Rubrieke - Nataniël

As liefde loop lê

Die afgelope paar maande was ’n gekspul, onmenslike werkure, die spanning van ’n groot produksie en die stryd om die laaste paar kilo’s af te skud vir ’n nuwe musiekvideo. Verder is my twee hartspunte, George en Dali, terug uit Tanzanië en probeer ek al die verlore kuiers inhaal.

My tydjie op Kaalkop is kort. Ek loop in stilte, slaap met oop deure en eet net wat ek wil sonder om ’n gram op te tel. Ek lees soveel as moontlik, kuier ’n hele aand saam met Oprah en swem ’n paar lengtes saam met Ryk Neethling. (Ja, alles is moontlik op Kaalkop.)

Die terugtog is vinnig, die terugkeer onwillig. Ek maak my oë oop. Alles lyk soos voorheen. Ek gryp my foon en skakel ’n kollega om ’n vergadering te reël. Sy vrou antwoord in trane.

Nee, hy’s nie hier nie, snik sy. Hy’s al ’n week lank weg. Ek skakel die huis van twee vriende om te hoor of hulle iets weet. Die seun antwoord.

Hulle’s nie hier nie, sê hy. Hulle’s weg vir terapie. Dinge is nie lekker nie.

Dieselfde middag gluur die eienares van ’n boetiek my aan. Haar man het skielik uit die kas geklim, vertel sy ysig. Die skande gaan haar nog mal maak.

Moenie vir mý kyk nie, sê ek. Ek dra al twintig jaar skoene met hakke. En die meeste daarvan het ek by jou gekoop.

Binne ’n paar dae vind ek uit nog twee huwelike is tot niet, ’n verlowing is verbreek, drie kennisse is verneuk en die gay paartjie straat-af praat al weke nie ’n woord nie. So kom ek ook agter dat my maatskappy al hoe meer wins toon, skielik werk almal langer ure, niemand wil huis toe gaan nie.

Ek bly rondkyk en uitvra. Wat is aan die gebeur? Hoekom is almal aan die baklei? Is hulle net moeg? Is dit finansies? Die kinders? Die werk? Is almal deesdae net uitgekuier? Ontmoet hulle te veel nuwe mense? Is dit dalk die hele fiksheidsobsessie? Lyk mense deesdae te lank goed en begin dan rondloer? Is dit die vryery op die internet? Of is dit omdat hulle te min kerk toe gaan?

Daar is baie teorieë oor die aarde se flenter verhoudings. Mense is te besig, loopbane te uitputtend, geldsake te moordend. Hedendaagse vroue is finansieel meer onafhanklik. Ons leef deesdae baie langer. Families veroorsaak te veel wrywing. Tegnologie maak die wêreld al hoe kleiner en versoekings al hoe groter. Dis maklik om te skei. Dis sosiaal al hoe meer aanvaarbaar om rond te foeter. Mense trou te jonk. Te veel mans is skeef. Vroue raak afsydig ná die eerste baba. So kan ’n mens dit opnoem totdat hierdie hele boek vol is.

Ek het oor dit alles gedink. En elke ellende het seker sy eie oorsaak. Maar ek vermoed hierdie treurigheid hang oor die drumpel hoofsaaklik omdat ons die liefde onderskat. Die liefde is baie meer as net malraak, confetti in die hare of ’n kiekie op die kaggel. Dit moet versorg word, mense moet mekaar werklik raaksien en bestudeer, mense moet mekaar in hul onderskeie daaglikse situasies kan visualiseer en begryp.

Weet mense regtig, regtig wat hul lewensmaat elke dag beleef, hoe hulle reageer in hul werksituasies en waarmee hulle aan die einde van ’n dag die voordeur oopmaak?

’n Tuin het water nodig, ’n towenaar oefen sy truuks, die slimste masjien benodig ’n kragprop. ’n Flikkerende televisie, ’n koue bier, ’n troostende bord kos en dekades se wensdenkery kry wel die tyd om, maar op ’n dag staan die waarheid voor jou hek.

Daar is wel hoop. Heelwat! Diane en Dries is onlangs 30 jaar getroud en is nog steeds so opgewonde soos kleuters in ’n vol bad. Therése en Arnold het soveel pret, jy sou dink dis onwettig. Elna en Jo loer vir mekaar soos vrugtevliegies oor ’n oop appel.

Hierdie sprokies is nie net my vriende nie, maar ook die waarheid.

Die liefde is ’n reus. Hy pas jou op, dra jou op die hande en verskuif jou grense. Maar as hy verwaarloos word, misgekyk word, as hy die dag loop lê, is daar bitter min van ons wat die gereedskap het om hom op te help, om hom weer in sy spore te laat staan.