Rubrieke - Marita van der Vyfer

Soos die sonbesies

Hulle steur hulle net mooi niks aan die wêreldwye ekonomiese krisis. Min gepla met die verdrietige feit dat vele Franse vanjaar gedwing word om ’n meer beskeie somervakansie te beplan – korter, goedkoper, nader aan die huis – of glad nie eens kan weggaan nie.

Nee wat, die sorgelose insekte sing lustig voort omdat die son tot laat saans skyn. Omdat die lug blou is en na laventel ruik. Omdat die lowergroen platane skaduwee en koelte bied.

Dalk kan ons ’n les by hulle leer. Want teen die tyd dat hierdie woorde in SARIE gelees word, sal die Europese somer ook al weer oor wees. En ek wil tog nie terugkyk na ’n seisoen waarin ek so gewroeg het oor die ekonomie dat ek skoon vergeet het om die son te waardeer nie!

Maar hoe bied jy vir jou gesin ’n somervakansie op ’n begroting wat krimp soos ’n woltrui wat in te warm water gewas is? Die antwoord, vir ’n groeiende aantal Franse, is ’n strategie wat Suid-Afrikaanse binnelanders al jare lank beproef. Jy bedel ’n bed (of ’n matras op die vloer) by familie wat naby die see woon, dan voel dit darem soos vakansie. (Nie vir die arme familie by die see nie, maar dis weer ’n ander storie.)

Vir ons gesin is dit nie ’n praktiese opsie nie. Ons Franse familie woon almal in die minder aanloklike noorde van die land. Húlle kom gewoonlik in die somer by óns in die warm suide afpak, nie andersom nie. (Dié dat ek weet watse harde werk sulke gaste kan wees – hoe lief jy hulle ook al het.)

En ons Suid-Afrikaanse familie is te ver. Ons kan genoeg beddens vir die hele gesin bedel, maar ons kan nie bra verwag hulle moet ons vliegtuigkaartjies ook nog
betaal nie.

Die Europeërs kampeer glo ook vanjaar in groter getalle as ooit voorheen, omdat dit meer bekostigbaar is as om huise te huur of in hotelle te bly. Terug na die

natuur gedwing deur die ekonomie, sou ’n mens hoopvol kon sê. Behalwe dat die meeste oorbevolkte Europese kampeerterreine met swembaddens, wasmasjiene en haardroërs vrééslik ver van die vrye natuur voel.

Daarom gaan jy my beslis nie in so ’n luuksueuse strafkamp vang nie. Dan ry ek eerder in Jan Tuisbly se karretjie. Klaar besluit.

Mens mik mos alewig vir die sogenaamde groener gras anderkant die draad, maar ’n vlugtige kuier op die internet het my pas weer herinner aan hoe geil die gras
in my eie agterplaas groei. Goed, ek moet bieg, baie van die bekendste besienswaardighede in Provence en omstreke het ek tot dusver doelbewus vermy. Te veel toeriste, maak ek elke somer verskoning – en dan vergeet ek gerieflikheidshalwe dat ek self nie só lank gelede nie as begeesterde toeris hier opgedaag het. Glo dit of nie, maar ek het byvoorbeeld nog nooit by die skilder Cézanne se ateljee in Aix-en-Provence of by die filosoof Camus se laaste rusplek op die dorpie Lourmarin uitgekom nie. En dan is daar Picasso se château naby Aix – pas vir die eerste keer aan die publiek oopgestel! – en die fabelagtige feëpaleis wat ’n moontlik waansinnige posbode by Hauterives gebou het.

Hierdie droompaleis waaraan die posbode Cheval drie dekades lank elke nag gewerk het, is ’n historiese monument wat ek nog altyd wou besoek, maar daar was
altyd iets anders, verder, skaarser, wat éérs gedoen moes word. Nou sien ek die paleis word omring deur ’n lieflike park waar ons kan piekniek hou. En op pad daarheen is ’n rivier waar ons kan swem. Wat meer kan enige gesin van ’n daguitstappie vra? Skielik is ek so opgeklits oor my voorgenome kuier by die posman se paleis dat ek byna dankbaar voel vir die crise économique!

Want as ek één les in hierdie ekonomiese krisisjaar geleer het, is dit om na die sonbesies te luister. Om my te verheug in die somer, in die lang loom dae en die lug wat na laventel ruik, ondanks die resessie. Om elke sonnige oomblik te waardeer, want dis weldra weer winter, en dan  gaan ek gewis die geraas van die sonbesies mis.