Rubrieke - Marita van der Vyfer

Selloos

Ek verwys na volwassenes wat uit vrye wil, teen geweldige sosiale druk, verkies om sonder ’n selfoon te lewe.

Wat? Jy’t nie ’n selfoon nie?

Die reaksie wat jy kry as jy bieg dat jy nié dag en nag telefonies bereikbaar wil wees nie, wissel van ongeloof en afgryse tot afguns en aggressie. En “bieg” is die regte woord, want dis byna so moeilik soos om te erken jy’t ’n nare geslagsiekte of ’n ernstige eetsteurnis.

Dis nie dat ek selfone háát of die wysers wil terugdraai na die Donker Middeleeue toe mense posduiwe moes gebruik om met mekaar te kommunikeer nie. Ek besef maar te goed dat hierdie simpel apparaatjie met sy “grappige” luitoon vir baie van ons ’n noodsaaklike euwel geword het. “Ek wens ek kon daarsonder klaarkom, maar . . .” Nog ’n reaksie wat ek gereeld kry.

Ek begryp dat selfone vir die meeste werkende ouers ’n troos geword het, ’n manier om kontak te behou met kinders wat te min gesien word. Ek beveel beslis nie aan dat ons almal ons tieners se selfone konfiskeer nie. (In my eie huis sal dit ’n muitery veroorsaak wat die Franse Revolusie soos ’n plesierige piekniek laat lyk.) Ek verstaan dat ’n selfoon my veiliger gaan laat voel as ek vrou-alleen laatnag in ’n gevaarlike buurt bestuur en my
motor begin onverklaarbaar ruk of stol . . .

Maar daar’s ’n tyd en ’n plek vir alles. Selfs vir ’n selfoon. Dis ’n tegnologiese prestasie wat veronderstel is om jou lewe makliker te maak, nie om jou lewe oor te neem nie. Die probleem met ’n selfoon is, dis so verslawend soos dagga of kokaïen. En net so nadelig vir jou brein, jou sosiale gedrag of
doodgewone goeie maniere.

Dis die alomteenwoordigheid van selfone wat my tot raserny dryf. Die manier waarop nege uit tien passasiers op ’n vlug tussen Johannesburg en Kaapstad na hul selfone gryp die oomblik as die vliegtuig land – asof die twee uur sonder selfoon vir hulle net so ondraaglik was soos twee uur sonder sigarette vir ’n armsalige kettingroker op dieselfde vlug. Die feit dat jy nie meer op ’n afgeleë strand kan lê of ’n berg kan klim sonder om iemand anders se selfoon te hoor lui nie. En dan gedwing word om na ’n bulderende, banale gesprek te luister, want op sulke “afgeleë” plekke is die ontvangs klaarblyklik so swak dat jy moet bulder om gehoor te word.

In die ou dae het dokters en ander mense met Lewensbelangrike Beroepe sulke bliepende apparate aan hul broek vasgeknyp. As jy in ’n donker rolprentsaal sit en die man langs jou se blieper begin raas, het jy jou nie vervies nie, want jy’t geweet hy word dringend gesoek om iemand se
lewe te gaan red. Die probleem is, deesdae gedra elke selfooneienaar hom soos iemand met ’n Lewensbelangrike Beroep, selfs dié wat nie werk nie. Dalk verál dié wat nie werk nie, dink ek as ek na die tieners op ons dorp kyk. Asof elke oproep ’n saak van Lewe of Dood is.

Soms voel ek soos die enigste oorblywende volwassene in die wêreld wat nié ’n Lewensbelangrike Beroep het nie. Wat opreg glo dat die aarde sal aanhou draai – minstens vir nog ’n rukkie? – as ek nie te alle tye telefonies bereikbaar is nie. En tog vermoed ek daar moet heelwat meer sulke
sellose siele daar buite wees.

Miskien moet ons ’n organisasie stig om ons belange te bevorder. Iets in die lyn van die wonderbaarlike slow food, wat twee dekades gelede begin is deur ’n enkele keelvol Italianer – keelvol van die wêreldwye verskynsel van fast food. Dis ’n beweging wat intussen gegroei het tot meer as honderdduisend lede in meer as honderd lande. En dan kry ons, soos slow food, ’n lekker naam wat alles sê. Wat van Celling Out? Belangstellendes kan my gerus kontak. Moet net nie ’n selfoonnommer vra nie!

  • Suzanne Koertzen

    Jy praat so na my hart!! Kry een maal in ses maande besoek van ‘n vriendin wat vir vyftien minute kom inloer en haar selfoon lui in daardie kort rukkie drie maal en neem een derde van die besoektyd in beslag!