Rubrieke - Marita van der Vyfer

Sterrekyk

Ja, goed, die landskap is poskaartmooi, die kos is fantasties en Frans is ’n pragtige taal om heeldag na te luister – maar dis nie asof ons in Hollywood woon nie, hoor. Die grootste gedeelte van die jaar gebeur hier net mooi niks op ons beskeie plattelandse dorpie. Saans kyk ons sterre – in die lug, nie op TV nie – of ons gaan bedees met ’n boek bed toe.

Die enigste gesinslid wat ’n opwindende naglewe geniet, is die kat.

Maar so een keer in ’n skrikkeljaar tref ’n rilling van amper histeriese opwinding ons dorpie se gesamentlike ruggraat. Soos die keer toe ons gehoor het die grootste TV-kanaal in die land gaan ’n soort Big Brother-reeks op ’n plaas in ons omgewing kom skiet. Al die plaaslike ondernemers, van die bakker tot die bloemiste, het gedog hulle gaan ’n spul geld maak. En die res van ons het gedog ons gaan heeldag skouers skuur met beroemdes en sjiek Parysenaars.

En toe werk dit nie so nie.

Die sjiek Parysenaars het alle benodigdhede – van brood tot blomme – van Parys af ingevoer. Die beroemdes het nooit die plaas verlaat nie. En ’n hoë muur het oornag om die terrein verrys om nuuskierige agies en afloerders weg te hou.

Dié dat ons begryplik skepties was toe ons laas somer gerugte begin hoor dat ’n beroemde figuur uit Hollywood ons dorpie gaan besoek. Saam met ons gaan kom kuier, kan jy glo, by die fees wat die Amerikaanse buurman beplan om Independence Day op 4 Julie te vier. Ja, almal van ons, want die buurman het – met ’n prysenswaardige Amerikaanse sin vir demokrasie – verteenwoordigers van alle sosiale vlakke na sy partytjie genooi. Van die munisipale werker wat die strate vee tot ’n paar bejaarde burgers van die bourgeoisie wie se voorsate al sedert die Middeleeue hier woon.

Kan nie wees nie, dog ek toe my seun kom sê die posbode se dogter sê die haarkapper sê dis ’n wêreldbekende regisseur wat kom kuier. Nee, dis wáár, verseker die vullisverwyderaar my die volgende dag. Glo die ou wat Sixth Sense gemaak het. Jy weet, met Bruce Willis? Presies wat sý ook gehoor het, bevestig ’n vrou voor my in die ry van die supermark. Die man het so ’n ingewikkelde Indieserige naam.

“M. Night Shyamalan!” gil my seun in ekstase nadat hy op die internet gaan kyk het. Meneer Malan, noem ons gesin hom sommer kortweg terwyl ons in spanning op die groot aand wag. Want soos almal op die dorp is ons te ordentlik om die ordentlike Amerikaanse buurman reguit te vra of die gerug waar is of nie. (Of dalk het ons net die spanning nodig om ons saai bestaan bietjie op te kikker.)

Hoewel ek steeds nie rêrig aan die storie wou byt nie. Selfs toe die feesaand eindelik aanbreek en die gasvrou my aan die egpaar Shyamalan voorstel (waarskynlik omdat ek die enigste gas was wat in gangbare Engels met hulle kon kommunikeer), het ek vermoed dis alles net ’n uitspattige poets. Dié Indiese meneer Malan was darem net té beleef en beskeie, sy vrou té eksoties beeldskoon, hulle twee dogtertjies té fraai in hulle pienk frilletjiesrokke.

Buitendien, dis net nie die soort ding wat op ons dorp gebeur nie! Stel jou voor, om op Independence Day langs die bure se swembad te staan (met ’n hamburger en ’n glas Coke in die hand) en met ’n wêreldbekende regisseur oor sy volgende rolprent te gesels. Asof ons in Hollywood woon!

Terug by die huis het ek dadelik ’n paar internetfoto’s van M. Night Shyamalan opgesoek – en raai, toe ís dit sowaar die saggesproke meneer Malan met wie ek langs die swembad staan en gesels het. Nou wonder almal op die dorp natuurlik wie die Amerikaanse buurman vanjaar na sy Independence Day-fees gaan nooi. Ons standaarde het mos nou gestyg.

Aan die ander kant, as niemand besonders opdaag nie, sal dit ook nie rêrig saak maak nie. Ons is steeds meer gewoond aan sterre in die lug as aan sterre van Hollywood.