vader_claerhout
Rubrieke - Marita van der Vyfer

Nag(merrie) vlug

Maar as jy ver van jou hartland woon, is vlieg nou eenmaal jou voorland. Deesdae vlieg ek só gereeld tussen Europa en Afrika dat ek al amper gemaklik begin voel in ’n vliegtuig. Nie fisiek gemaklik nie – dis onmoontlik in toeristeklas – maar soort van emosioneel ontspanne. Soms kry ek dit selfs reg om aan die slaap te raak.

Behalwe wanneer ek saam met my kinders reis.

Ek probeer my bes om my Frans-Afrikaanse kroos op ’n gereelde grondslag nader aan hul wortels te bring. Om hulle plattelandse familie te leer ken, kaalvoet op grondpaaie te loop, met die wind in hulle hare agter op bakkies te ry (sonder veiligheidsgordels! ongehoord in Europa!), saam met Oupa vis te vang en vleis te braai en onder die sterre te slaap. Dié soort ding.

En elke keer as ek in ’n effens histeriese toestand van uitputting en skok by ’n vliegtuig uitstrompel, besluit ek dit sal makliker wees om hulle sonder enige verdere kontak met hul verdomde wortels groot te maak.

Ek het geleer as jy saam met jou kinders reis, betree jy ’n oorlogsone, maak nie saak wat jou bestemming is nie. Dikwels lyk en ruik en voel jy teen die einde van die reis ook of jy in ’n oorlog was.

Soos die keer toe Daniel se neus onverklaarbaar en oorvloedig begin bloei het net voordat die vliegtuig land – en tydens die landingsproses mag ’n mens mos nie opstaan om toiletpapier of enigiets anders te gaan haal nie. Ek het desperaat sy T-hemp oor sy kop gepluk en voor sy neus gedruk, maar dit het nie gehelp om die bloedbad te keer nie. Teen die tyd dat die vliegtuig tot stilstand gekom het, sou jy sweer ons het albei pas ’n terroriste-aanval oorleef. Bloed net waar jy kyk, van ons hare tot ons skoene.

Ek het ’n waardevolle les geleer. Deesdae pak ek twee stelle skoon klere per kind in my handbagasie. Net ingeval.

En ek vlieg altyd in swart. Dit het ek geleer toe dieselfde Daniel op ’n ander dag op die Paryse lughawe besluit het om resies te jaag met ons oorlaaide bagasietrollie. Voordat ek nog kan protesteer, slaan die trollie dramaties om en ons tasse tuimel af en twee bottels uitstekende Franse rooiwyn, wat ek vir my pa present wou gee, spat in skerwe. En die kosbare wyn loop uit oor ons tasse en ons truie en ons baadjies wat ongelukkig ook op die trollie was.

Ek het so kwaai met my seun geraas dat sy babasussie in my arms sommer ook begin huil het. En toe ek steeds aanhou skel, kry sy my stil (sprakeloos, eintlik) deur sonder enige verdere waarskuwing oor my skouer op te gooi. Daar staan ek toe met ’n hemp wat die ene siek baba ruik, en op die vuil lughawevloer lê my beste baadjie wat die ene wyn ruik, en daar’s nie tyd om ander klere aan te trek nie, want ons is laat.

Met kinders is ’n mens mos altyd laat vir alles.

My babadogter het dwarsdeur die vlug beurtelings gehuil en naar geword en nie een van ons het ’n oog toegemaak nie. Toe ons die volgende oggend in Johannesburg land, het ek soos ’n boemelaar geruik wat die nag dronk onder ’n kartonboks gelê het. Die ergste van alles is dat die vlug vertraag is en ek reguit van die lughawe af moes jaag, met stinkende klere en vuil kinders en al, na ’n deftige Pretoriase hotel waar ’n skare elegante vroue sit en wag het dat ek hulle toespreek oor my nuwe boek.

Ek het gedog ek sou tydens die lang nagvlug kans kry om ’n oulike toesprakie uit te werk. Ek het nie rekening gehou met die eise van ’n huilende en brakende baba nie. Al wat ek dus kon doen, was om te bieg oor die nagmerrievlug wat ek pas oorleef het.

En raai, toe word ek so luid en warm toegejuig deur die sjiek skare dat ek besef hulle wéét waarvan ek praat. Niemand, voorwaar, niemand is immuun teen die afgryse van reise met kinders nie.