Rubrieke - Nataniël

Aarde toe

Net twee dae vroeër storm ek by ’n winkeltjie in op soek na ’n sonbril wat pas by my nuwe stewels. Die verkoopsdame gee my een kyk en haal ’n massiewe bril met twee koeëlronde glase van die rak af. Ek sit dit op en skrik groot. Ek lyk soos ’n eier met ’n bra.

Dis te groot, sê ek.

Maak ’n statement, sê die verkoopsdame.

Ek kon nog nooit fout vind met ’n statement nie en betaal ’n bedrag wat verantwoordelike mense net sal oorweeg vir ’n vakansiewoonstel.

Dis ’n oggendtroue en ek en my bril sit saam met die res van die gaste op Laborie se voorstoep. Die bruid is nog nie verby die eerste ry stoele nie, toe huil my ma, my broer en ek sonder skaamte. Ek maak my bril leeg en huil hom nog twee keer vol voordat die huwelik bevestig is. Selfs die jong predikant sluk ’n traan. (Dié is uitermate oulik en blykbaar nog sonder ’n gemeente. Ek kan hom aanbeveel vir enige geleentheid wat vreugde nodig het en het ’n kontaknommer sou enigeen ’n beroep wou doen.)

Die onthaal is besonder smaakvol en vol aandoenlike oomblikke. Tydens die kort maar kragtige toesprake huil ek nog ses keer en besef ek onderskat my gesin se emosies al vir jare. Uiteindelik is alles verby en ek ry broos en oorweldig Franschhoek toe om my siel by Topsi te gaan lawe. Die volgende oggend meld ek by die lughawe aan vir die terugvlug.

Die meisietjie agter die inweegtoonbank glimlag en oorhandig my kaartjie.

Geniet die vlug, hoop u voel gou beter, sê sy.

Ek kyk haar verbaas aan. Is dit my hees stem of weet sy iets wat ek nie weet nie?

Op die vliegtuig sit ek langs ’n grys sakeman. Hy haal ’n tamatie uit sy sak en gee ’n groot hap. Ek wil net begin staar toe skuif ’n jong egpaar met ’n hiperaktiewe kindjie agter my in. Die kindjie gee ’n gil en skop “ghoef” teen my sitplek. My moed sak. Al wat ek nou nog nodig het, is dat die vrou voor my haar sitplek laat sak en op my skoot tot ruste kom. Sy is egter ’n ware dame en bly sit regop. Ek haal my boek uit en begin lees.

In ’n stadium verskyn die lugwaardin met ’n skinkbord. Ek dink aan alles wat ek in die Boland verorber het en sê nee dankie. “Ghoef” skop die kleintjie my sitplek. Ek wil net omdraai om die egpaar aan te spreek, toe maak die vlieënier keel skoon. Dit reën verskriklik in Johannesburg, sê hy. Niemand kan iets sien nie, hulle doen ’n outomatiese landing, ons moet net kalm bly. Ek kry onmiddellik ’n hoofpyn en lees tien keer dieselfde sin. “Ghoef” skop die kleintjie.

Wie wurg mens eerste? dink ek. Die kleuter of sy ouers? Die volgende oomblik duik die vliegtuig deur die wolke.

Ek moet my ouers vertel dat ek hulle liefhet, besluit ek.

Net voor ons die aarde tref, ruk die vliegtuig weer die lug binne. Die sakeman begin soek angstig na nog ’n tamatie.

Is my testament op datum? wonder ek. Is daar studiegeld vir al die peetkinders?

Is te nat, ons sirkel ’n bietjie, sê die vlieënier. Op en af gaan die vliegtuig.

Hoekom het ek my nog ooit aan ’n resensent gesteur? wonder ek. Hoekom bly ek my lewe versuur met ’n dieet? Weet die musikante in my show hoeveel ek vir hulle omgee?

Ons het nog brandstof vir 30 minute, sê die vlieënier.

Het ek al die liefde van my lewe ontmoet? Was ek te besig om dit raak te sien? Het ek al weer Kowie se verjaarsdag vergeet? Het ek onthou om vir Therése voorspoed toe te wens met haar eksamen? Het ek vir Nikolien teruggebel?

Uiteindelik plons ons op die aarde neer. Mense klap hande en gryp hul bagasie. Op pad huis toe reën dit sonder ophou. Die verkeer is stadig, mense ry benoud van plas tot plas. Maar ek is ongeduldig, ek wil by my foon uitkom. Ek moet begin bel. Te veel goed is agtergelaat.