hy wil waai, sal hy waai.

Ek troos myself dat ek met ‘n ervare TV-span gaan werk wat kan improviseer wanneer dit nodig word. En gelukkig word die kern van elke episode rondom die stoof in ‘n kombuis geskiet – waar selfs die moedswilligste wind ons nie kan pla nie. En as ons soms binnenshuis eerder as buite op ‘n stoep of in ‘n tuin moet eet, is dit tog ook nie ‘n treinongeluk nie. Solank ons nie elke dag deur reën of wind getreiter word nie…

Intussen hou ek elke aand die weervoorspelling op TV met selfs meer belangstelling as gewoonlik dop – en net vir ingeval, sal ek ‘n reënjas en ‘n warm windjakker ook in my tas pak wanneer ons binnekort die pad vat na ons gaskokke se kombuise.

Saterdag 8 September
D-dag minus 1

Laat ons begin met die goeie nuus. Die wind het opgehou waai en gaan blykbaar nie binne die volgende dag of drie weer te wild waai nie. Groot sug van verligting.
Maar (daar’s altyd ‘n maar, nè) die afgelope twee nagte is ons omgewing geteister deur woeste storms van donderweer en blits en reën, so erg dat riviere gedreig het om te oorstroom en meer as ‘n duisend toeriste in die middel van die nag hulle tente en woonwaens in kampeerterreine moes ontruim. Maar (nog ‘n maar, dié keer ‘n positiewe een) ons TV-span hoef darem nie te kampeer nie. Só beperk is KykNet se begroting darem nie. 
En terwyl ek hier sit en skryf, met die wete dat die span reeds in Frankryk geland het, het die son pas deur die wolke gebreek en die landskap lyk so kraakvars soos skoongewaste lakens aan ‘n lyn. En volgens die weervoorspelling gaan die volgende week heerlik sonnig met hoogstens ‘n paar wolke wees. 
Intussen is alles so reg soos dit ooit sal wees vir môre se eerste kooksessie. Ek was effens besorg dat ons nie vars frambose vir Noèmie se vrugte-tiramisu en klein kersietamaties vir Daniel se souttert gaan opspoor nie, maar die frambose kon ek vanoggend op ons dorpie se piepklein weeklike markie kry en die kersietamaties by die traiteur op ‘n buurdorp waar ons ook môreoggend ‘n stukkie gaan verfilm. (‘n Traiteur is soortgelyk aan wat ons in Suid-Afrika ‘n delicatesse sal noem.) Die bakkery waar ons wou verfilm, is weliswaar gesluit vir hulle jaarlikse vakansie – maar gelukkig is ‘n goeie bakkery nooit té moeilik om op die Franse platteland te vind nie. 
Wie’s dit wat gesê het een van die verskille tussen die Britte en die Franse is dat die Britte twee keer ‘n week brood koop – en die Franse twee keer ‘n dag?     
Dís waaroor ons môre voor die kamera gaan praat. Oor die Belangrikheid van Brood. En ander net sulke  lewensbelangrike kulinêre sake. 
As ek weer skryf, sal die eerste episode in die blik wees – en my nerwe hopelik minder aan skerwe! 

Saterdag 11 September 
Wat is ‘n huis sonder ‘n suster?

Noudat ons eerste episode agter die rug is, vertel hulle my met groot verligting watter waagstuk dit eintlik was om my te vra om aanbieder van die reeks te wees… Asof ek dit nie geweet het nie!  Asof ek nie al weke lank snags wakker lê en wroeg oor die las wat op my skouers rus nie! 

Kyk, ek was darem al dikwels op TV, maar dit was nog altyd aan die ‘maklike’ kant. Gewoonlik moet ek bloot die vrae antwoord wat TV-aanbieders my vra oor my boeke of my lewe in Frankryk of wat ook al. As die onderhoud flop, só het ek myself nog altyd getroos, is dit mos nie my skuld nie. Dié keer, het ek voor my siel geweet, moet ek as aanbieder sórg dat die onderhoud werk. En nie net ‘n enkele onderhoud nie, maar ‘n hele ingewikkelde reeks waar ‘n groot verskeidenheid van mense betrek moet word! 
Dis waarom ek in so ‘n toestand was voordat ons eergister begin skiet het. Dis waarom ek my sus Hanna gesoebat het om my hand te kom vashou, om my net deur die eerste dag of twee te kry, te help groente skil en moed inpraat. En sy het sowaar gekom – al die pad uit die verre Namibië. Vergeet die moeder, wat is ‘n huis sonder ‘n suster? Vra ek julle vandag met trane in my oê.

En toe ek ná die eerste laaaang dag voor die kameras die TV-span se gloeiend gunstige verslag kry – A star is born, SMS Antoinette my so ewe – het ek en Hanna geskaterlag van verligting. Bietjie oud om nou eers gebore te word, het ek vir my sus gesê, maar nou ja, liewers laat as nooit nie, nè. En toe herinner sy my aan daardie sin uit een van Cat Stevens se liedjies waarna ons jare gelede aanmekaar geluister het: Look at me, I’m old but I’m happy… 

Dankie, Hanna. Ek dra hierdie episode op aan jou.

Maandag 13 September
Vier is verby

 
Vier verby – nog nege wat kom. Maar aangesien ons eerste vier kooksessies voor die kamera seepglad verloop het, is ek nou vol moed vir die nege wat nog verfilm moet word.  Wel. seepglad is dalk nie die regte woord vir ‘n kookprogram nie. Botterglad klink beter, of hoe?

Daar is natuurlik altyd die onvermydelike iets wat skeefloop – maar teen hierdie tyd beskou ek dit as die kruie wat die gereg net interessanter maak. In ons eerste sessie met Daniel en Noèmie was die bakker wat ons wou gebruik mos met vakansie, maar gelukkig kon ons blitsig ‘n ander bakker vind wat maar net te gewillig was om vir ‘n TV-program verfilm te word. Kort voor die tweede sessie met Alain het ek amper my wysvinger afgesny toe ek met ‘n te skerp sker ‘n stukkie leer van Mia se sandaal wou afknip – en dis onmoontlik om ‘n onooglike pleister weg te steek op die vele nabyskote van hande wat ‘n kosprogram vereis – maar hulle sê mos dis hoe jy ‘n ‘regte’ kok uitken – aan die snye en brandmerke en al die ou wonde aan hulle hande. Ek voel steeds nie soos ‘n ‘regte’ kok nie – maar nou begin my hande minstens soos ‘n regte kok se hande lyk.

Gedurende Alain se sessie was die grootste probleem die hitte. Ons moes die kombuisdeur toemaak teen die straatgeraas, en die kameraligte was warm, warm, warm. Die sweet het letterlik by my arme man se gesig afgedrup. Ons moes ‘n spesiale vadoek byderhand hou om kort-kort sy glansende voorkop af te vee, anders het die weerkaatsing sweerlik te erg geword vir die kameraman se oë…

Vandag, terwyl ons in Cannes saam met David Malan en sy mooi vrou Stephanie gekook het, moes David met ‘n vlymskerp mes ‘n stuk beesvleis in fyn velletjies sny vir sy carpaccio – en voila, daar sny die kok toe sy vinger raak voor die kamera. Bloed wat spat en pleisters wat dringend gesoek word – en die enigste pleisters wat Stephanie opspoor, is vir hulle 3-jarige seuntjie gekoop, met prettige prentjies van drake en blommetjies en monsters. Toe werk ons maar die draak-pleister by die program in. Terwyl ek en David voor die kamera ons wonde vergelyk, soos wafferse oorlogsveterane, het ek nogal soos ‘n ‘regte’ kok begin voel.

Gister by Leona en Jean, ook aan die Riviera, het ons dit sowaar reggekry om van die croutons in die oond te vergeet en toe kom hulle ‘n bietjie te bruin uit. (Nie verbrand nie hoor. Net ‘n bietjie bruin vir die kamera.) Gelukkig was daar darem genoeg wat fotogenies genoeg was om bo-op die bakkie geroosterde broodjies te rangskik en saam met die rouille in die vissop te week. En was die vissop nie smullekker nie!

En vandag het ‘n bakkie van David se gestolde tamatiesap (vir sy sjiek mozzarella-en-tamatieslaai ‘with an edge’) uit die yskas geval toe die deur oopgemaak word. Die hele vloer vol skerwe, die hele yskas rooi van die tamatiesap – maar gelukkig het die kameras nie gedraai nie en gelukkig was daar nog vyf ander bakkies om voor die kameras te gebruik. Gelukkig is daar altyd ‘n maar, nè.

Hou hierdie blog dop vir verdere voorbeelde van krisisse en katastrofes in die lewe van ‘n kuierende kosprogram-aanbieder. Dit kan dalk net erg opwindend word.

Skep ‘n slag asem
Donderdag 16 September

Sjoe! En nog ‘n sjoe. Ná vyf dae op die pad en met altesaam vyf episodes ‘in die blik’ kry ek vandag ‘n kans om by my eie huis tot verhaal te kom. Ek wou sê om asem te skep, maar die yskas is leeg en die wasgoedmandjies loop oor en die hoop strykwerk raak al amper aan die dak. David, waar is jy noudat ek jou nodig het? (Toe ek in Cannes ‘n baadjie moes stryk voordat die kameras begin draai, gryp ons gasheer David Malan die kledingstuk by my en stryk dit blitsig en beter as wat ek dit ooit sou kon doen. Hy was mos op sy dag ‘n butler, sien. En het dít my nou imponeer! ‘n Man wat nie net kan kook nie maar ook kan stryk!    

Vandag moet ek egter self deur my gesin se strykwerk ploeg – en wasgoed was en kos koop en al die ander dinge wat nodig is om die huis aan die gang te hou voordat ek môre weer in die pad val vir meer as tien dae saam met die TV-span. O ja en dan is daar ook nog die maandelikse rubriek vir Sarie wat weggestuur moet word en ‘n magdom e-posse wat beantwoord moet word en al die ander agterstallige administratiew take. 

Julle sal my dus vergewe as ek nie ‘n lang storie skryf nie, net ‘n paar foto’s pos wat die afgelope paar dae geneem is om almal weer ‘n slag ‘in die prentjie te bring’, soos die Engelse sê. Hopelik sal ek die naweek naby die warmwaterbronne van Vals les Bains weer ‘n skryfkansie kan afknyp.

Ek soek frambose vir Noèmie se vrugte-tiramisu en kersietamaties vir Daniel se souttert by ons naaste klein oggendmarkie.

Die kookspan – en my sus Hanna wat kom help het – sien vir die eerste keer my en Alain se kosboek, Somerkos in Provence, wat die TV-span vir ons saamgebring het.

Kameras, ligte… aksie! Ons sweet onder die ligte, maar probeer koel lyk en kalm bly.

Daniel lag tog te lekker (verleë? ingenome?) terwyl hy die TV-span se geesdriftige blog oor ons kooksessie lees  ons kook frans

Sondag 19 September
Oor die helfte
 

Vandag het ons so heerlik kuier-kuier saam met ons liewe vriende Annemarie en Jaap die halfpadmerk van ons kookreeks oorgesteek. Sewe van die 13 episodes is nou geblik – en tot ons vreugde is elkeen anders, uniek, spesiaal.
 
Die sewende episode het rondom vakansiekos gedraai, omdat Annemarie en Jaap al jare lank in hierdie ou kliphuis in die heuwels van Vals les Bains kom vakansie hou. Ek het gistermiddag al saam met Alain en Mia deurgery om die aand rustig saam met hulle deur te bring voordat ons vandag voor die kameras sou begin kook. Ons het op ‘n buurdorpie gaan eet – die skilderagtige Antraigues wat aan die rand van ‘n hoe” krans klou en waar Jacques Brel glo gereeld vakansie gehou het – en half per ongeluk (of geluk!) beland in ‘n restaurant met ‘n eienares wat sweerlik in ‘n storieboek hoort. So ‘n bruuske Madame wat jou nie eintlik wil vertel wat op die spyskaart is nie, ‘want julle het in elk geval nie ‘n keuse nie, julle moet die volle spyskaart bestel, daar’s niks anders nie’, en met jou raas as jy nie jou bord leeg eet nie. Of, bewaar jou siel, ‘n happie te veel kaas afsny – soos die arme Jaap wat behoorlik onder haar skerp tong moes deurloop.
 
Ons het soos stout koshuiskinders gegiggel, aangepor deur twee bottels rooiwyn van die plaaslike Ardeche-streek, en nogal nie te veel gesukkel om ons borde blinkleeg te los nie. Al vyf gange van die ete was smaaklik, van die charcuterie waarmee ons begin het (growwe patees en die fantastiese droe” wors waarvoor die Ardeche bekend is) tot by die nagereg van vars frambose met room. En in hierdie era van beeldskone jong kelners met spierwit tande en vals glimlagte is dit ‘n vreemde soort plesier om deur so ‘n kort en plomp en onaansienlike kwaai ‘tannie’ bedien te word. Amper so lekker soos wanneer jou ma in jou eie huis vir jou opskep terwyl sy heelpad kla en raas.
 
Na die aandete het Annemarie en Jaap en Alain nog verder gekuier en selfs aan die dans geraak, maar ek het ewe voorbeeldig gaan inkruip want ek het geweet ons moet weer voor sewe vanoggend opstaan. Dit bly vir my die heel moeilikste deel van hierdie verfilming – die douvoordag se opstanery. (En seweuur is laaaat in vergelyking met al die oggende die afgelope week wat ek vieruur of halfvyf uit die bed moes wees.) Dis ook die vernaamste rede waarom ek nou dadelik gaan slaap. Die sagte donsduvet op die bed roep my op my naam: Maritaaaa…
 
More moet ek weer voor dagbreek op die been wees om saam met Annemarie en Jaap na ‘n plaas te ry waar bokmelkkaas gemaak word. En dan vat ek die pad saam met die TV-span, rigting Arlanc, na Pierre en Johan se gastehuis. Goeienag en lekker slaap.

Vrydag 24 September
Rose in die reën
 

Vir vandag se kooksessie het ek my cashmere-truitjie en my stringetjie pêrels uitgekrap, want ons kuier by deftige mense. Anet Vosloo organiseer vir ons ‘n Frans-Afrikaanse weergawe van die Engelse ‘high tea’ – genoeg soetgebak om ‘n suikertand soos ek heeldag in die sewende hemel te hou –  met die onontbeerlike hulp van haar glamorous buurmanne Louis en Hardy.
 
Hierdie twee se imponerende château-tuiste en oorweldigende gasvryheid het al vele Suid-Afrikaners na die dorpie Boussac en omstreke gelok. Gisteraand het ons TV-span weer van daardie befaamde gasvryheid geproe. Dit het enorme wilskrag gekos om op te hou eet en drink (preietert, aartappeltert, pienk sjampanje, pienk wyn, armagnac, say no more) en vroeg(erig) te gaan slaap sodat ons vars kan wees vir vandag se verfilming.
 
Anet noem haar huis ‘die rooshuis’ en ons tema is rose – in die tuin, op die teekoppies, teen die mure van die kombuis, in vase oral in die huis, selfs op Anet se uitrusting! Ek wil graag saamspeel en ook my rooshempie aantrek, maar die weer wil nie saamspeel nie. Ja, net toe ek begin dink al my wroegings oor die wispelturige Franse weer was pure verniet… toe haal die reën ons in. En nie sommer ‘n ligte buitjie nie, hoor. Dit het laas nag behoorlik gesous hier in Boussac. Toe ek vanoggend deur Louis en Hardy se tuin tot by Anet se kombuis moes stap, moes ek deur modder ploeg en oor waterplasse spring.
 
Gelukkig is Anet se kombuis (pas ‘oorgedoen’ met sjiek grys-en-swart muurpapier waarop prentjies van Parys pryk) heeltemal mooi genoeg vir binnenshuise verfilming. En noudat ons halfpad deur die dag se skietery is, wil-wil dit lyk of die reën minder word en die son begin deurbreek. Ons sal seker nie ons koekpartytjie in die roostuin kan verfilm nie, maar Louis het belowe hy gaan vir ons ‘n uitspattige tafel in die huis dek. Over the top, het ons vir hom gesê – en Louis se oë het dadelik begin glinster oor hierdie gawe opdrag. My oë glinster ook sommer by voorbaat want met ‘n bekende skilder in die rol van tafelversierder gaan ons beslis die sjoe-faktor hê.  Over the top!

Dinsdag 28 September
Nog ‘n bietjie sluimer…

O wat is die slaap ‘n wondersoete ding… Of so iets, as ek reg onthou.

Dis in elk geval die gedagte waarmee ek gisteroggend in my eie bed in my eie slaapkamer wakker geword het, ná amper 10 dae van reis en kook en kuier in ander mense se kombuise en huise. My liewe man en dogter het my die naweek in Aurillac by Marcia Gerber se lieflike kliphuis kom oplaai sodat ek twee dae tuis kan ‘rus’ (lees huis skoonmaak, wasgoed was en dringende skryfwerk afhandel) voordat ek Woensdagoggend douvoordag die trein vang na Pau, waar ons die laaste 2 episodes van ons kookreeks in die streek van die Baske gaan verfilm.

Ná soveel oggende van opspring in die donker en oor onbekende meubels struikel terwyl ek die sigbare tekens van uitputting op my gesig met grimering probeer wegtoor (voordat ons in die pad val vir ure van ry of ure voor die kameras staan en kook), was dit ‘n onbeskryflike luukse om net op my sy te draai en my oë te sluit vir nog ‘n bietjie sluimer. G’n kameras vandag nie, g’n grimering, g’n haardroeërs, ag, hoe salig. Ek het heeldag in my oudste en vaalste sweetpakbbroek deur die huis geslof.

En toe ons Sondagaand ná meer as 6 uur op die pad by die huis kom, was ons so moeg en so honger en so koud – die weer het gedraai en die winter is aan die kom! – dat ons ‘n pakkie kitssop oopgeskeur het en dit saam met brood en kaas verorber het. Seker ‘n doodsonde ná al die formidabele maaltye van die afgelope 2 weke, maar raai wat – ek het glad nie skuldig gevoel nie en die poeiersop het voortreflik gesmaak. Ek moet darem byvoeg dat die brood ‘n oondvars baguette was en die kaas ‘n heerlike homp Cantal wat Marcia vir my in ruil vir een van my romans gegee het. Dis nou nadat ons heelwat van daardie einste Cantal (die ryk en romerige koeimelkkaas wat die streek rondom Aurillac se naam wêreldberoemd gemaak het) gerasper het oor die forel wat ons die vorige dag op ‘n forelplaas gaan vang het.

Ons het die vars forel saam met gebraaide eiervrug-en-sampioene met balsemasyn en roosmaryn geëet, en nog ‘n befaamde streeksdis as voorgereg geniet: varkvleisballetjies toegedraai in sagte groen koolblare en gerangskik op ‘n tamatie-en-uiesmoor. Te mooi vir woorde, die groen en die rooi so saam; nog ‘n smaaklike ete in die maag, nog ‘n suksesvolle kooksessie in die blik.

Enigste struikelblok was die weer. (Ek het mos voorspel dat dit een of ander tyd ‘n probleem gaan word!)  Marcia en regisseur Marike was albei vasbeslote dat ons buite moes eet om die pragtige uitsig van die stoep af te benut, maar die temperatuur het met ‘n volle 20 grade geval sedert ons 2 weke gelede in Cannes voor die kameras staan en sweet het. Dáár was dit rondom 30° C – en Sondag in Aurillac rondom 10° C. Nou nie eintlik geskik vir al fresco etes nie, nè. Gelukkig is Marcia se man Stephan en buurman Rassie twee stewige Afrikaanse voorspelers in ‘n plaaslike Franse rugbyspan en sulke ouens skrik nie sommer vir koue pampoen óf koue weer nie. Ons ander gaste moes dus maar ons monde toe hou sodat ons tande nie hoorbaar op kamera klap nie. En die oomblik toe die kamera ophou draai, het selfs Stephan en Rassie hulle borde gegryp om binne in die huis verder te eet.

Maar teen dié tyd het ek ook al geleer dat Jacques en Dawie kan toor met daardie kameras van hulle. As hierdie elfde episode volgende jaar uitgesaai word, sal dit heel moontlik lyk asof ons rustig in die son sit en ginnegaap het…

DINSDAG 28 SEPTEMBER
NOG ‘N BIETJIE SLUIMER…

O wat is die slaap ‘n wondersoete ding… Of so iets, as ek reg onthou.  

Dis in elk geval die gedagte waarmee ek gisteroggend in my eie bed in my eie slaapkamer wakker geword het, ná amper 10 dae van reis en kook en kuier in ander mense se kombuise en huise. My liewe man en dogter het my die naweek in Aurillac by Marcia Gerber se lieflike kliphuis kom oplaai sodat ek twee dae tuis kan ‘rus’ (lees huis skoonmaak, wasgoed was en dringende skryfwerk afhandel) voordat ek Woensdagoggend douvoordag die trein vang na Pau, waar ons die laaste 2 episodes van ons kookreeks in die streek van die Baske gaan verfilm. 

Ná soveel oggende van opspring in die donker en oor onbekende meubels struikel terwyl ek die sigbare tekens van uitputting op my gesig met grimering probeer wegtoor (voordat ons in die pad val vir ure van ry of ure voor die kameras staan en kook), was dit ‘n onbeskryflike luukse om net op my sy te draai en my oë te sluit vir nog ‘n bietjie sluimer. G’n kameras vandag nie, g’n grimering, g’n haardroeërs, ag, hoe salig. Ek het heeldag in my oudste en vaalste sweetpakbbroek deur die huis geslof. 

En toe ons Sondagaand ná meer as 6 uur op die pad by die huis kom, was ons so moeg en so honger en so koud – die weer het gedraai en die winter is aan die kom! – dat ons ‘n pakkie kitssop oopgeskeur het en dit saam met brood en kaas verorber het. Seker ‘n doodsonde ná al die formidabele maaltye van die afgelope 2 weke, maar raai wat – ek het glad nie skuldig gevoel nie en die poeiersop het voortreflik gesmaak. Ek moet darem byvoeg dat die brood ‘n oondvars baguette was en die kaas ‘n heerlike homp Cantal wat Marcia vir my in ruil vir een van my romans gegee het. Dis nou nadat ons heelwat van daardie einste Cantal (die ryk en romerige koeimelkkaas wat die streek rondom Aurillac se naam wêreldberoemd gemaak het) gerasper het oor die forel wat ons die vorige dag op ‘n forelplaas gaan vang het. 

Ons het die vars forel saam met gebraaide eiervrug-en-sampioene met balsemasyn en roosmaryn geëet, en nog ‘n befaamde streeksdis as voorgereg geniet: varkvleisballetjies toegedraai in sagte groen koolblare en gerangskik op ‘n tamatie-en-uiesmoor. Te mooi vir woorde, die groen en die rooi so saam; nog ‘n smaaklike ete in die maag, nog ‘n suksesvolle kooksessie in die blik. 

Enigste struikelblok was die weer. (Ek het mos voorspel dat dit een of ander tyd ‘n probleem gaan word!)  Marcia en regisseur Marike was albei vasbeslote dat ons buite moes eet om die pragtige uitsig van die stoep af te benut, maar die temperatuur het met ‘n volle 20 grade geval sedert ons 2 weke gelede in Cannes voor die kameras staan en sweet het. Dáár was dit rondom 30° C – en Sondag in Aurillac rondom 10° C. Nou nie eintlik geskik vir al fresco etes nie, nè. Gelukkig is Marcia se man Stephan en buurman Rassie twee stewige Afrikaanse voorspelers in ‘n plaaslike Franse rugbyspan en sulke ouens skrik nie sommer vir koue pampoen óf koue weer nie. Ons ander gaste moes dus maar ons monde toe hou sodat ons tande nie hoorbaar op kamera klap nie. En die oomblik toe die kamera ophou draai, het selfs Stephan en Rassie hulle borde gegryp om binne in die huis verder te eet. 

Maar teen dié tyd het ek ook al geleer dat Jacques en Dawie kan toor met daardie kameras van hulle. As hierdie elfde episode volgende jaar uitgesaai word, sal dit heel moontlik lyk asof ons rustig in die son sit en ginnegaap het…

SONDAG 3 OKTOBER
MERCI, MERCI, MERCI

Jippie! MaritaKook is verby, nou’s dit terug na Marita Lewe. Of in elk geval Marita Slaap. Dis hoe ek gevoel het toe ek gistermiddag, ná meer as agt uur op treine en stasies, vaal en flou by my huis instap, bed toe strompel en aan die slaap raak.

Dit was ‘n onvergeetlike ondervinding, die maand van reis en kook en kuier in kombuise en koswinkels en om gesellige tafels, maar ek is verlig dat ek kan terugkeer na my gewone lewe van skryf en skottelgoed was. (Nooit gedog ek sou verlig wees om terug te keer na skottelgoed was nie.)

Vir Marike en David begin die tydsame taak van redigering nou eers – ure en ure van verfilmde tonele wat bekyk en gekeur en geknip en gerangskik moet word om 13 halfuur-episodes te vorm – maar vir my is die harde werk verby. Al wat oorbly is om elkeen van ons gaskokke en hulle metgeselle, kinders, honde, katte, ander troeteldiere en deelnemende vriende weer eens persoonlik te bedank. Van Daniel en Noèmie se tamatieterte amper vier weke gelede in Tulette tot Nadine en Cilliers se vlammende crèpes Suzette Vrydag in Tarbes, van Lynn en Olivier se elegante swart-wit gedekte tafel op ‘n stoep naby Vichy tot Jaap en Annemarie se blou gedekte tafel op die gras buite Vals les Bains – en al die ander, julle ken julle name en julle waarde is ver bo korale. Julle het my wildste verwagtinge oortref, my oë én my maag behaag, my siel saam met my sintuie gevoed.

Julle kook!

En julle mag maar.

Ek kan nie wag om die hele avontuur weer eens op die TV-skerm te beleef nie. Ek weet, ek weet, dit gaan maande kos en ons sal almal geduldig moet wees. Maar as die volgelinge van hierdie blog weet wat ek en die gaskokke weet, sal hulle net so nuuskierig soos ons wees om die eindproduk te sien. Antoinette het belowe sy gaan die blog voortsit – op ‘n stadiger trant natuurlik – om almal op die hoogte te hou van hoe dit met die redigering gaan. As julle wil weet wanneer die reeks uitgesaai word, hou asem op en hou duime vas en hou hierdie ruimte dop (www.onskookfrans.blogspot.com).   

Miskien moet ek sê die régte MaritaKook begin nou eers…

Nadine Visagie Marita en die laaste gaskok, Nadine Visagie
Marita en die laaste gaskok,
Nadine Visagie
 

Lees nog blogs

by die Ons kook Frans-blogspot 

 

  

  • Connie Myburgh

    Ek MOET gou iets vra vir jou Marieta – jy wat Provence goed ken. Ek skryf van anderkant die "draad" uit Noord Italiè (Bergamo). Ons wil gou eersk. naweek (4 September 2010) oorry na Provence. WATTER DORPIES/Deel is die uniekste om te besoek asb????? Ons hou van klein antieke dorpies op heuweltjies soos in Toskana.

    Dan ten slotte, sien ek jou geroosterde murgbene: hier in Italiè eet ons dit baie en word na verwys as "ossi buchi" maar die boere noem dit sommer sopbene! Dis my begeerte om ook Franse kookskool te ondervind. Ek gaat jou resepte try! Moet erken: ek is ‘n boervrou en eet NIE konyn nie, maar vir hierdie Taljaaners kook ek ‘n konyn dat hulle dit vir dae lank onthou!

    Watter dorpie bly jy weer? Dalk ry ons daar deur en kan ek aan jou dink. Ek is MAL oor als wat Frans is.

    Dankie vir jou tyd – ek weet hoe besig jy is nagte deur.

  • Marita

    Connie, ek maak ‘n mean risotto met murgbene, hoeka die resep daar uit Italië gekry, maar verder doen ek nie veel met murgbene nie behalwe om dit in sop te gebruik soos my ma gemaak het. Wat Provence betref, ek wil amper vir jou sê jy kan maar net die pad vat en op enige dorpie stilhou en jy sal iets kry waarvan jy hou. Die deel wat die meeste toeriste lok, ek praat nou van die binneland en nie van die kus nie, is die Luberon – Gordes, Roussilon, Menerbes ens. Maar sommige mense verkies juis die dorpies met minder toeriste. Geniet jou naweek!

  • Connie Myburgh

    Dankie ek kan nie WAG nie vir Frankryk – ek love Italiè maar geniet ook Frankryk – soveel "fyner" as die Italiaanse taal en stemme! Vriend uit Parys het vir my ‘n botteljie vanilje gebring VAHINè – "Aròme Naturel". Mens die beste Vanilje ooit. In Italiè kry ons nie vloeistof vanilje nie – net stokkies. Ek gaan daai risotto resep van jou soek! Ek is nie "hot" met risotto nie, maar probeer altyd een nuut. Ek hou wel van "risotto alla fragole e spumante". (Aarbeie en champagne). Het gisteraand vir Italiaanse skoonpappie verrassingspartie gereèl sy 80ste verjaardag en vir die klomp o.a. TRIFLE gemaak uit die Huisgenoot van 21-12-06 (beste trifle ooit!) en het die klomp IT’s hierdie AFRICANA bak getakel!!! Die duur 80-jarige mooi koek vanuit die Pasticceria het sleg tweede gekom!!! Wil amper spot en sè dis soos die "ITaliaanse vroue – mooi maar sonder woema" ha ha

    DANKIE VIR JOU VERWYSING re die dorpies – gaan nou tas pak vir die verkenning.

    Ten slotte: ek waardeer jou response – omdat jy tyd gemaak het vir antwoord binne een dag.

    Saluti da Italia

  • Anne Marie de Bruin

    Ek het die wonderlik voorreg om op ‘n skip te werk en wat oralste in die wêreld vaar. Ons was gister in St. Tropez en ek was ook al in Bordeaux. Maar gister was die ‘cherrie-op-die-koek’ vir my gewees. Ons is na ‘n restaurant, was ek lam bestel het, met mash, maar nie geweet lekker wat ek kry nie, maar dit lyk ongelooflik lekker. Toe die meesters stuk voor my kom, is dit net soos my ma se sondag middag vleis. Lamskenkel en mash, en die vleis val van die been af & ryk soos my ma se kombuis, op ‘n sondag. Ek was in die hemel. En die been het sy murg in. Ek het dit geeet, my baas het haar doodgeril, sy kom van Oostenryk en kan nie glo dat ons dit eet nie. Daarna het ons, poeding gaan koop. Man, pastry-heaven en alles is vandag gemaak. My liewe moeder maak nog skilferdeeg in die ou manier en haar pasteie is die beste.
    Ek is by ‘n winkel in, wat olyf olie verkoop, speserye van Provence en allerhande tuisgemaakte badprodukte. Ek het vir my ma van die speserye gekoop wat van Provence kom, sy gaan in die hemel wees. Ek het vir die eienaar ‘n besigheidskaartjie gevrae. Toe ek terug is op die skip, kyk ek na die besigheidskaartjie, en wat is die plek se naam, L’Olivier! Ons besef nie in Suid-Afrika nie, hoe baie franse invloed ons het nie, van ons voorvaders nie.
    Oppad terug na die tender, om die skip te kry, is daar ‘n privaat seiljag en nie watse vlag op, ‘n Suid-Afrikaanse vlag!
    Wat ‘n perfekte dag, ek het gevoel soos by die huis, maar net in Frankryk.
    Ek kan nie wag om by die huis te kom en Marita se boek te koop. Wat ‘n blessing,om in ‘n land te bly van ons voorvaders!

  • Marita

    Ja, Anne Marie, die bekende Afrikaanse van Olivier is die Franse woord vir olyfboom. Soos jy sê, die Franse invloed is sterker as wat ons besef. Dankie vir die lekker lang skryf.

  • www.sarie.com

    Www sarie.. Neat 🙂

  • ddys porno rzec

    Www sarie.. Bully 🙂

  • hftr sex mpp9

    Www sarie.. Ho-o-o-o-t 🙂