Rubrieke - Marita van der Vyfer

Niemand se Tannie

Want “tannie” het niks met ouderdom te doen nie. “Tannie”, het ek nog altyd vermoed, is ’n state of mind. Dis nie hoe jou lyf lyk of hoeveel plooie jy het wat jou ’n tannie maak nie, dis hoe jou kop werk.

Ja, goed, dit behoort teen hierdie tyd duidelik te wees ek het ’n ding oor tannie. Nie oor tannies (meervoud) nie. Anders as Koos Kombuis wat in sy jong dae ’n baie snaakse liedjie oor tannies geskryf het, hou ek nogal van tannies. (En wie weet, noudat Koos self oom-ouderdom bereik het, dink hy dalk anders oor tannies?) Punt is, ek het niks teen tannies nie, ek wil net nie self een wees nie. Of eerder, ek weier om elke Jan Rap en sy maat se tannie te word.

Ek was skaars 23 toe ek die eerste keer “tannie” genoem is – deur ’n eerstejaarstudent, skaars vyf jaar jonger, wat ’n joolblad aan my wou verkoop. Ek was sprakeloos van verontwaardiging. Seker onnodig om by te voeg dat ek nie die joolblad gekoop het nie.

My ma het altyd gesê daar’s net één ding erger as wanneer ’n man van min of meer jou eie ouderdom vir jou “tannie” sê. Dis wanneer hy vir jou “antie” sê. Sela.

Tannies, glo ek, word gebore, nie gemaak nie. My dogter het ’n negejarige maatjie wat ’n regte klein tannie is, sowaar. Hoewel sommige gebore tannies wel later
wegswenk van die tannie-paadjie om wilde, boheemse wesens te word. Ek sou Mia se maatjie graag oor twintig jaar wou sien . . .

Ander weer word nooit tannies nie. Soos Lisa in my jogaklas, ’n vrou van oor die sewentig met ringe aan amper al haar vingers. Sy swem kaal en sy lees baie.  Sy’s allesbehalwe ’n Barbie-pop, sy probeer nie haar plooie of haar spierwitgrys hare wegsteek nie, sy’t nog nooit estetiese chirurgie gehad nie – maar sy’s beslis niemand se tannie nie.

“As jy oud word, Mamma,” sê Mia nou die dag, “sal ek daarvan hou as jy soos Lisa is. Sy’s oud, maar sy’s nie oud nie.”

Streng gesproke is ek natuurlik klaar “oud”, maar my dogter dink nie so nie, die liewe ding. Diep in my hart hoop ek dit beteken ek is klaar ’n klein bietjie soos Lisa. Ek hou hoeka van ringe en ek lees baie, hoewel ek nie kaal swem nie. Of nog nie – wie weet wat alles tussen nou en sewentig kan gebeur?

My tienerseun, wat tussen twee kulture grootword, het ’n verstommende vermoë om tannies te eien. In Frankryk praat hy Frans en dra Franse klere en noem my Franse vriendinne op hul voorname. Sy maats se ma’s noem hy madame. Elke keer as hy in Suid-Afrika kom, word hy Afrikaans, dra kortbroek en loop kaalvoet,
en noem vreemde vroue “tannie”. Maar nie alle vreemde vroue nie. Dis wat ek fassinerend vind.

Sy tannie-verklikker is haarfyn ingestel. Hy weet instinktief watter vroue nie natuurlike tannie-materiaal is nie. Indien daar die geringste twyfel bestaan, kies hy
“tannie” – totdat hy reggehelp word. Dis veiliger, op sy ouderdom, om nie op ’n regte egte tannie se tone te trap nie.

Maar met SARIE kan jy nie ’n fout maak nie. Sestig ofte not, sy’s niemand se tannie nie. Sy’s ’n vriendin wat nog altyd daar was, so lank soos jy kan onthou. Sy
probeer nie, soos Barbie of Madonna, om soos ’n tert te lyk of haar soos ’n tiener te gedra nie. Sy’t genoeg klas om haar nie te skaam vir haar ouderdom nie. Inteendeel, sy spog vanjaar nogal daarmee. Want sy weet, maak nie saak hóé oud sy word nie, sy bly ouderdomloos.