Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita van der Vyver oor bestemmings

Nie so lank gelede nie is mense wat stemme gehoor het, as heilig of waansinnig  beskou. Nou luister ons almal na stemme – miskien nie in ons koppe nie, maar in ons karre.

Die stemme kan manlik of vroulik wees
. Hulle kan verskillende tale met verskillende aksente praat. Hulle is altyd onbekend, maar soms gee ons hulle name, ’n Britse Barbara of ’n Amerikaanse Bob of sommer net Die Stem. Soos in: “Nee, ek ken nie die pad nie, maar Die Stem sal my lei.” En nou praat ons nie van die ou Afrikaanse volkslied nie.

Die Stem kom uit ’n GPS-apparaatjie wat jy op jou motor se paneelbord staanmaak.

Daar is ook ’n skermpie met bewegende pyle wat aandui in watter rigting jy moet ry. GPS (vir almal wat so onnosel soos ek is) staan vir Global Positioning System.

 

Nee, ek ken nie die pad nie, maar Die Stem sal my lei.”

 

Fantasties! Sê die mense wat weet. Dit hou beter koers as ’n Voortrekker! Dis meer rigtingvas as ’n posduif!

Ek is steeds nie oortuig nie. Toegegee, ek het tegnofobiese neigings. Masjiene en ek maak nie maklik maats nie. Die enigste masjien waaroor ek nog ooit sentimenteel kon word, is my skottelgoedwasser. (As hy die dag staak, huil ek.) Maar my man is mal oor gadgets, soos die meeste mans – en anders as die meeste mans, is hy toetentaal rigtingloos.

As Alain sy stokperdjies op ’n vorm moet invul, behoort hy “verdwaal” heelbo aan die lys te skryf. Daarom was dit onvermydelik dat ons een of ander tyd Die Stem sou beproef.

Vir hom was dit liefde met die eerste oogopslag. Of met die eerste hoorslag. ’n Aangename vroulike stem wat altyd kalm bly – selfs al luister hy nie na haar nie! Want as sy wettige vrou die navigator is, verander die gesinsmotor dikwels in ’n oorlogsone.

“Draai links,” beveel ek benoud. “LINKS! Waarom het jy nie gedraai nie?”

“Waarom het jy nie vroeër gesê nie?!?”

“Waarom het jy nie stadiger gery nie?!? Draai REGS!”

“Jy moet betyds waarsku sodat ek in die regte baan kan kom!” (Teen hierdie tyd begin hy gewoonlik bulder.)

“Ek kon nie vroeër waarsku nie, want ek het so pas eers die padteken gesien!” (Teen hierdie tyd gil ek lankal.)

“Hoe de duiwel kan jy navigeer as jy nie kan sien nie!”

“Daar’s niks met my oë verkeerd nie! Dis jy wat te vinnig ry! Draai links. Links! LINKS!!!”

G’n wonder my man is verlief op sy GPS nie. En ek kry dit nie eens reg om jaloers te word op die nuwe vrou (se stem) in sy lewe nie. Dis net soveel lekkerder om iewers heen te ry sonder om heelpad te stry. Maar hierdie nuwe vrou moet haar plek ken, het ek besluit. Ek gaan haar beslis nie in my motor toelaat nie.

Aikôna.

Toe oortuig my man en kinders my ek is verspot, outyds en onredelik.

“Probeer dit net, Ma,” por Daniel. “Jy sal sien.” Toe doen ek dit – en toe sien ek net mooi niks. Ek moes ’n praatjie gaan gee by ’n skool so twee uur se ry van die huis af, en op die aakligste moontlike oomblik – toe ek ’n vreemde stad in spitsverkeer binnery – val die masjientjie van die paneelbord af en rol onder my sitplek in.

Weg is al die behulpsame prentjies. Al wat oorbly, is die liggaamlose stem – wat van iewers onder my boude met my praat.

Dit was ’n rare ondervinding. Amper soos om op ’n toilet te sit en luister na ’n stem wat uit die afvoerpyp kom. Nog nooit het ek met soveel swetende konsentrasie na sulke vreemde aanwysings geluister nie.

Wonder bo wonder het ek my bestemming betyds bereik. Maar volgende keer gebruik ek eerder weer ’n outydse padkaart. As dít is waar die stem in bestemming vandaan kom, het ek daardie dag besluit, sal ek eerder verdwaal. In stille desperaatheid, soos ek dit nog altyd gedoen het.