Rubrieke - Marita van der Vyfer

Sewe sakke sout

Maar selfs dié van ons wat soms moet stry teen ons eie sinisme – dalk veral dié van ons wat stry teen sinisme – wil tog só graag glo in Die Liefde.

Wel, ek weet nie van ewigdurend nie, maar hier op my Franse dorpie was daar tot laas jaar ’n paartjie wat vir my die lewende, lopende, pratende bewys geword het van langdurige liefde. Liefde wat harde bene gekou het, liefde wat sewe sakke sout saam opgeëet het, liefde wat liefde gebly het. Ondanks alles.

Monsieur en Madame Valentin (nee, dis nie hul regte naam nie, maar kom ons noem hulle so) was albei kromgetrek deur die ouderdom. Hy lank en maer en krom, sy klein en fyn en krom, albei knoetserig soos bejaarde wingerdstompe. Hulle het ’n entjie laer af in ons straat gewoon, alleen en onafhanklik, in ’n dubbelverdiepinghuis met ’n indrukwekkende groentetuin langsaan. Monsieur Valentin het die tuin aan die gang gehou – sonder ’n kraan of ’n tuinslang – met net ’n outydse gieter en die fontein oorkant die straat.

Ek het soms verwonderd gekyk hoe hy die gieter by die fontein vul en dit so stadig soos ’n trapsuutjies terugdra na sy kosbare groenteplantjies. Dan voetjie-vir-voetjie terug na die fontein met die leë gieter, en dan nóg stadiger terug na die tuin met die vol gieter, oor en oor. ’n Liefdesdaad, as ek al ooit een gesien het.

Die ander gróót liefde in Monsieur Valentin se lewe was Madame Valentin. Elke oggend het ek Monsieur met sy kierie in die straat voor my slaapkamervenster hoor klop-klop-klop, op pad na die bakker om vir Madame ’n baguette te koop. Elke skemeraand het die paartjie saam gaan wandel, hand-aan-hand, vooroor gebuig asof hulle teen ’n woeste wind inbeur. Selfs wanneer die wind nie waai nie. Elke keer as ek hulle so saam sien voortbeur teen die dood, het ek ’n knop in my keel gekry.

Of hulle ooit kinders gehad het, weet ek nie. Ek het nooit jonger mense, of eintlik enige ander mense, saam met hulle opgemerk nie. Monsieur het nooit saam met die ander gryskoppe op die dorp boules onder die populiere gespeel nie. Madame Valentin het nooit saam met die ander tannies in die straat staan en skinder nie. Eers ’n maand of drie gelede, ná Monsieur se kierie stil geraak het, het ek hulle vreemde afsondering begin begryp.

Madame Valentin het een nag gesterf, en skielik was Monsieur Valentin se lewe so sinloos dat nie eens sy geliefde groentetuin hom aan die gang kon hou nie. Binne enkele weke ná sy vrou se dood is hy opgeneem in ’n tehuis vir verswakte bejaardes.

Toe ek teenoor ’n buurvrou bely dat ek die daaglikse geklop-klop van sy kierie in die straat mis, buig sy nader aan my en fluister met onverwagse bitsigheid dat niemand anders op die dorp hulle sal mis nie. Het ek dan nie geweet hulle was collaborateurs nie?

Dié woord – wat my buurvrou soos vrot melk uitspoeg – beteken “medewerkers”. Maar ek woon al lank genoeg hier om dadelik te weet watter soort medewerking bedoel word. Méér as sestig jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Franse steeds nie hul bure wat met die Nazi’s saamgewerk het, vergewe nie. Collaborateur bly een van die ergste beledigings wat jy teen iemand se kop kan gooi, selfs vir mense soos my buurvrou wat eers ná die oorlog gebore is.

Skielik moes ek met ander oë na my oulike Valentynspaartjie kyk. Miskien was hul groot liefde bloot hul enigste skans teen dekades van skande en skaamte op ’n klein dorpie? En tog kan hierdie agterna-kennis nie die prentjie van die twee kromgetrekte lywe so styf langs mekaar uit my herinnering vee nie.

Ja, ek weet nou hulle het vroeg in hul lewe ’n morele fout gemaak. Of erger, miskien lewenslank bly glo hulle was reg. Maar ek weet ook, met meer sekerheid as ooit, dat Die Liefde nooit so eenvoudig is soos dit op soetsappige Valentynskaartjies voorgestel word nie.