Rubrieke - Nataniël

As die wa vasval

Sy was lank en kiertsregop met ligblou oë en styfgevlegde blonde hare. Sy was ’n byna identiese jonger weergawe van haar ma, ’n koue vrou met ’n klipharde kapsel en snyerspakkies uit die ongenadigste lap.

Eldieta-Ann was, soos tannie Lita sou sê, voor in die koor. Sy het sonder om links of regs te kyk, te glimlag of ’n tree te mis elke moontlike vereniging of klub regeer, selfs ’n paar onderwysers met vrees gevul en haar pad uitgeklim tot in ’n prefeksbaadjie.

So uitstekend was haar beplanning, sy het selfs ’n kêrel gehad. Louw was in matriek, ’n aangename seun met ’n sterk kakebeen en ’n blonde kuif vol olie. Hy was, soos tannie Lita altyd gesê het, uit ’n goeie stal.

Hóé Eldieta-Ann hom aangekeer het, weet geen mens nie, daar was aan haar geselskap presies soveel plesier soos ’n hospitaalfoyer, terwyl Louw se glimlag enige meisie onmiddellik haar waardes kon laat prysgee. So sleep sy hormone hom oor die drumpel en vry hy een aand vir Berdine Sweigers op die skietbaan dat die wind geheel en al van rigting verander.

In ons dorp kon diere, plante en stoptekens ook praat, sodat niks ooit ’n geheim kon bly nie. Uiteindelik bereik die nuus vir Eldieta-Ann. Soos ’n pasgevangde forel het sy een keer in die lug gehap en toe het die kil oor haar oë kom sit.

’n Paar van ons het haar jammer gekry. ’n Kort, byna oranje meisie met baie kammetjies in haar hare het selfs probeer vriende maak, maar Eldieta-Ann het by ons verbygekyk. Tot die aand met die terte.

Een keer per jaar is fondse ingesamel in die skoolsaal. Hierdie geld is gebruik om die ergste ellendes te vervang: ’n gaar mat, ’n lendelam lessenaar of ’n paar ruite.

Ons staan almal voor die saal. Dié met sakgeld rook in die bosse en die res wonder of daar dié jaar ’n maagd by die matriekafskeid sal wees.

’n Slap motor hou voor die saal stil en Eldieta-Ann lig ’n toring terte uit die kattebak.

Trots en regop mik sy vir die trappe. Die oranje meisie hardloop nader en steek haar hand uit.

Los! hyg Eldieta-Ann.

Toe trap sy mis en val vooroor. Terte vlieg en bedek die skool. Room en swartkersies drup van die mure. Ons is te oorbluf om te lag. Die mees perfekte mens wat ons ken, lê plat op die skool se stoep.

Eldieta-Ann het nooit weer teruggekom nie. Sy het by die huis gebly en die volgende jaar haar skoolloopbaan op ’n ander dorp hervat.

Ek vertel hierdie storie, want ’n paar dae gelede het my lewe verander. Een ongenaakbare insident, een hartverskeurende ontdekking, een berg van teleurstelling het my kom platslaan. Ek was meteens sonder vertroue, sonder geloof en, vir die eerste keer, sonder hoop. Op en af het ek geloop, raad-op, verslae en vol alkohol totdat ek besef het hierdie donkerte kan my vat na ’n plek waar ek myself nie meer sal ken nie.

En vir die eerste keer in my lewe het ek die telefoon opgetel en om hulp gevra. Ek het vriende gebel en gesê, Help my, ek het geen raad nie. Daarna het ek nog ’n oproep gemaak en nog een. My vriende het soos ’n wolk onder my kom saampak en my begin lig, stadig, snik vir snik, vraag vir vraag. Dit was asof hulle wou jubel, asof hulle gewag het om my te wys wat ek nooit wou sien nie. Asof hulle wou sê, Sien jy nou, ons is nie net hier vir statige etes en duur geskenke nie.

Tannie Lita het altyd gesê, As die wa vasval, moet jy afklim. Daar kom altyd weer een verby. Trots dra jou deur baie, onafhanklikheid vat jou ver, hardegatgeit selfs ’n paar tree verder, maar op ’n dag wys die lewe jou iets wat jy nie ken nie. Daar is mense metwysheid, ander met geduld, ander met geleerdheid en professionele ondervinding, ander met gebede, liefde en krag wanneer joune te kort skiet. Jy moet net vra.

Ek moes 40 jaar alleen my kasteel bou, my vlag waai, oor my klein koninkryk regeer en toe uiteindelik vinnig en ver tuimel voordat ek bereid was om ’n uitgestrekte hand raak te sien.

My donkerste oomblik, beslis. My kosbaarste les, absoluut.