Rubrieke - Marita van der Vyfer

Vrugte steel

Want ek het daardie verruklike vy onder ’n boom verorber. Nie mooi beskaaf in ’n kombuis op ’n kleinbordjie uitgestal en met ’n messie oopgesny om ’n fraai vierpuntige ster te vorm nie. Nee, ek het die vy van ’n tak losgewikkel en net daar in my mond geprop.

Dís waarom die droom my watertand laat wakker skrik het.

Waar ek vandaan kom, is dit nou vyetyd. En dan praat ek nie eens van al die ander vrugte nie. Boorde en boorde vol geel, oranje, rooi en pers vrugte wat soos eetbare Kersversierings aan bome hang. In my aangenome land is vars vrugte ook beskikbaar so vroeg in die nuwe jaar – ingevoer uit Afrika of
ander warmer streke – maar dis nie dieselfde nie. ’n Vrug wat jy met jou eie hande uit ’n boom of ’n struik of ’n heining pluk, smaak mos net lekkerder as selfs die duurste winkelvrugte. Dalk het dit iets met ons genetiese geheue te doen, ’n onbewuste herinnering aan ons jagter-versamelaar-voorouers. Of dalk soek ek nou sommer net geleerde verskonings.

Miskien is dit bloot die opwinding van kleintyd se vrugte steel wat ek onthou elke keer as ek ’n ryp vrug van ’n tak afpluk.

Vir my eie kinders klink die woorde “vrugte steel” seker so eksoties soos “skape oppas” of “koeie melk”. Nie dat ek ooit moes skape oppas of koeie melk nie – só oud is julle ma darem nou ook nie, kinders – maar toe ek ’n voorstedelike skoolkind was, was dit nog moontlik om vrugte te steel sonder om as jeugmisdadiger bestempel te word. As my kinders in ’n Franse buurman se boord betrap moes word, sou hulle ’n kriminele rekord kry – én verpligte sielkundige berading – en moontlik in ’n verbeteringskool beland. As my vriende in Suid-Afrika se kinders ’n buurman se boord wou binnedring, sou hulle elektriese heinings en diefalarms en wreedaardige waghonde en moontlik ’n woedende eienaar met ’n vuurwapen moes trotseer.

G’n wonder die arme bloedjies verkies om hul opwinding op rekenaarskerms te soek nie. Daar is amper nie meer iets soos onskuldige pret daar buite nie.

Verstaan my mooi, ek bepleit nie dat ons kinders in bendes by die voordeur uitstorm om vreemdelinge se boorde te plunder nie. Ek vind dit net nogal jammer dat baie van hulle grootword sonder om ooit ’n vrug van ’n tak te pluk – al is dit dan nou ook skelm. As jy niks anders van vrugte steel kan sê nie, kan jy minstens beweer dit het my geslag geleer om bome en blare te identifiseer. Ons kén die verskil tussen ’n breë, krapperige vyeblaar en ’n blink, harde lukwartblaar en ’n skraal, slap perskeblaar.

Die eerste lente wat ek op die Franse platteland deurgebring het, kon ek net eenvoudig nie verby ’n kersieboord stap sonder dat my arm onwillekeurig uitskiet om ’n paar swartrooi kersies van ’n tak te stroop nie. Dan is dít hoe kersies smaak! het ek met elke skuldige hap gedink. Want vóór ek hier kom woon het, het ek gedog kersies is daardie taai, geglasuurde gedroggies wat my ouma op haar sjokoladekoeke geplak het. Toe proe ek die ware Jakob, vars uit ’n boom, en tot vandag toe het ek nog nie weer een van my ouma se geglasuurde tjerries naby my lippe laat kom nie.

Teen dié tyd het ek darem al geleer om my arms beter te beheer. Ek koop my kersies op ’n mark of ek bedel hulle by vriende. (Ja, aangesien my tuin te klein is om vrugte te kweek probeer ek nou maar vriende met vrugteboorde kweek.) En die vriende dra plastieksakke vol kersies hier aan, of los bakke vol appelkose op die kombuistafel, waarvoor ek hulle diep dankbaar is – maar ek wens hulle wil my eerder nooi om die vrugte self uit die bome te kom pluk.

Dalk kan ek dit op ’n volmaannag doen. Verkieslik wanneer die vriende nie tuis is nie. Terwyl ’n kwaai hond iewers blaf.

Net om één keer weer die opwinding van kleintyd se vrugte steel te voel . . .

  • om marita te leesissoosommet’nlekkervriendintesiten kuier.dietekswilniespasieernie!laniexx

  • Marita

    Dankie, Lanie, dis altyd lekker om kommentaar te kry.

  • Alda Ludick

    Daar is iets magies,omtrent ‘n vy.’n Verlange,dalk ‘n hunkering na die dae toe ek as kind,in die wit stamme geklim het en myself boepens geeet het,en dan salig gaan speel het,die melk en soet van die vy,oral op my.
    Op my ouderdom van 52, ontdek ek vye en bloukaas, die lewe seen my nogsteeds…heerlik!
    Jy beskryf dit so mooi Marita, en natuurlik die vrugte steel…..heerlike tye!
    Mooi bly

  • Kyk van vywe en likwarte se lekkerte om net so van ‘n boom af te eet kan jy net weer invryf. Daar soet sappies van bloedrooi vrug gevou in sagte groen skil en daardie harde geel ronde dingetjie wat tog so lekker gooi (ja, ek’t darem ook daardie vreugde gehad om dit te beleef in my kinder dae)

    Uitstekende stukkie, lekker om te lees en goeie herinneringe te deel.

  • Marita

    Ek stem, Alma, magies is die woord wat opkom as jy aan ‘n vy dink. Ek glo Eva se ‘verbode’ vrug was nie ‘n ou vervelige appel nie, maar ‘n vy…

  • 2nLcLM yxddopqroknz, [url=http://tucmdvcwqlxq.com/]tucmdvcwqlxq[/url], [link=http://iwxagjbihvyu.com/]iwxagjbihvyu[/link], http://ifdxxnkvhnrt.com/