Rubrieke - Marita van der Vyfer

Onthou die oomblik

Dít sal ek en my tydgenote altyd onthou. Dit was ’n radioadvertensie van lank gelede, een van daardie legendariese reklameveldtogte wat deel van ’n ganse geslag se gesamentlike onderbewuste geword het. Soos die slagspreuk braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet. Deesdae is daar net sulke formidabele veldtogte, eish, maar ons sal ’n dekade of drie moet wag om te sien watter frases werklik wortel geskiet het in ons spreektaal.

Intussen glimlag ons nostalgies oor ons gedeelde Kodak-oomblikke. Nóg ’n reklamefrase. ’n Kodak-oomblik is daardie oulike/sentimentele/snaakse prentjies uit die alledaagse lewe wat ons vir altyd wil bewaar. Deesdae moet ons dit miskien eerder ’n selfoon-oomblik noem. Mik, druk en jy het dit, vasgepen soos ’n skoenlapper op ’n piepklein skermpie.

Probleem is, dit het té maklik geword. Ons geheues het lui geword. Ons hoef niks meer te onthou nie, ons neem net ’n foto. Been there, done that, got the picture to prove it. Kyk maar hoe marsjeer die meeste toeriste deur die groot kunsmuseums van die wêreld. Niemand kyk meer na die kuns nie. Hulle oë is vasgenael op die skerms van supermoderne fotografiese apparaatjies. Hulle bekyk die kuns via die skerm.

Terwyl ek nog altyd gemeen het die onvergeetlikste oomblikke in ’n mens se lewe is juis nie die Fotogeniese Grotes nie. Dis nie die Belangrike Datums, Mense en Plekke wat ek wil onthou wanneer ek terugdink aan die afgelope jaar nie. Dis die betowerende oomblikke wanneer ek nie ’n kamera byderhand gehad het nie, of dit nie betyds kon uitpluk nie, of net nie lus was om te bodder nie.

Die oomblikke wat eintlik té groot is vir ’n kamera. Soos die dag toe die sneeu onverwags in Parys uitgesak het. Dis my mees romantiese herinnering van die laaste jaar, miskien juis omdat dit nie op ’n huweliksherdenking of Valentynsdag of enige sogenaamd romantiese datum gebeur het nie. Ek en my wederhalf vaar albei beroerd as dit by sulke datums kom. As egpare eksamens moes skryf oor hoe hulle Valentynsdag vier, sou ons jaar ná jaar gedop het.

Dis nie dat romantiek nie vir ons belangrik is nie. Dis miskien eerder só belangrik dat ons weier om dit tot enkele betekenisvolle datums per jaar te beperk. Laas winter, byvoorbeeld, het ons ’n doodgewone dag saam in Parys deurgebring. Doodgewoon, bedoel ek, omdat dit nie ’n “datumdag” was nie. En tog het dit een van die spesiaalste dae in my lewe geword. Ons het dit reggekry, wonder bo wonder, om twaalf uur lank van ons kinders ontslae te raak. Om “vensters te lek” (dis die fraai uitdrukking wat die Franse vir window shopping gebruik) en ’n goeie museum te besoek en in ’n uitstekende restaurant te eet. Sonder om ’n enkele keer die kinders te hoor kla dat hulle museums haat of net hamburgers wil eet. Kortom, ’n sálige uitstappie. Al was die temperatuur veel laer as wat ons verwag het, al was ons skoensole ’n bietjie dun en ons jasse nie heeltemal warm genoeg nie.

Toe dit teen laatmiddag darem net té koud word, sleep ek hom by een van die groot afdelingswinkels in en ons vang die hysbak na die koffiekroeg op die boonste verdieping. Daar aangeland, besef ons dit het pas begin sneeu en ons stap verwonderd uit na die dakterras. En skielik lyk die Eiffeltoring in die verte asof dit vasgevang is in een van daardie kitsch papiergewigte met die dwarrelende wit vlokkies.

’n Fabelagtige toneel. En net daar op die winkeldak, terwyl die statige grys geboue om ons spierwit getoor word, soen my man my. En ek dink, van nou af sal ons ook kan sê: We’ll always have Paris … Soos Bogart en Bergman in Casablanca.

Parys en ’n soen in die sneeu.

Die lessie van die staaltjie is dalk dat jy soms jou elektroniese toerusting tuis moet los. Dink net, as ek op daardie oomblik met ’n kamera of ’n selfoon moes vroetel omdat ek die toneel op ’n skerm wou vasvang, het ek waarskynlik een van die mees romantiese soene van my lewe gemis.