Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita van der Vyver: Baldadig

Is dit net ek? Of is daar ander siele wat ook sukkel om meegevoer te raak wanneer ’n klomp mans op ’n lap gras mekaar te pletter loop agter ’n bal aan?
Dis nie ’n blote rebelse vraag terwyl die ganse mensdom sokkermal raak nie. Glo my, dis ’n eksistensiële kreet van eensaamheid en vervreemding!
Buitendien, ek diskrimineer hoegenaamd nie teen sokkerballe nie. Die aaklige waarheid is dat ovaalvormige rugbyballe my net so koud laat soos enige ronde bal van enige grootte. Behalwe miskien die swaar ysterballe waarmee ons hier op die Franse platteland boules of petanque speel.
Wanneer jy boules speel, hoef jy nie te hardloop of te sweet of jou teenstanders te vertrap of jou spanmaats te bespring wanneer jou span punte aanteken nie. Dis so ’n rustige, beskááfde spel dat jy dit met ’n drankie in jou een hand kan speel. (Miskien is dít die eintlike rede waarom ek ’n boulesaanhanger geword het.)
Nee, daar’s nog iets. Boules lok nooit skares van derduisende histeriese toeskouers nie. Meestal net ’n klompie omies wat uit die skadu van die naaste plataanboom
kommentaar lewer en ongevraagd raad uitdeel.
My weersin in sokker en rugby en ander gewilde balsporte het heelwat te doen met die toeskouers se onverklaarbare gedrag. En nou praat ek nie van besope skarminkels wat ná die wedstryd die strate invaar om verwoesting te saai nie. Nee, ek bedoel die toeskouers se gedrag gedurende die wedstryd. Die snikke van smart, die triomfantelike trane, die gillende ekstase, die amperse hartaanvalle van spanning, die volle katastrofe.
Daar is vermoedelik iets ernstigs verkeerd met my, maar van jongs af sukkel ek om werklik déél te voel van waansinnige sportskares. En dit kan nie geneties wees nie, want my pa het op sy dag so opgewerk geraak wanneer hy rugby gaan kyk dat my ma skelmpies kalmeerpille in sy kos moes meng om te keer dat hy omkap van stres tydens die game. Dis ook nie ’n gebrek aan ervaring nie, want weens my rugbymal pa het ek letterlik my tande gewissel langs rugbyvelde en omtrent elke Saterdagaand agter in ons Opel-stasiewa aan die slaap geraak terwyl die grootmense in die  klubgebou luidrugtig nabetragting hou van elke drie en elke strafskop.
In die boekewêreld praat hulle van die “opheffing van ongeloof” wat nodig is wanneer jy rêrig lekker wil lees aan ’n roman. Dáármee het ek nog nooit gesukkel nie. Solank die storie goed genoeg geskryf is, sal ek glo dat die heldin op ’n besemstok
kan vlieg en die held elke aand staan en stryk. Maar die oomblik as ek in ’n sportskare beland, kan ek om die dood nie my ongeloof opgehef kry nie.
En elke keer as ’n vriend (soms selfs ’n vriendin) my bel nadat die Bokke of Bafana Bafana ’n wedstryd gewen het en my asemloos opgewonde meedeel dat “ons”
vandag fantasties gespeel het, wonder ek: Hoeveel onse is in jou pond? Want ek was beslis nie op die veld nie. Ook nie die vriend(in) wat my gebel het nie. So hoe op aarde kon ons goed, sleg of middelmatig gespeel het?
Hoe opswepend hierdie “ons”-gevoel kan word, het my eintlik eers getref gedurende die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk ’n jaar of drie gelede. Ek het die eindstryd tussen “ons” en die Britte saam met ’n spul Franse vriende op TV gekyk. (Die Franse was almal aan “ons” kant, hoofsaaklik omdat hulle altyd enigiemand se kant teen die Engelse sal kies.)
Oomblikke ná die eindfluitjie het my Franse stiefseun, wat nog nooit voorheen in sy lewe na ’n rugbywedstryd gekyk het nie, ’n jubelende SMS gestuur: Ons het gewen! Toe weet ek. “Ons” het waaragtig gewen.
Nou wonder ek net. Wanneer “ons” Franse vandeesmaand teen “ons” Suid-Afrikaners sokker speel, hoeveel onse gaan daar dán in my Frans-Afrikaanse gesin se pond wees?
Aan die ander kant is dit tog ’n troos dat “ons” sal seëvier – maak nie saak wie die wedstryd wen nie!

  • Suzanne koertzen

    Hier praat jy so na my smaak!!! Ek stem heelhartig met jou saam dat die toeskouers – skares om die veld en die spul by die huis – my totaal waansinnig maak! Oumas wat op hulle knieë op die sitkamervloer tot voor die tv kruip en skree en juig maak my skaam, om van die manne met die kanne in hulle hanne nie eers te praat nie.

  • Marita

    Dankie, Suzanne – en ek vermoed daar’s dalk meer van ons ‘silent minority’ as wat ons besef!