Rubrieke - Marita van der Vyfer

Shakespeare wie?

Dié dat ek die afgelope Europese somer verheug was om te hoor dat Shakespeare net hier om die draai van ons dorp in die buitelug opgevoer gaan word. In die voorhof van ’n regte sprokieskasteel. Net die ding om die barbaarse Afrikaans-Franse bende in my huis aan ’n onsterflike Engelse dramaturg voor te stel, dog ek so ewe.

Min het ek geweet watter swaar stryd vir my voorlê …

“Ek háát Shakespeare!” roep Mia dadelik uit toe ek my plan aankondig.

“Wat weet jy van Shakespeare?” vra ek, opreg verbaas, want Shakespeare is sover ek weet nie deel van 7-jarige Franse skoolkinders se leerplan nie.

O, sy weet hy skryf tragedies wat almal laat huil, antwoord Mia, en sy háát dit om te huil. Maar hy het ook komedies geskryf wat almal laat lag, troef ek haar, en ons gaan na ’n komedie kyk. Dit vat toe sowaar die wind uit haar seile en ek wen die veldslag – maar nie die oorlog nie. Ek ken my kind. Sy’s so koppig soos ek.

Drie dae later kom die volgende aanval, maar tot my verstomming het sy intussen van kamp verander. “Ek kan nie wag om na Shakespeare te gaan kyk nie!” roep sy uit toe sy by die voordeur inbars. Ek vermoed 7-jarige sarkasme en gee haar ’n kwaai kyk. Nee, sê sy, haar juffrou sê Shakespeare is die grootste skrywer van alle tye. (Wat net weer wys: Die opinie van ’n goeie juffrou, in ’n sekere stadium van jou kind se lewe, weeg swaarder as al jou wyshede saam.) “Beteken dit hy’s ’n groter skrywer as jy ook, Mamma?” wil sy weet. Sonder ’n spoor van sarkasme.

Ja, my kind, knik ek beskeie, hy is inderdaad groter as ek.

Die volgende oggend kom die uitklophou. Met ontbyt kondig Mia aan dat sy die opvoering wil benut om Shakespeare se handtekening te vra. Want sien, haar klasmaat en sokkerspanmaat Petit Valentin het gister heeldag met ’n nasionale sokkerspeler se handtekening loop en spog. As sy nou die grote Shakespeare se handtekening kan kry, sal sy die kleine Valentyn mos lekker op sy plek sit …

Net daar begin ek kleitrap. Bang as ek verduidelik dat Shakespeare ongelukkig nie sy handtekening sal kan uitdeel nie, smoor ek summier die vonkie van belangstelling in haar. Met groot omsigtigheid probeer ek dus die slegte nuus oordra. So Shakespeare is dóód? vra sy verslae. Hóé dood? Wel, besonder dood, sou ek sê. Al eeue lank dood, eintlik.

Maar dis nie die ergste nie, troos ek. Jy kan die akteurs se handtekeninge vra. Party van hulle was selfs al op TV te sien!

Nee, sê my bedrukte dogter, akteurs sal nie vir Petit Valentin imponeer nie.

Op die ou end moes ek haar min of meer sleep na die konsert, vir haar én haar brommende broeders – en toe is almal dol op die opvoering. Mia het die ganse rolbesetting se handtekeninge ingeoes om vir Petit Valentin en die res van haar sokkerspan te probeer imponeer. Dit het nie gewerk nie, maar iets veel interessanters het gebeur.

Pfft, blaas Mia ná die volgende sokkeroefening oor haar glas melk, sokkerspelers kan ook maar onnosel wees, nè? Om te dink hulle weet nie eens wie Shakespeare is nie – óf dat hy al eeue lank dood is nie. Miskien moet sy aanstaande jaar die sokkerspelery los, mymer sy, en eerder dramaklasse kies?

Nou is ek meer oortuig as ooit van Shakespeare se toorkrag. Binne ’n enkele aand het hy ’n rabbedoe-sokkerspeler in ’n potensiële toneelprinses verander. Glo my, nie eens Harry Potter – die ander Groot Towenaar in my kind se lewe – sou dít kon regkry nie.