Rubrieke - Marita van der Vyfer

Wraggies ‘n winskopie

Ek glo nie dat koop-koop-koop my gaan laat lag-lag-lag nie. Ek het nog nooit douvoordag op straat gewag dat ’n winkel se deure oopgaan vir die eerste dag van
’n wonderbaarlike uitverkoping nie, nog nooit soos ’n histeriese hamster deur ’n hoop winskoop-klere gegrawe nie, nog nooit handgemeen geraak met ’n ander klant wat saam met my na dieselfde begeerlike kledingstuk gryp nie. Dis die soort gedrag wat ek net uit grappe en spotprente ken.

En tog word ek soms – gelukkig net soms – in ’n winkel oorval deur ’n soort waansin wat my ’n onnodige, oorbodige en onvanpaste uitrusting sal laat koop, net

omdat die prys skielik vir my onweerstaanbaar klink. Dis mos nou wraggies ’n winskopie, oortuig ek myself, al is dit ’n wye katpak in ’n vuilgroen kleur wat my soos ’n valskermsoldaat laat lyk. Want kyk, dis van suiwer sy – al weet ek voor my siel dat ek nooit hierdie skakering van seesiekgroen dra nie, omdat dit my aan ’n gehate skooluniform uit my jeugjare herinner.

Of, op ’n ander dag, in ’n ander winkel: Kyk, dis rooi fluweel, en ek wou nog altyd ’n rokkie van rooi fluweel hê. Al is hierdie een miskien ’n nommer te klein. (Ek kan mos maar minder eet totdat ek daarin pas.) Want dis nou wraggies ’n winskopie!

En dan hang die aaklige valskermuitrusting of die te klein rokkie van rooi fluweel in my kas, soms jare lank, nadat ek dit ’n enkele keer gedra het. (Een keer is gewoonlik genoeg om te sien dit werk glad nie.) As ek daarvan ontslae raak, is dit mos ’n onteenseglike bewys dat my “winskopie” eintlik ’n waansinnige flater was. En dís moeilik om te erken, vir ’n (taamlik) redelike vrou.

Sulke valse winskopies herinner my nogal aan die Britse bergklimmer Mallory se befaamde antwoord op die vraag waarom hy Everest wou klim: Omdat dit daar is. Soms koop ’n meestal redelike vrou soos ek ’n kledingstuk bloot omdat dit daar is – en minder as gewoonlik kos.

Die goeie nuus is dat sulke winskopie-flaters tog minder word soos ’n mens ouer word en uit jou foute leer. Teen dié tyd weet ek ek sal nooit vuilgroen dra nie (nie eens vuilgroen sy nie), nes ek weet ek sal nooit honger ly ter wille van ’n rok nie (nie eens ’n rooi fluweelrok nie). Maar ek vermoed die waansin sal nooit heeltemal verdwyn nie.

Net laas somer nog het ek in Spanje ’n lieflike oorvouromp met ’n swart-wit blompatroon teen ’n belaglik lae prys aangeskaf. Dié keer was die grootte en die lengte en die chiffonmateriaal en alles perfek. Eers toe ek dit die eerste keer dra, ontdek ek dit vou nie net oor nie, dit vou veral oop. Elke keer as ek gaan
sit, hang die twee pante tot op die vloer aan weerskante van my kaal bene. Die soort romp wat sou werk vir Paris Hilton as sy uit ’n New Yorkse taxi klim, maar erg onvanpas vir ’n middeljarige taxi-ma van vele kinders en stiefkinders.

Om nie eens te praat van wat Provence se nare mistralwind met sulke flappende chiffonpante aanvang nie. Toe ek oor die straat stap, dog ek ek word blind, want
skielik is alles swart, en ek hoor skreeuende motorremme oral om my.

Dit was toe net die swart voering van die romp wat tot bo-oor my kop gelig is deur die wind – maar ek het onmiddellik geweet ek gaan nooit-ooit weer hierdie
“winskopie” dra nie. Selfs al sou die opvlieënde pante gedokter kon word met gewiggies in die soom of hakies om dit toe te hou of wat ook al. Trouens, die
blote herinnering aan my oomblik van onbedoelde ekshibisionisme in die middel van ’n besige Franse straat behoort genoeg te wees om my vir die res van my lewe van winskopies weg te hou.

Wraggies ’n winskopie? Nè?