Rubrieke - Marita van der Vyfer

Suinig word sjiek

Toe ek nog klein was (onvoorstélbaar lank gelede vir my kind), het ek my oë omgedop vir oujongnooitantes wat plastieksakkies uitspoel en aan die wasgoedlyn hang, of klam en papgebruikte teesakkies spaar vir “weer gebruik”.

Ek het grootgeword in ’n oorvloedige era, vertel ek terwyl my kind verwonderd in haar bed lê en luister, toe spaarsamigheid dikwels met suinigheid verwar is. Ek
en my maats het geamuseerd kop geskud oor ma’s wat leë margarienbakkies en glasflessies bewaar, en oupas wat los skroewe en stukkies tou bêre. En dan was daar ons arme pa’s wat aanmekaar gekla het oor ligte wat onnodig brand en elektrisiteit wat gemors word. Sulke belaglike klagtes het ons bloot geïgnoreer. Sonder enige gewetenswroeging.

Sien, ons het gelewe in ’n wêreld waar ons alles eerder weggegooi as weer gebruik het, van bottels tot babadoeke, van koerante tot karre. Ons het nooit, soos ons ouers of grootouers, die ontbering van ’n Groot Depressie of ’n Groot Oorlog ervaar nie. Ons het roekeloos gekoop, verbruik, weggegooi, sonder om te besef dat ons besig is om die aarde in ’n enorme vullisdrom te verander – en dat so ’n misbruikte planeet nie vir ewig kan aanhou om energie vir so ’n gierige mensdom te verskaf nie.

“Rêrig, Mamma?” vra my negejarige dogter ongelowig. “Was julle só dom?”

Ja, my kind. Die slegte nuus is ons wás so dom. Die goeie nuus is, miskien, dat dinge só verander het dat jy en jou maats nou sukkel om te glo hoe morsig ons  was. Hier in Europa is ons terug waar ons dekades gelede was, vóór spaarsamigheid ’n verdagte woord geword het. En wêreldwyd is die wiel aan die draai.

Want wat ons deesdae “herwinning” noem, is eintlik mos maar net ’n byderwetse frase vir daardie vervelige ou “weer gebruik” van ons oujongnooitantes. Ek moet bieg ek gril stééds vir klam en koue teesakkies, verkies steeds om hulle weg te gooi eerder as weer te gebruik, maar ek gooi hulle minstens weg in die “regte” vullishouer agter die kombuisdeur. En die vyf houers, vir onderskeidelik papier, glas, plastiek, blik en “nat gemors”, word elke paar dae pligsgetrou na die “regte” herwinningsdromme op die dorpsplein gedra. Ons doen dit dalk in groter maat, met ’n bietjie meer flair, maar dis nie só anders as ons ma’s wat leë margarienbakkies gebêre het nie, of hoe?

Hierdie nuwe soort “suinigheid” het ontkiem in die groeiende ekologiese bewussyn van die afgelope paar jaar, maar eers waarlik begin blom in die ekonomiese
krisis van die laaste maande. Shop till you drop is net nie meer iets om oor te spog nie. Spaarsamigheid is besig om ’n statussimbool te word.

My oorle’ oupa met sy skroewe en sy stukkies tou sou dít sowaar nooit kon voorspel nie.

Op TV wys elegante Paryse vroue hoe hulle hul eie seep en sjampoe in hul eie kombuise maak, en in die voorstede kan jy aandklasse loop en leer om self skottelgoedvloeistof en vloerpolitoer te vervaardig. Oor die radio verduidelik groot kokkedore van die kookkuns – wat tot onlangs nog resepte vir onbekostigbare truffel-belaaide geregte uitgedeel het – ewe beskeie hoe jy met goedkoop bestanddele steeds verbeeldingryke etes kan optower. En op die internet dryf oud en jonk verbete handel om enigiets van gehoorapparate tot skaatsplanke teen die laagste moontlike prys aan te skaf.

Suinigheid, kan jy maar sê, het sjiek geword.

Of in elk geval moreel regverdigbaar. In ons huis kla my man al jare lank, soos miljoene moedelose pa’s voor hom, oor ligte wat in leë vertrekke brand en radio’s
wat vir niemand speel nie – sonder enige bespeurbare gewetenswroeging by ons kinders. Toe kry hy laas jaar die briljante idee om die krimpende energiebronne
van die aarde as getuies teen die beskuldigdes in te span. Dit het ’n enkele preek oor ’n donker en droewe toekoms gekos, toe begin die kinders skielik onthou om elektriese toerusting af te skakel.

Hulle doen dit steeds, meestal. Nie om ’n klaende knorpot van ’n pa tevrede te stel nie, maar om ’n kosbare planeet van ondergang te red. En die pa gee nie rêrig om dat hy minder belangrik geag word as die planeet nie.

  • Marita

    Ek kan nou ook op Facebook ‘besoek’ word. Sluit gerus aan by die 2 groepe wat onlangs in my naam geskep is (Marita van der Vyver Fans en Marita van der Vyver – official group) en gesels saam. Ek sal probeer om gereeld van my te laat hoor!

  • berlinda

    sal lekker wees….geniet jou skryf styl en natuurlik die gesins-ervarings op die Franse platteland

  • Marita van der Vyver

    Sien jou op Facebook, Berlinda. Die 2 groepe is besig om saam te smelt in een ‘Marita van der Vyver – official group’. My 17-jarige seun is een van die ‘administrateurs’. Vir die eerste keer in sy lewe stel hy belang in sy ma se skryfwerk!