Rubrieke - Marita van der Vyfer

My plek

’n Eie kamer, soos Virginia Woolf dit al amper ’n eeu gelede genoem het. ’n Deur om agter jou toe te trek, dis hoe ek nog altyd daaraan gedink het.

Of daaroor gedroom het.

Want hierdie eenvoudige vereiste vir enige vrou wat ernstig wil skryf – of eintlik vir enige ma wat nie waansinnig wil word nie – het my nog altyd ontwyk.

Ná ek jare lank vryskut-skryfwerk gedoen het op enige beskikbare platterige oppervlak – van ’n telefoontafeltjie in ’n hoekie van my eerste woonstel tot ’n plank op my skoot met ’n slapende baba langs my in die bed – het ek ongeveer ’n dekade gelede oplaas daardie gesogte Eie Kamer gekry. Met die inkomste uit my eerste volwasse roman het ek ’n buitekamer op die dak van ’n garage laat aanbou.

Werkkamer. Kantoor. Studio. Ateljee. Noem dit wat julle wil, het ek vir vriende en familie laat weet, nou gaan ek eindelik soos ’n “regte” skrywer voel!

Gastekamer. Dis wat vriende en familie besluit het om my dakkamer te noem. ’n Spaarkamer met ’n hemelse uitsig op blou Bolandse berge. Kort voor lank het daar so gereeld gaste in my “werkkamer” geslaap dat ek verplig was om my slaapkamer weer in ’n werkkamer te verander. Soos in die ou dae. Voor ek ’n sogenaamde Eie Kamer gekry het.

Toe ek Frankryk toe trek, het ek opnuut probeer om ’n vertrek vir myself te konfiskeer. Dié keer sou ek sorg dat g’n gas my heiligdom betree nie. Dié keer het ek nie ’n begeerlike dakkamer met ’n uitsig gekies nie. O, nee, ek het na die dieptes van die huis afgedaal, na die donker en muwwerige dele. Ek het die voormalige stal gevat. ’n Klam en koue vertrek met die oorspronklike kliptrog nog teen die muur. ’n Praktiese pakplek vir papiere en lêers, het ek gou agtergekom.

Die gaste het inderdaad weggebly – maar intussen het ’n ander onbeplande gassie opgedaag. My babadogter Mia is oor die volgende twee jaar in daardie stal gevoer en versorg en vermaak terwyl ek probeer skryf. Binne enkele maande was daar meer speelgoed as skryfbehoeftes in my kastige Eie Kamer.

Die stal het ’n crèche geword.

Vyf jaar gelede het ons weer getrek. Een van die redes waarom ons hierdie kliphuis gekies het, was omdat die vorige eienaar een van die vertrekke reeds as kantoor ingerig het. Dié keer was dit nie nodig om terra incognita te konfiskeer en te bearbei nie. G’n gesukkel met dakkamers en stalle nie. Dié keer het ek ’n “regte” kantoor betrek, soos dit ’n “regte” skrywer betaam.

Ongelukkig het die vorige eienaar – klaarblyklik kinderloos – die kantoor in die besigste deel van die huis aangelê. Langs die kombuis, oorkant die sitkamer, ’n paar tree van die voordeur af. Dis soos om op die Kaapse stasie te sit en skryf. ’n Konstante stroom verkeer vloei by my rekenaar verby. Selfs al trek ek die deur dig toe, hoor ek steeds die radio in die kombuis, Disney Channel in die sitkamer, rap en rock uit die seuns se kamer reg bo my kop – en natuurlik orals en altyd woordewisselings, wat soms bra na aan gesinsmoord klink.

Weens die sentrale ligging van hierdie stasie het dit boonop ’n depot geword vir enigiets wat nie elders in die huis ’n bêreplek kan kry nie. Die hele gesin se fietse, Mia se viool, Daniel se teleskoop, Alain se groeiende versameling DVD’s, die ysterballe waarmee ons in die somer petanque speel, die kat se sandbak … Tot ek laas week besluit het genoeg is genoeg.

Ek het die nie-amptelike stoorkamer amptelik aan my gesin bemaak en na ’n gastekamer op die boonste verdieping gevlug. Dís waar ek van nou af gaan werk – in die stilste, mees afgesonderde deel van die huis – maar ek sal nie so naïef wees om dit ’n Eie Kamer te noem nie.

Dis net ’n tydelike toevlug. Ek wéét die kinders sal my kom pla, waar ek ook al wegkruip, hoeveel trappe hulle ook al moet klim om by my uit te kom. En raai, dis ook nie só ’n ontbering om sonder ’n Eie Kamer klaar te kom nie.

Ek voel miskien nie aldag soos ’n “regte” skrywer met ’n “regte” kantoor nie, maar ek voel ongetwyfeld, elke oomblik, soos ’n regte ma met regte kinders.