Rubrieke - Marita van der Vyfer

Vlieg, voëltjie, vlieg

Dis ’n wêreldwye verskynsel. Enigste verskil, in die winterse Europa waar ek my bevind, is die voëltjies vier maande gelede al uit die nes geskop. Hier begin die akademiese jaar mos in September. Graad-eentjies moet so saam met die dwarrelende herfsblare leer sweef – of sonder genade grond toe val. Teen dié tyd is die meeste ma’s al gewoond aan ’n leër nes. En in vele nuwe leerders se lewe het ’n slim juffrou reeds begin om mamma se allesoorheersende rol oor te neem.

Dis hoe dit hoort.

Dis in ieder geval hoe ek myself getroos het toe ek laas September die hartverskeurende tafereeltjies by my dogter se skool aanskou. Nie dat my agtjarige dogter al ooit in haar bondige skoollewe deel was van hierdie snikkende brigade nie. Inteendeel. Sy was nog nie eens drie jaar oud nie toe sy met onverdunde opgewondenheid vir die eerste keer kleuterskool toe is. Skaars opgekyk van die toring bont boublokkies toe ek haar aangedaan groet. En toe ek haar aan die einde van die eerste dag gaan oplaai, wou sy weet of sy nie maar nog ’n bietjie langer by die skool kan bly nie.

Nou ja. Volgens geleerdes is jy óf ’n vieslike vrot ma óf ’n besonder bedrewe ma as jou kind só reageer. Ek verkies natuurlik om laasgenoemde te glo. (Ons glo mos maar almal wat ons wil.) Ek troos myself dat ek oulik genoeg was om onafhanklikheid en eiewaarde by my kind te kweek. Maar ek moet bieg dat so ’n erg onafhanklike reaksie ’n ma se eie eiewaarde nogal kan knak.

Dis nie dat ek een van daardie histeriese, klouende kinders wil hê nie. Maar ’n enkele, biggelende traantjie sou tog nie te veel gevra wees nie?

Mia se ouboet, wat ’n dekade gelede die “groot skool” moes aandurf in ’n vreemde land met ’n vreemde taal, onthou sy eerste skooljaar as veel meer traumaties. Menige oggend voor die skoolhek moes hy sy oë verbete knip om van die trane ontslae te raak. Daarna het hy die skoolterrein betree soos ’n soldaat wat na ’n slagveld stap. Hierdie voorbeeldige moedigheid het dit vir my net nog moeiliker gemaak om teen my eie trane te stry. Net voor hy verdwyn, het hy altyd vinnig omgekyk. Dan het ek braaf geglimlag en vertroostend gewaai – en om die naaste hoek my hart gaan uithuil.

Intussen het my seun Frans so vlot soos Asterix leer praat en laas September by die plaaslike lycée (senior hoërskool) ingeval om sy laaste stukkie skoolpad af te lê. En nee, Ma is nie daardie eerste oggend saamgenooi om sy hand vas te hou nie. Hy het bus gery, want dis wat die “groot ouens” op ons dorp doen wanneer hulle lycée toe gaan.

En tog, toe hy so traak-my-nie-agtig by ons tuinhek uitswaai met sy hare in sementagtige spriete gejel en sy nuwe rugsak wat slapleeg oor sy een skouer hang, het ek hom ongesiens van agter my kamervenster dopgehou. Ontsteld oor die tyd so verskriklik vinnig verbyvlieg – dis dan sweerlik net gister dat ek hom vir die eerste keer in ’n Franse klas moes agterlaat! – maar ook onbeskaamd trots op die rysige amper-sestienjarige jongeling wat hy geword het.

Net voor hy verdwyn, het hy omgekyk. Soos lank gelede. Soos gister. En raai, toe hy my agter die ruit opmerk, was hy die een wat braaf geglimlag en vertroostend gewaai het.

Daarom het ek ‘n boodskap – ‘n envoi soos dit in outydse gedigte genoem is – vir al die mammas wat vanjaar hulle vlerke moet oopvou om ‘n kind die wye en wrede wêreld in te stuur. Dis wat jy doen as jy ‘n ma is. Jy vou jou vlerke oop, voortdurend, en jy kyk jou kind agterna, aanhoudend.

Dis ‘n lewenslange proses wat groot verdriet meebring – maar gelukkig ook onmeetbare en onuitputbare vreugde.