Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita se tafel met 20 disse

“Wat eet jy en jou mense vir Kersfees daar in Provence?” wil mense altyd by my weet. Die eerlike antwoord is: Waarvoor ons lus is, wat vir ons lekker is, binne die perke van ons begroting, natuurlik. Gewoonlik so ’n paar happe Franse tradisie gemeng met ’n goeie skeut Anglo-Saksiese of Afrikaanse genot.

Maar vanjaar is die jaar dat ons ’n tradisionele Provensaalse Kersmaal gaan aandurf. Of in elk geval ’n afgeskaalde weergawe van die tradisionele tafel met twintig (ja, reg gelees, twintig) Kersdisse, want dáárvoor het jy ’n skare gaste nodig terwyl ons meestal ’n beskeie gesinsfees vier. Die rede is eenvoudig dat ons familie, aan alle kante, te ver van ons woon om te kom help eet. Bygesê, die twintig geregte is nie die soort eet-tot-jy-nie-kan-opstaan-kos wat die Kersfeeste van my kinderdae gekenmerk het nie. G’n gestopte kalkoene, skaapboude en dies meer nie. Die regte-egte Provensaalse Kersmaal is vleisloos, glo dit of nie. (En dis klaar genoeg om te verseker dat my vleisbelustigde Afrikaanse familie so nooit as te nimmer by my sal kom Kersfees hou nie.)

Le gros souper word op Oukersaand voorgesit as innerlike versterking voordat die Mis om middernag die nodige geestelike versterking verskaf, en bestaan uit sewe vleislose “hoofgeregte” en dertien nageregte. (Die ewige kind in my is mal oor die idee dat daar meer poeding as “kos” op enige tafel kan wees.) Alles word gelyktydig op die tafel uitgestal en elke gas is veronderstel om ’n happie van elke gereg te proe, veral die dertien nageregte, om geluk in die komende jaar te verseker. Amper soos ’n skemerkelkie-buffet – behalwe vir die baie belangrike feit dat jy sit en eet. G’n opregte Fransman sal met ’n bordjie en ’n glas in die hand staan en knibbel aan sy kos nie. Ons is nie vee wat wei nie, meen my man, ons is mense wat by ’n tafel aansit om ons brood beskaaf te breek.

Die geregte verskil van streek tot streek en van familie tot familie – maar nie een van hulle vereis ure van swetende afsloof voor die stoof nie. (My soort Kersmaal, sal vele van my afgesloofde Afrikaanse susters seker sug.) Een van die sewe vleislose hoofgeregte word byna altyd van morue gemaak (Europese kabeljou, verpligte bestanddeel in daardie ander gróót Provensaalse feesmaal, le grand aïoli), maar die ander ses wissel. Die beroemde Provensaalse digter Mistral (ja, soos die ewe beroemde wind wat hier waai) onthou die sewe disse van sy kindertyd as kabeljou, slakke, harders met olywe berei, twee verskillende disse van carde (Spaanse artisjokke), selderyslaai en fougasse, ’n plat brood wat met stukkies olywe, spek en ander lekkernye gebak word.

En dan volg die dertien nageregte – een vir Jesus en elk van sy twaalf dissipels, volgens oorlewering. Dit sluit altyd ’n pompe d’huile in – dis nou ’n groot, ronde brood wat met olyfolie gebak word – asook droë vye, amandels, rosyntjies en hasel- of okkerneute. Laasgenoemde vier eetgoed simboliseer elk die kleur van die kleed wat deur die vier belangrikste Katolieke ordes gedra word. Alles erg eksoties vir my Calvinistiese gemoed. Daar moet ook twéé soorte nougat op die tafel wees: sag en wit om suiwerheid en goedheid te simboliseer, hard en swart vir die teenoorgestelde. En dan drie vars vrugte soos lemoene, laat-druiwe, appels, pere of winterspanspek.

Vir die laaste drie nageregte mag jy jou verbeelding gebruik. Dikwels is dit dadels – verkieslik op die Marokkaanse manier gestop met pienk en groen marsepein, kwepersmeer of selfs kweperkonfyt en iets meer dekadent soets, tussen al die vrome vrugte en neute, soos oreillettes (brosgebraaide “oortjies” van deeg, met suiker bestrooi), of my eie ewige gunsteling, sjokoladetruffels.

En nou vir ’n laaste brokkie goeie nuus vir moeë moeders en sweterige susters: As elke gas eindelik aan elke gereg geproe het, word die tafel nie afgedek nie. Nee, jy knoop bloot die punte van die tafeldoek om te keer dat bose geeste bo-op die tafel klim, en jy los die skottels net daar sodat jou voorouers se geeste ook gedurende die Kersnag ’n happie kan kom eet. Dis nie ek wat so sê nie. Dis tradisie. Maar dis so ’n lieflike en bowenal praktiese tradisie – wie wil nou op Oukersaand skottelgoed was? – dat ek dit beslis vanjaar gaan volg.