Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita van der Vyver: Uit Provence KERKSTRAAT – DIE MUSICAL

Nee kyk, nou kan 7de Laan rêrig by Kerkstraat kom kers opsteek! Ons beskeie Rue de l’Église (mos maar net die fênsie Franse naam vir Kerkstraat) is vandeesweek oorgeneem deur ’n rolprentspan en ’n jong sangeres wat dalk eendag so beroemd soos Lady Gaga gaan wees . . .

Op die oomblik is sy nog ver van internasionale faam. Ek het, om eerlik te wees, reeds haar naam vergeet. Maar die vyftigtal dorpenaars wat tougestaan het om ekstras te speel in die musikale nommer wat rondom ons 12de-eeuse klipkerk geskiet is, het almal hul spreekwoordelike vyftien minute van roem gate uit geniet. Ek was die enigste ou knorpot.

Nie dat ek blasé is nie, hoor. Ons woon weliswaar nie te ver van Cannes nie, maar die rolprentsterre wat jaar ná jaar in daardie geweste glinster, verskiet nooit in ons rigting nie. Vir John Malkovich het ek darem twee keer op Avignon se stasie raakgesien.

En dan was daar die keer, onthou julle, toe my Amerikaanse buurman ’n Hollywood-regisseur na sy tuinpartytjie genooi het? Ek moes noodgedwonge met die eregas gesels omdat die ander bure se Engels te gebrekkig was om meer as bonsoir te sê – en eers ná die tyd het ek agtergekom die gawe “meneer Malan” was niemand anders nie as M. Night Shyamalan wat The Sixth Sense en Signs gemaak het.

Maar Brad en Angelina en al die ander wat glo deesdae in Provence woon, het ek nog nooit juis op ’n plaaslike mark met ’n groentemandjie onder die arm opgemerk nie. So wie is ék nou om my neus op te trek vir ’n potensieel beroemde sangeres?

Maar omdat die film vlak voor my deur geskiet is, kon ek nie my eie motor voor my eie huis parkeer of in my eie kombuis na my eie radio luister of in my eie voorhof na my eie kat roep nie!

Boonop het die sage begin op ’n dag toe ek uitgeput en oorlaai met bagasie van Suid-Afrika teruggekom het – en niemand het my gewaarsku dat die drie strate rondom ons huis vir alle verkeer gesluit sou word nie. Wat beteken ek moes my ellendig swaar tas drie blokke ver tot by my voordeur sleep.

En toe ek met ’n hygende “Hallo, skatties, ek is tuis!” by die huis instrompel, het nie eens die kat my kom groet nie. My gesin was so gefassineer deur die film-in-wording dat hulle skoon van my tuiskoms vergeet het. (Twee van ons kinders was in die film, sou ek later agterkom. Selfs ons kat het spontaan in ’n aktrise ontpop.)

Dis toe dat ek die blink idee kry om my verlore gesinslede nader te lok met die enorme vuvuzela wat ek op die Johannesburgse lughawe aangeskaf het. Skaars het ek my eerste bulderende blaas geblaas, toe storm hulle inderdaad nader, uit alle rigtings, net om my ergerlik stil te maak: “Ssssssjjt, Maaaa, hier word ’n movie geskiet!”

’n Paar uur later was ek self lus om iets te skiet. Nie ’n movie nie, iets meer onwettigs, soos ’n regisseur of ’n klankman. Want die óómblik toe ek my kop neerlê vir my broodnodige middagslapie, bars ’n onaardse lawaai reg onder my slaapkamervenster los. En daar staan die sangeres en maak haar mond oop en toe asof sy sing terwyl haar stem oor enorme luidsprekers weergalm en verskeie dorpskarakters (die bakker! die vullisverwyderaar! my seun wat veronderstel is om vir sy matriekeksamen te leer!) stadig, vreeslik stadig, by haar verbystap.

Oor en oor en verdomp óór is hierdie sieldodende toneel verfilm.

Ek het die hortjies toegetrek, pluisies in my ore geprop, ’n kussing oor my kop gedruk, alles vergeefs. Die luidsprekers het bly blêr, die zombies het bly stap. My enigste troos was die vergesogte gedagte dat die sangeres dalk eendag werklik beroemd gaan word.

Dan kan ek vir my toekomstige kleinkinders vertel dit het alles in Kerkstraat begin. As ’t ware onder Ouma se plataanboom!

  • 1y51iC fixwrirsxfcb, [url=http://fnjomqfhwbvx.com/]fnjomqfhwbvx[/url], [link=http://riznegexxgko.com/]riznegexxgko[/link], http://hwmnaejzdlvc.com/