marita_2010
Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita van der Vyver: “Soveel streke, soveel soene”

Ek het al daaroor geskryf – en ek sal weer daaroor skryf – want dit bly iets wat my fassineer. Die fatsoenlikheid van soen, kan ek dit seker noem. En aangesien daar in die komende feesdae weer meer as gewoonlik gesoen sal word, in Frankryk, in Suid-Afrika, oral op aarde, wroeg ek vanoggend weer oor wie ek waar en hoe sal moet soen.

Ná meer as ’n dekade het ek die tradisionele Franse soengroet vervolmaak. Dis mos nie werklik ’n soen nie, dis meer van ’n wangskuur terwyl jou lippe die geluid van ’n soen namaak. Twee, drie of selfs vier keer, afhangend van waar in Frankryk jy en jou mede-soener julle bevind. Soveel streke, soveel soene. Dis hoe dit hier werk.

Maar ek kan steeds nie mooi kleinkry wie ek wanneer moet soen nie. Ek is blykbaar nie veronderstel om die vullisverwyderaar of die posbode te soen elke keer as hulle aan my voordeur klop nie. Maar wanneer ek hulle by ’n sosiale geleentheid soos ’n skoolkonsert of ’n nuwe buurman se daknatmaakpartytjie raakloop, dan mag daar maar gesoen word.

Sommige van die onderwyseresse by my dogter se skool soengroet ek wanneer ek hulle op straat teëkom, ander nie. Moenie my vra wanneer (of waarom) ek met sommiges die soenlyn oorgesteek het, maar met ander nie. Dis alles verwarrend genoeg om my soms te laat smag na Suid-Afrika, waar jy jou familie en vriende sonder skroom op die mond soen, en nooit eintlik aan ander mense se gesig hoef te raak nie.

En tog. Ek woon al lank genoeg tussen die soenerige Franse om die alledaagse en aanhoudende intimiteit van die wanggroet te mis wanneer ek my in Suid-Afrika bevind. En miskien meer as enigiets anders die onselfbewuste manier waarop mans in Frankryk mekaar soen en vasdruk. (Ons praat nou van heteroseksuele mans, oukei?) En dit gebeur al hoe meer gereeld dat ek in my geboorteland onwillekeurig my mond wegdraai en my wang aanbied wanneer iemand buite my naaste kring van geliefdes na my lippe mik. Ek besef maar te goed dat dit as aansitterigheid gesien kan word. (Dink sy miskien sy’s Frans net omdat sy hors d’oeuvre reg kan uitspreek?) Maar gewoonte is ’n magtige ding – en dis amper onmoontlik om vir my Afrikaanse familie te verduidelik hoe geskok die gemiddelde Franse vrou sal wees om kaplaks op die mond gesoen te word deur selfs haar beste vriende.

In Frankryk word die mond slegs vir romantiese en erotiese soene benut. Enigiemand al van ’n French kiss gehoor? Nou ja, toe. Dis waar vry uitgedink is. Vry soos in soen en vry soos in liberté.

Dis ’n les wat ek onlangs weer geleer het toe ek van ’n Kaapse kuier terugkom en ingedagte my tienjarige dogter op die mond soen. Sy het haar kop weggeruk asof ek haar geklap het. Nee. ’n Klap op die wang sou haar moontlik minder geskok het as ’n klapsoen op die mond.

Ons praat nou van kulturele gapings so wyd soos die Visriviercanyon. Hierdie einste dogter het my kort tevore verseker dat ek maar vir haar Afrikaanse e-posse kan stuur; sy het nie haar ouboet se hulp nodig om my boodskappe te vertaal nie – “want ek het Afrika in my bloed, Mamma”. My kinders se kamermure is versier met Suid-Afrikaanse vlae en plakkate, en tydens die Wêreldbekersokkertoernooi het almal in die huis luidkeels vir Bafana Bafana gejuig. Veral toe hulle teen die Franse gespeel het. Nie ’n enkele oomblik van wroeging oor verdeelde lojaliteite nie.

Maar as dit by iets so eenvoudigs soos soen kom, is my kinders so Frans soos kan kom. Niks wat ek daaraan kan doen nie – behalwe om in hierdie feesseisoen te onthou om my soene fatsoenlik Frans te hou.

Intussen stuur ek vir SARIE-lesers oral op aarde ’n goeie ou Afrikaanse klapsoen vir Kersfees.

  • Riet

    Ai Marita, jy slaan die spyker op die kop! Dit is altyd vir my ‘n aanpassing om, as ek terug in SA, is klapaks op die mond gesoen te word deur ieder en ‘n elk! Na 23 jaar in Europa weet ek nogsteeds nie hoeveel keer daar gesoen word nie! Wat ook verwarrend is dat party plekke moet jy eers jou hand uitsteek en dan word daar gekus!