cafe_bon_bon
Rubrieke - Marita van der Vyfer

Ode aan ’n uniform

Seker so ’n jaar of sewe, skat ek haar, omtrent dieselfde ouderdom as my dogter. Trek ook nogal na my Mia. Hoewel ek glad nie vir Mia met sulke dik grys sokkies en so ’n wurgende das kan voorstel nie. G’n wonder die meisietjie lyk so dikmond nie, siestog. Hoe dan nou anders, in so ’n uniform?

Een van die lekkerste dinge van kinders grootmaak in Europa, het ek tot taamlik onlangs gedink, is dat hulle nooit ’n skooluniform hoef te dra nie. Ek was op my dae in vyf verskillende skole, met vyf verskillende uniforms, en ek het elkeen van daardie uniforms op ’n verskillende manier geháát.

In my eerste haasbekjaar in ’n Kaapse skool was dit die aaklige wit bolhoed wat altyd te ver oor my oë afgesak het. Aangesien ek ’n skaam kind was wat meestal kop onderstebo deur die lewe beweeg het, het ek aanmekaar in bome en mure vasgestap. Jare later, in ’n Pretoriase hoërskool, was daar waaragtig ’n groter fiasko van ’n hoed. Iets wat jou soos ’n Duitse knaap uit die Swartwoud laat lyk, maar pleks van lederhose moes jy ’n geplooide romp met ’n rek in die middel dra. Net ’n meisie met Charlize Theron se figuur kan goed lyk in ’n geplooide romp met ’n rek in die middel. En aangesien die meeste tienermeisies nou eenmaal nie Charlize se lyf het nie, het daardie romp die meeste van ons se latente adolessente minderwaardigheidskompleks ’n stewige hupstoot gegee.

Soms wonder ek selfs of dit nie die perverse doel agter die meeste skooluniforms is nie. Om almal ewe onaantreklik en onseker te laat voel.

En tog, noudat my sestienjarige seun elke oggend voor skool die badkamer beset om sy lyf soos ’n Krismisboom te versier smag ek soms na die goeie ou skooluniforms van my jeugjare. Die lewe is soveel makliker as jy elke oggend wéét wat jy moet aantrek. As jy nie ’n daaglikse modeparade voor die spieël hoef te hou nie: Hierdie uitgerekte T-hemp lyk oukei saam met hierdie gaterige jeans, maar nie saam met die belt met die skedelgespe nie. En as ek swart sportskoene dra, werk die donkerblou bofbalpet weer nie so lekker nie . . .

Uniforms bespaar tyd, beskerm jou teen modeflaters en moedig gesonde gesinsverhoudinge aan. (Ongelooflik hoe beduiweld die res van die gesin kan word as die badkamerspieël elke oggend deur ’n “tittewytende” tiener oorgeneem word.) En dan praat ons nie eens van die geld wat gespaar word nie. Elke Suid-Afrikaanse ouer weet hoe duur skooluniforms kan wees, maar kinders wat nie skooluniforms dra nie, word elke dag meer onbekostigbaar vir Europese ouers.

Ons kinders het ’n obsessie met handelsmerke wat enige ouer tot waansin of bankrotskap (of soms selfs albei) kan dryf. Die tekkies móét Nike wees, die belt Dolce & Gabbana, die T-hemp DC – en die name, voorletters of logo’s móét so sigbaar moontlik op elke item verskyn. As jy my vra, is dit absurd om klerevervaardigers ten duurste te betaal net sodat jy ’n lopende reklamebord vir hul produkte kan word – maar my tienerseun vra nie my mening nie. Al wat hy vra, is meer sakgeld sodat hy die nuwe Nike-skoene kan koop wat almal dié maand op die skoolterrein móét dra.

Nou kyk ek met nuwe oë na daardie foto van die nors kind in die maroen skoolbaadjie. Dit was ek, natuurlik, en ek het daardie swart veterskoene met mening verag. Maar dit was tog ’n soort troos dat al die ander kinders se skoene ewe lelik was.

Wie sou ooit kon voorspel dat daardie meisietjie eendag nostalgies sou raak oor die eenvormigheid van ’n uniform? Dat sy ’n ma sou word wat soms diep uit haar hart wens sy kon haar seun – en sommer ook al sy modebewuste Franse maters – in ’n goeie ou skooluniform sien!