Rubrieke - Marita van der Vyfer

So hittete

Maar nou lê die hele sidderende sage nog voor. En ek praat nou nie van gevaarlike ys op die paaie of bome wat omgewaai word deur woeste storms nie. Nee, ek het dit hier oor binnehuise bewerasie veroorsaak deur ’n ou en onbetroubare verhittingstelsel.

Ons wat in geseënde sonnige lande gebore is, ken mos nie eintlik van sentrale verwarming nie.

Ons is gewoond daaraan dat dit in die winter dikwels kouer is in die huis as buite. Ons gee nie om om swaar woltruie aan tafel te dra nie, anders as die gemaksugtige Europeërs, wat daarop aandring om met kaal arms te eet terwyl dit buite sneeu. Ons slaap gedwee met warmwatersakke of onder ’n onaardige spul komberse, en as ons nou rêrig snags móét opstaan om badkamer toe te gaan, dan doen ons dit blitsig en bibberend.

En ons is nie gewoond daaraan om met toe vensters te lewe nie. Hoewel daar deesdae diefwering voor die meeste vensters is, bly hulle selfs op die skraalste winternag so op ’n skrefie oop. Ons longe dring aan op vars lug, selfs vriesende vars lug, eerder as muwwerige, louwarm, gebruikte suurstof wat uit ’n masjien geblaas word.

Dít het deeglik tot my deurgedring toe ek ’n klompie jare gelede saam met ’n groep Afrikaanse skrywers na die Antwerpse boekeskou genooi is. Vroeg die eerste oggend staan ek in die bevrore binnehof van die eertydse Vlaamse klooster waar ons gehuisves word en ek sien op elk van die vier verdiepings is net so hier en daar ’n venster oopgemaak. Die res is so dig verseël soos visblikke. En toe weet ek skielik: Dis my landgenote se kamers, dié met die oop vensters.

Ná ’n dekade in Europa is dit steeds vir my een van die moeilikste dinge om aan gewoond te raak, die winterse gebrek aan vars lug. Die diktatuur van sentrale verwarming.

En aangesien die diktator in ons huis al langer in die tuig is as Kuba se Castro, ly ons gereeld onder stakings en terrorisme en dergelike krisisse. Elke paar maande gee ons verhittingstoestel die gees en dan verander ons nogal gesellige ou kliphuis oornag in ’n enorme yskas. Laas winter het ek op ’n kol met handskoene sit en skryf, mond en neus stewig toegewikkel in ’n serp, diep besorg oor ek aanhoudend gaap en iewers gehoor het die eerste stadium van noodlottige verkluiming is eintlik maar net soos om aan die slaap te raak …

Boonop het dit die afgelope paar jaar peperduur (of petrolduur) geword om brandstof vir die antieke toestel te koop. Aan die ander kant sal dit te veel kos om die uitgediende affêre te vervang deur ’n moderne en omgewingsvriendelike energiebron soos sonstrale of aartappelskille of wat ook al. Daarom stop ons elke winter maar net die nodigste gate toe.

Soms bra letterlik.

Soos toe ons onlangs weer die toestel moes aanskakel ná sy lang somer-rus. “Werk fantasties!” roep my optimistiese Fransman uit terwyl hy van vertrek na vertrek stap en ingenome teen elke radiator klop. Moenie die noodlot tart nie, wil ek nog sê, toe hoor ek sy benoude hulpkreet uit die kombuis.

’n Piepklein skroefie wat nie behoorlik vasgedraai was nie, is deur die skielike drukking van die water in die pyp soos ’n sjampanjebottel se prop uitgeskiet – waarop liters en liters water in ’n onkeerbare, skuimende straal deur die vertrek begin spuit het. Daar staan my paniekbevange man toe met sy vinger in die pyp gedruk, soos die staaltjie oor die heroïese Hollandse seuntjie wat ’n gat in die dyk toegedruk het om te keer dat die hele laeland wegspoel, terwyl ek en die kinders op die oorstroomde vloer rondkruip – rondswem, amper – op soek na die minuskule skroefie.

Die goeie nuus is dat die vloer daarna vir die eerste keer in weke werklik skóón was.

Maar op daardie oomblik van spuitende water en gillende kinders en algemene wanorde het ek presies verstaan wat Shakespeare bedoel het met the winter of our discontent. Myne het pas begin. Weer eens.