Rubrieke - Marita van der Vyfer

Stelselmatig

Met ander woorde, ek is nie neuroties netjies nie en my huis is allesbehalwe obsessief skoon. Maar ek glo in stelsels. In my huishouding, in elk geval. Nie omdat ek fluks is en dit geniet om dinge te rangskik en reg te pak nie, maar omdat ek lui is en huishou as tydmors beskou.

Stelsels maak die lewe makliker. As jy weet die vurke is altyd in die linkerkantse vakkie in die tweede laai van bo langs die stoof, kan jy selfs geblinddoek die vurke vind. As daar sê nou maar een aand onverwags ’n kragonderbreking kom, kan jy in die donker die kerse in dieselfde kas as die servette raakvat.

Die probleem is, die res van my gesin sien glad nie die punt nie. “Wáárom sou jy nou geblinddoek deur die kombuis wou loop?” vra my man verstom as ek verduidelik van die vurke wat hulle plek moet ken. Maar sê nou ek lê siek in die bed? vra ek, geïrriteerd deur sy stiksienigheid. Sê nou ek moet op ’n dag vir iemand anders verduidelik waar om die borde te vind? Nou lyk my man éérs verstom. (Ek het mos al op hierdie bladsy geskryf oor my gesin se rare geloof dat ek nie die reg het om siek te word nie.)

In die totaal onwaarskynlike geval van ’n siek ma, verseker Alain my met ’n tikkie verontwaardiging, sal die pa en die kinders darem seker slim genoeg wees om die borde te vind.

Ek is nie so seker daarvan nie.

Wanneer ek die seuns se gewaste klere in hul kaste pak, rangskik ek die langbroeke op een rak, kortbroeke op ’n ander en onderbroeke eenkant. Logies, prakties, maklik, vinnig. Maar die enkele kere wanneer hulle self hul kaste moet rangskik – as ek byvoorbeeld vir ’n paar dae weggaan – word alles holderstebolder op ’n rak gegooi. T-hemde en truie deurmekaar, onpare sokkies, vuil klere sommer so tussen die skoon klere ingeprop.

As ek protesteer, kyk hulle werklik onbegrypend na my. Die deurmekaarspul pla hulle nie. Inteendeel, dis nogal opwindend, amper soos daardie kostuumbokse waarmee hulle gespeel het toe hulle klein was. Jy weet nooit waarop jy gaan afkom as jy bietjie rondkrap nie!

En elke keer as ek na my man se laaie kyk, besef ek dat ek ’n vergeefse stryd stry. Die wanorde in ons huis is waarskynlik geneties. En beslis aansteeklik. Selfs ons kat lyk vir my slordiger as die ander katte in die straat.

Die enigste vonkie hoop in hierdie donker chaos is dat meisiekinders moontlik minder vatbaar is vir die siekte. Mia kon op 5 jaar reeds beter bed opmaak as die 19-jarige Thomas. En nie omdat ek haar beter geleer het nie. Ek is die soort vrou wat genoeg feministiese artikels in my vormingsjare gelees het om te glo dat seuns, soos meisies, van jongs af geleer moet word om te stofsuig en te kook. Ek het hard probeer om die saad van orde by ons drie seuns te saai.

Dis net, wel, die saad het op besonder bar grond geval.

Ek moet bieg soms, net soms, wanneer ek byvoorbeeld ongelukkig word omdat ek nie die hele ry nat wasgoed op die lyn met dieselfde kleur pennetjies kan vasknyp nie, vermoed ek dat my sin vir orde miskien ’n bietjie obsessief raak. Maar dan kyk ek om my rond, na die sokkerbal en die skaatsplank op die eetkamertafel, of die toestand van my man se onderklerelaai, of Mia se kamer nadat sy ’n piekniek met 20 poppe en teddiebere gehou het. En dan weet ek, nee, ek het nie ’n keuse nie.

Ek móét aanhou om die stryd te stry, ondanks my luiheid en my leeslus, anders gaan die ganse huis in wanorde wegsink. En dan gaan ons nooit weer die vurke, die borde of – ergste van alles! – die boeke kry nie.

En dan verduidelik ek maar weer, vir die drieduisendste keer, vir my gesin waar die vurke hoort.