Rubrieke - Marita van der Vyfer

Verbrands!

’n Bende misdadigers het op my Provensaalse dorpie toegesak. Kan jy glo? Hier op die rustige Franse platteland, waar die grootste “misdaad” die afgelope jaar was toe ’n booswig een somernag die roosboom voor die poskantoor geplunder het. Die volgende oggend was al die blomme weg, net kaal takke oor, en die inwoners behoorlik ontstoke. Sulke skandalige gedrag dat die plaaslike koerantjie glad ’n berig daaroor gepubliseer het.

Nee, wag, daar was ook die keer toe my seun en sy stiefboetie die naam van ’n gewilde rap-groep in miniskule viltpen-letters op die klipmuur langs die Middeleeuse fontein geskryf het. Hieroor het die koerant gelukkig nie verslag gedoen nie – en ek sou verkies om ook eerder te swyg. Jy kan jou voorstel hoe verleë ek voel dat my gesin deels verantwoordelik is vir die misdaadstatistiek van ons idilliese dorpie.

Maar laas week was hier ’n régte misdaad. En dié keer was my gesin die slagoffer eerder as die skuldige party. My oulike Franse karretjie, skaars ’n jaar gelede aangeskaf by iemand wat minder as 50 000 km daarmee gery het, lugverkoeling, leersitplekke, CD-speler, alles wat my hart nog ooit begeer het in ’n motor (ek is beskeie as dit by voertuie kom), is as ’t ware helder oordag voor my oë gesteel.

Goed, dit was darem al donker – dit word mos vroeg donker in die winter – en my oë was op die TV-skerm eerder as op my motor wat ’n paar tree van die voordeur onder ’n plataanboom geparkeer was. Maar toe ons minder as ’n uur later agterkom die kar het verdwyn – sprakeloos verstom, sulke dinge gebeur mos nie op die Europese platteland nie! – het die voertuig reeds die tydelike met die ewige verwissel. Of wat dit ook al is wat met karre gebeur as hulle aan die brand gesteek word. Net ’n nare swart geraamte wat in ’n wingerd buite die dorp agtergebly het. Niks binne-in wat gered kon word nie.

Blykbaar ’n bende wat ’n paar motors op ’n paar plattelandse dorpies in die omgewing gesteel het, net om te kyk hoe hulle deur vlamme verteer word. Sommer net vir die perverse pret. Ons beskeie polisiespannetjie het heelnag met loeiende sirenes tussen wingerde en olyfboorde rondgejaag, op soek na uitgebrande motorwrakke, kompleet asof hulle in New York of Parys werk. Die volgende oggend was hulle skoon vaal van uitputting.

En in die bakkery het die tonge douvoordag al begin klap. Almal was verslae oor die katastrofe wat my getref het. Die burgemeester het gebel om te simpatiseer, asof ek ’n gesinslid verloor het.

Toemaar wat, het ek probeer troos, waar ek vandaan kom, is motordiefstal niks om oor huis toe te skryf nie.

Maar daar ís tog ’n verskil.

In Afrika word die gesteelde voertuig – of dan minstens die onderdele van die gesteelde voertuig – gewoonlik op die een of ander manier “herwin”. Iewers langs die pad sal iemand wel finansieel baat vind by die misdaad. Dis miskien nie veel van ’n troos as jy die een is wie se motor gesteel is nie, maar glo my, dis érger as iemand jou kar steel net om dit aan die brand te steek. Vandalisme, dis waarvan ons hier praat. Die verveelde vandalisme van die welgestelde Weste.

My eerste reaksie was om my pa te probeer bel. Net om vir hom te sê as hy weer wil kla oor die misdaad in Suid-Afrika, kan hy gerus aan my uitgebrande kar hier in Provence dink. Maar ek kon hom nie bel nie, want twee tegnici van die nasionale telefoondiens het pas aan my buurman se lyn kom werk en in die proses per ongeluk mý lyn afgesny. Dit kos my toe ’n volle dag van verduidelik, soebat en dreig voordat die telefoonmaatskappy erken dat sy werknemers moontlik iets met die afgesnyde lyn te doen het – en nog twee dae voordat hulle iemand stuur om die saak te ondersoek.

Ek was dus drie dae lank afgesny van die buitewêreld: Sonder telefoon of internet-verbinding, sonder motor of enige vorm van vervoer – hier is geen busse of treine op ons dorpie nie – en dis heeltemal te koud om fiets te ry.

Nóg iets waaroor ek by my pa kon kla, toe ek eindelik weer kon bel. Onbevoegdheid en swak openbare diens, soos misdaad, is beslis nie tot Suid-Afrika beperk nie. Soms vergeet ons dit, nè?