Rubrieke - Marita van der Vyfer

Partytjiepret

Maar hier in die Noordelike Halfrond val ál vier se verjaardag in die winter, van kort voor Kersfees tot vroeg in Maart, wat beteken dat ek nou al meer as ’n dekade lank binnenshuise kinderpartytjies oorleef. Soos jy oorloë en orkane oorleef, dis hoe.

Elke winterse verjaardagpartytjie word met militêre presisie beplan en met militêre dapperheid verduur. En ná die tyd lyk jou huis soos ’n slagveld.

Winterpartytjies beteken g’n gebaljaar in ’n swembad of piekniek in ’n park of balspeletjies in ’n tuin nie, g’n kans om ’n swetterjoel opgewonde maatjies buitentoe te jaag om van oortollige energie ontslae te raak nie. Dit beteken bowenal dat Ma ’n week ná die partytjie steeds koeldrankvlekke uit matte skrop en versiersuiker uit bekleedsels was en koekkrummels onder beddens stofsuig en flenters geskenkpapier agter meubels opvee.

Van die oomblik dat die uitnodigings uitgedeel is, begin Ma intens belang stel in die daaglikse weervoorspelling. Daar is altyd die skrale hoop dat die son op die dag van die partytjie darem ’n halfuur agter die wolke sal uitloer, dat die wind nie orkaansterkte sal waai nie, dat die temperatuur nie té ver onder vriespunt sal daal nie, kortom, dat die kinders ’n bietjie buite kan speel om die tyd gouer om te kry.

Want jy sal nie glo hoe s-t-a-d-i-g elke minuut kan kruip wanneer jy drie uur lank ’n dosyn gillende kinders in jou huis moet vermaak nie. Teen die tyd dat hul ma’s hulle weer kom haal, is jy so doof dat jy moet liplees. En dan lê die Groot Opruim nog voor . . .

Boonop moet jy die verjaardagkoek minstens ’n dag voor die tyd bak, want ’n dramatiese donderstorm kan moontlik op die laaste oomblik al die elektrisiteit in jou huis afsny. (Dit gebeur gereeld in my huis.) Ek kan seker my sorge beperk deur ’n koek te kóóp – maar ek sal dit steeds self moet versier, want my kinders en al hul maats glo mos ek het ’n graad in koekversiering verwerf.

Dis omtrent my enigste aanspraak op roem, hier in Frankryk waar niemand weet ek skryf boeke nie, dat ek koeke in die vorm van dinosourusse of seerowerskatkiste of sprokieskastele kan vervaardig. (Al die ander ma’s, heelwat slimmer as ek, het sommer van hul kinders se geboorte af plat koeke in ’n enkele kleur by die boulangerie gekoop.) Die koekbouery word darem makliker met die jare, want die versoeke word minder verbeeldingryk namate die kinders ouer word. Tot hulle hier rondom dertien besluit hulle is nou klaar met die dinge van ’n kind (soos in dinosouruskoeke) en een van my doodgewone skewe sjokoladekoeke versoek.

My jongste, wat pas haar tiende verjaardag met ’n Amerikaanse tema gevier het, wou dié keer ’n koek in die vorm van die Amerikaanse vlag hê. Nou kyk, vir ’n ma wat op haar dag Doringrosie se kasteel uit blokke koek en roomyshorinkies (vir die kasteel se torinkies) moes optower, is ’n vlagkoek amper ’n belediging. Soos om Gaudi te vra om ’n eenvoudige tuinmuur te bou! Al wat jy nodig het, is ’n reghoekige koekpan en rooi en blou versiersuiker! Vir die koek, nie vir die tuinmuur nie.

Die gekleurde versiersuiker sou voorheen miskien ’n probleem gewees het, maar nadat ek in ’n boek verkondig het dat ek nie voedselkleursel op die Franse platteland kan opspoor nie, het talle goedhartige siele hulle oor my ontferm. Teen hierdie tyd het ek soveel botteltjies voedselkleursel ontvang dat ek elke aand my dogter se badwater pers of pienk of oranje kleur, net om badtyd interessanter te maak.

Die goeie nuus is ek het die Amerikaanse partytjie oorleef, soos die Mexikaanse een twee jaar gelede, en die Hannah Montana-pajamapartytjie laas jaar. Ek sal seker volgende jaar se tema ook oorleef. En oor ’n jaar of drie sal my jongste besluit sy’s ook klaar met die dinge van ’n kind, en ’n gewone skewe sjokoladekoek pleks van ’n kasteelkoek aanvra. Dit beteken dat ek ook klaar sal wees met die binnenshuise kinderpartytjies wat ek so verpes. Dís mos nou goeie nuus! Ek wens net iemand wil vir my verduidelik wáárom dié blye gedagte my skielik so half hartseer laat voel . . .

  • erawyjkk

    zyBPFJ qvnywbexfarg, [url=http://fahacofezvcw.com/]fahacofezvcw[/url], [link=http://fcryandsajrm.com/]fcryandsajrm[/link], http://qxqkcbqfnnjt.com/