Rubrieke - Marita van der Vyfer

Vlieg in die salf

Daar was net een probleem. Hy kon nie die ganse uit die swembad hou nie, met die gevolg dat die water meestal vuil en vol vere en gansmis was. Soms het my vriend die spulletjie so bekyk en sugtend verklaar dat hy glo die hemel moet presies soos hierdie plek wees – maar sonder die gansmis in die swembad.

Elke somer wanneer my poskaartprentjie van Provence bederf word deur miljoene vet Franse vlieë, onthou ek my vriend se woorde. Want ek glo werklik die hemel moet iets soos Provence wees – maar sonder die verdomde vlieë. Jy sou dink oor ek van Afrika kom, behoort ek gewoond te wees aan vlieë. Nee, in Afrika is ek gepla deur miere, muskiete, skerpioene, slange en ander aaklighede, maar ek kan nie onthou dat vlieë my ooit so tot raserny gedryf het soos hier op die Franse platteland nie. Of dalk is Franse vlieë, soos Franse mans, bloot meer vrypostig en selfversekerd.

Ek het waarlik al alles probeer om van hulle ontslae te raak. Die vlieë, nie die mans nie.

Gifstowwe waarmee ek die gat in die osoonlaag vroualleen groter spuit – en terselfdertyd al die menslike en dierlike inwoners van die huis bedwelm. (Sonder die geringste uitwerking op die vlieë, helaas.) Geurmiddels en ander produkte wat veronderstel is om vlieë buitentoe te lok, weg van die huis af, of soet vloeistowwe waarin hulle en masse moet verdrink soos die Egiptenare in die Rooisee. (Ons vlieë is nie so onnosel nie, ha!) Hortjies wat heeldag toegetrek bly sodat die kombuis koel en donker soos ’n grot voel. (Erg onprakties om in ’n grot te probeer kos kook, glo my.) Selfs daardie aaklige “gordyne” van plastieklinte of houtkrale wat voor deure gehang word. (Ons menslike gaste het hul kuierlus skoon weggeskrik vir die kitsch behangsel voor die voordeur, terwyl ’n magdom ongenooide vlieënde gaste steeds deur die gapings geglip het.)

Einde ten laaste het ek my berus by daardie taai geel stroke waarvoor ek altyd so gegril het in my oorle’ ouma se kombuis – veral as die strook al geruime tyd aan die plafon hang en so swart begin word van al die dooie vlieë wat daaraan vaskleef. Dis waaragtig nie iets wat jy ooit in ’n dekortydskrif sal sien nie. Ek kan my nie voorstel dat Nataniël dit ooit in sy smaakvolle huis sal hê nie. (Hy het mos ook al in SARIE beswaar aangeteken teen die monsteragtige vlieë wat hom daar verpes.) Maar dis maklik en goedkoop en omgewingsvriendelik – en dit wérk.

Wel. Soort van. Niks werk werklik as dit by vlieë kom nie.

Jy kan elke aand die dooie vlieë tel. En al wéét jy jy stry ’n vergeefse stryd, al wéét jy daar sal môre weer miljoene nuwe vlieë op hierdie aarde wees, voel jy tog op ’n manier soos ’n generaal wat die vyand se gevalle soldate op die slagveld aanskou. Jy’t net ’n slag gewen, nie die oorlog nie – nóóit die oorlog nie – maar dit gee jou tog moed om voort te gaan.

My ander wapen van massa-vernietiging is selfs meer primitief en goedkoop. Die goeie ou vlieëslaner. Deesdae koop ek vlieëplakke in verskillende kleure (om by die dekor van verskillende vertrekke te pas; laat niemand sê ek doen nie my bes om my tuiste in moeilike omstandighede te verfraai nie) en laat hulle soos strooikussings oral in die huis rondlê.

Só verseker ek dat daar altyd ’n wapen byderhand is om ’n lastige vlieg met ’n blitsige klap bokveld toe te stuur. Of waarheen vlieë ook al gaan wanneer hulle nie meer ons aardse bestaan kan bederf nie.

En met elke moordlustige klap dink ek weer aan my vriend se woorde. Miskien het ons vlieë en gansmis in die swembad nódig? Om ons te herinner dat die aarde immers nie veronderstel is om die hemel te wees nie?

Wat die hemel is, sal ons maar moet sien. Intussen is daar nog derduisende vlieë om te verpletter.