Rubrieke - Marita van der Vyfer

Moleste met motors

Die twaalf punte wat hy laas jaar weens verkeersoortredings verloor het, moes hy van voor af verdien, op die moeilike manier, deur verpligte bestuurslesse. Nogal ’n vernederende ervaring vir iemand wat al dertig jaar sonder ongeluk bestuur.

Maar die feit dat ons ganse gesin nou hiperbewus geword het van verkeersreëls, is dalk nie ’n slegte ding nie. Laat ek dit net wáág om op ’n geel streep te parkeer of lyk of ek dit oorweeg om oor ’n stopstraat te ry, dan maak selfs die kleine Mia haar stem dik op die agtersitplek: Mamma, jy weet jy mag nie.

En dit net omdat sy en haar pa en haar twee 16-jarige broers op ’n bitter dag in ons gesin se geskiedenis byna almal saam in die buurdorp se tronk beland het.

Dit het alles onskuldig begin, met Alain wat op ’n sonnige agtermiddag besluit hy’s lus vir vleisbraai. Gewoonlik gaan laai ons sommer in die naaste wingerd bietjie vuurhout op (die gawe boere los die uitgekapte wingerdstompe in sulke hope vlak langs die pad), maar dié dag was ek vasgevang voor my rekenaar. Heeltemal te besig vir hout aanry. Alain dog toe aag, wat, hy kan mos maar self die 200 tree na die wingerd bestuur. Die kans dat hy op dié stukkie pad ’n polisieman sou raakloop – wat sy rybewys sou wou inspekteer! – was net mooi nul.

Wel. Hy het nie ’n polisieman teëgekom nie. Hy het twee motors vol polisiemanne teëgekom wat dié middag van alle middae gekies het om die stopstraat agter ons huis te omsingel in ’n groteske poging om reg en orde te handhaaf. Bietjie soos om ’n masjiengeweer te gebruik om van ’n paar miere ontslae te raak. Ons dorpie is nou nie eintlik ’n hool van misdadige bedrywighede nie.

Maar danksy my gesin het die polisie dié dag hul hande vol gehad.

Eers kom Alain verbygekruie met sy minderjarige dogter, sonder ’n veiligheidsgordel, op die voorste passasiersitplek. Gróót fout. Waar ons woon, moet kinders agter sit en, soos omtrent oral op aarde, behoorlik vasgegespe wees. Ek wonder steeds wat my man besiel het – dalk is sy verstand aangetas deur die verlies van sy rybewys? – want ons kinders dra altyd veiligheidsgordels. Selfs al ry ons net om die blok.

Maar dié dag word Alain toe vasgetrek omdat sy dogter nie vasgegespe is nie.

En terwyl hy nog stamelend probeer verduidelik dat sy rybewys, wel, “tydelik buite werking” is, kom ’n krokkerige ou kar oor die stopstraat gery. Sonder om stil te hou. Toe die polisie die jong bestuurder wil voorkeer, jaag hy teen ’n dolle vaart weg. Die polisiemanne pluk hul vuurwapens uit, asof hulle in ’n Amerikaanse TV-reeks speel, spring in ’n polisiemotor en jaag met loeiende sirene agter die oortreder aan.

En Alain, wat net ’n flits van ’n blonde kop langs die bestuurder sien, en wéét dat Daniel die enigste blonde tiener op die dorp is, skreeu beangs agter hulle aan: “Moenie skiet nie! My seun is in die kar!”

Glo dit of nie, maar twéé van ons seuns was in die motor. Toe die polisie die kar inhaal, tref hulle vir Hugo soos ’n onwettige immigrant opgekrul in die bagasiebak aan. (Die kar het nie ’n agtersitplek nie, was die seuns se verduideliking. Asof dit totaal normaal is om in bagasiebakke vervoer te word.) Die 18-jarige bestuurder, sonder rybewys, was in gróót moeilikheid.

En daar sit ons toe met ’n morele probleem. Hoe kan ons ons seuns uittrap omdat hulle in ’n motor klim saam met iemand sonder ’n rybewys – as hul pa oomblikke tevore vasgetrek is omdat hy óók sonder ’n rybewys bestuur het?

Weens hierdie onwettige rit van 200 tree moes Alain ’n stywe boete (en ’n goeie advokaat) betaal en boonop nóg ’n paar maande langer sonder rybewys lewe. Wat beteken het dat ek nóg ’n paar maande langer die gesin se enigste, oorwerkte en onbetaalde taxibestuurder moes wees.

Dit was vir my ’n swaar, swaar slag.

My enigste troos was dat ons vir ’n ruk lank sweerlik die mees wetsgehoorsame gesin op die dorp was. Dalk selfs in die hele Frankryk. En ek weet dít gaan nie gou weer gebeur nie.