marita_2010
Rubrieke - Marita van der Vyfer

Marita van der Vyver: “Die beste geskenk is om te gee”

Toe ek klein was, het ek gedog die dag ná Kersfees word Boxing Day genoem omdat ons kinders op dié dag heeltyd in boksgevegte betrokke geraak het om mekaar se presente te probeer afrokkel.

Eers jare later het ek besef dit het met dose eerder as gevegte te doen. In Brittanje en al die ou kolonies was dit tradisioneel ’n dag van gee aan minderbevoorregtes – kos en klere en ander geskenke wat in bokse uitgedeel is.

Ons Afrikaanse Welwillendheidsdag het iets van hierdie gees van omgee vir ander behou – in die naam van die dag, indien dan nie altyd in die praktyk nie. Deesdae het die dag ná Kersfees blykbaar ’n dag van gierigheid en selfsug geword.

Op 26 Desember vanjaar sal hordes mense wêreldwyd hulle weer na die internet haas om hul presente te probeer verkwansel. Om die kamera wat jy nie wil hê nie – omdat jy reeds ’n beter een het – vir ’n skootrekenaar te verruil. Of vir ’n kledingstuk met die regte handelsmerk. Of, selfs meer koelbloedig, om enige ongewenste geskenk aan die hoogste bieder te verkoop.

Noem my sentimenteel, prekerig én onredbaar outyds, maar hierdie geldmakery uit geskenke skok my tot in my tone. Natuurlik kry ek ook soms geskenke waarvan ek nie hou nie. Veral hierdie tyd van die jaar. Van sjokolade wat soos plastiek smaak tot potplante wat soos plastiek lyk tot kussingslope wat soos plastiek voel, van te klein gehekelde tafeldoeke tot te groot tuisgebreide
truie, noem maar op, ek weet van.

Maar ek weet ook daar is derduisende armoediges oral op aarde wat nie die vreugde van selfs die mees beskeie Kersgeskenkie ken nie. Dis moontlik moreel oneerlik om iets weg te gee wat iemand  anders aan jou geskenk het – maar indien dít wat jy weggee aan ’n volgende persoon vreugde kan verskaf, is dit sekerlik nie die soort sonde wat jou tot in die verderf sal lei nie?

As jy ’n ongewenste geskenk aan iemand anders gee, bly jy darem in die gees van gee en omgee waaroor Kersfees veronderstel is om te gaan. Buitendien, die heel beste geskenke lei altyd tot verdere geskenke.Dis ’n les wat ek vanjaar weer deur ons buurman se kersiebome geleer het.

Toe die bejaarde buurman sien ons plant ’n pieperige kersieboompie langs ons nuwe huis, het hy ons kom vertel van drie pragtige ou kersiebome wat ’n entjie agter ons huis in sy wingerd groei. Hy’s te oud om die kersies te pluk, hy’t nie kinders naby nie, wil ons nie asseblief die vrugte geniet nie? Hy het dit laat klink asof ons hom ’n guns sou bewys deur die kersies te gaan pluk. Terwyl dit
vir ons die grootste present van die jaar was.

Weke lank het ons ons verlustig in stroopsoet kersies, kersiekonfyt, kersiestroop, kersieterte. Wat ons nie kon eet of verwerk nie, het ons weggegee. Die vreugde op vriende of kollegas se gesigte wanneer hulle ’n mandjie vars kersies of ’n fles kersiekonfyt ontvang, het my amper soveel genot verskaf soos die oorspronklike kersies.

Dis die les wat ek hierdie Kersseisoen wil onthou. Die beste present is iets wat jy met ander kan deel sodat jy nie net die lekker van ontvang proe nie, maar ook die nog lekkerder lekker van gee. As al daardie drommels wat hul Kersgeskenke vanjaar weer op die internet gaan verkwansel maar dít geweet het.

My feeswense vir die res van die mensdom is so sentimenteel, prekerig en outyds soos kan kom. Mag ons nooit vergeet wat Welwillendheidsdag eintlik beteken nie. Mag ons nooit ophou gee en omgee nie.