Rubrieke - Nataniël

As my kaart kom

Ek het geen benul waar hulle is nie. Ek is seker geen van hierdie koeverte bevat iets belangriks nie, dié wat werklik saak maak het al ’n nuwe adres ontvang. Behalwe in November en Desember. Dan daag hier koeverte met Kerskaartjies op vanuit die hele wêreld. Jaloers staan ek langs die posbus en streel oor die koevert, ek móét weet of dit ’n kaart is met blinkers, uitstaanblomme of 3D-herders.

Geen mens stuur meer vir my ’n Kerskaartjie nie. Nee, dis elke keer ’n SMS of ’n e-pos, ’n lelike elektroniese ding met ’n haas wat spring of ’n dik Sinterklaas op ’n skommelende slee. Wanneer ek wel ’n kaart ontvang, is dit ’n afgryslike mors van papier met die logo van ’n maatskappy wat wil seker maak ek bestel volgende jaar weer hulle produkte.

Ek onthou my ouerhuis, elke jaar oorval met blink, bont en bonkige kaartjies, rye op die klavier, stringe voor die ruite en orals op tafels tussen die blomme. Ek kon vir ure kyk na die detail, Victoriaanse tonele, skilderye van ou meesters, sterre, wyse manne, engele en sneeu op die dak van ’n stal waar dit nooit sou sneeu nie. Sommige kaarte het net ’n naam bevat, ander is vol geskryf met briewe. Hierdie massa kaarte was die bevestiging dat ons wel geliefd was, dat ons nie vergete was nie, dat ons belangrik  genoeg was. Die feit dat die bure ons drie weke laas gegroet het, dat die tennisfamilie nie wou opskuif in die kerk nie, dat almal behalwe ek verkies is tot die leerlingraad of dat ek die enigste skoolkind in Suid-Afrika was wat kon gewig aansit van water, niks het meer saak gemaak nie.
Alle wonde is bedek deur ons honderde kaartjies.

Op Wellington het ek in verwondering gestaar na die kleurryke massa in my ouma se huis, rye en rye kaartjies het die voorkamer omskep in ’n groot papierorrel. Ek het met trots besef die hele wêreld weet my ouma is die beste en wil haar dus hiervoor beloon.

Net ná Nuwejaar is alle Kerskaartjies gebêre. Sommige is opgeknip en geplak op skoolboeke, ander is op vindingryke manier herontwerp en het plek gevind op ’n geskenk. Die res is jare later – een aand met ’n pot koffie en groot stukke mosbeskuit – uit ’n kas gehaal en een vir een weer gelees. Dan is daar gewonder oor waar almal hulle bevind en ’n lys gemaak van dié vir wie daar gebel of gebid moet word.

Deesdae is dit of net die treurige kaartjies hulle pad vind na my posbus. Eerstens is daar die organisasies wat wil geld insamel. Hulle verkoop die lelikste prentjies
moontlik, hartseer honde, vaal dolfyne, stranddorpies wat smeek vir ’n stootskraper of maer kinders wat loer deur ’n doringdraad. Dan is daar die families wat hulleself rangskik op ’n rusbank, die fotograaf verwar met ’n vuurpeloton en dan die resultaat aan jou pos.

Maar die ergste van alles is die arts & crafts-pogings. ’n Sterretjie van draad word geplak op ’n stukkie riffelkarton en afgerond met ’n wollerige pypskoonmaker (simbolies van die agterbeen van ’n baie ou kameel). Agterop staan daar “Handgemaak deur Emily”. As daar net ’n foonnommer was, dat ’n mens aan haar die gevare van alkohol kon verduidelik.

Daar is deesdae asemrowende Kerskaarte, tonele wat regop spring, liggies wat flikker, takbokke in silwer (hulle het niks met Kersfees te doen nie, maar kan nog
steeds betower), duiwe wat opstyg en ’n onsigbare koor wat iewers in die papier wegkruip. By Harrods was daar verlede jaar ’n meterhoë kaart wat in ’n pophuis
verander. Vergeet van my ouderdom of geslag, stuur vir my die pophuis. Sit ’n lied in my hart, verpak ’n bietjie vreugde, koop vir my ’n blink ding, soek vir my
’n kaart.

  • Marna

    Ekself hou self nog van die kerskaartjie in die pos idee, dis net meer persoonlik. Ek’t ‘n punt daarvan gemaak om vir my vriende kerskaartjies te pos en om hul blydskap en verrassing na die tyd te hoor, was beslis die moeite werd!!!

  • Nickey Cronje

    Ek het grootgeword met die idee dat kaartjies oorbodig, onnodig en te duur is – iets wat iemand in elk geval net lees en weggooi. Na 7 jaar in Engeland is ek bekeer, want die Engelse gaan GROOT met kaartjies! Daar is letterlik ‘n kaartjie vir elke "whim en fancy" en elkeen SO mooi. Selfs al sien mens iemand elke dag, is dit nogsteeds vir hulle belangrik om mooi woorde en kort briefies in ‘n kaartjie neer te pen. Ek het teen hierdie tyd al bokse en bokse vol wat ek nie oor my hart kan kry om weg te gooi nie. Elkeen vertel ‘n storie van ‘n tyd, ‘n stadium en ‘n okkasie.

    En as jy skuldig voel oor al die bome kan jy die nuwe, eetbare "koekie" kaartjie probeer! http://www.biscuiteers.com

  • Suzanne Koertzen

    Ditsim Nataniël, skud bietjie daardie lui en suinige sms stuurders met afgesaagde ou versies wat iemand vir iemand vir iemand geforward het en nou op jou foon verskyn!! Bly dan liewer tjoepstil as om hierdie ou herhaalde "Kersfees" boodskappies aan te stuur. Ek self gaan dood oor ‘n mooi kaartjie, hetsy verjaardag of Kersfees. Ek wéét posgeld is nou se dae duur, maar eenmaal PER JAAR kan jy tog bietjie geld spandeer op mense vir wie jy lief is en stuur ‘n mooi Kerskaartjie met ‘n mooi prentjie en ‘n mooi boodskappie binne, deur jouself onderteken. Of is dit nou regtig te veel gevra???

  • Anica Koorsen

    Dat ek nou juis "land uit" moes gaan om weer ‘n bietjie moeite te begin doen met kerskaarjies.
    Sommige ou vriende was skoon geskok toe ek hulle posadresse aanvra!!
    Bly maar beslis die beste manier van wys dat jy omgee en aan hulle dink.
    Selfs ‘n maklike manier om vir iemand te laat weet "jy’s vergewe" sonder om te hoef te verduidelik!!

    Die Aussies hou van Kerskaarjies gee. Ek het meer die jaar gehad as in baie jare in Suid Afrika!

  • Fener

    Der Sascha schreibt fcber die Stille in der Blogosphe4re. Wenn ich neeidrungs einen Blick in meinen Feed-Reader werfe, fe4llt mir immer wieder eines auf: irgendwie ist es ruhiger geworden auf den privaten Blogs der deutschen Blogosphe4re. Zwar sammeln sich in meinem Feed-Reader immer noch unwahrscheinlich viele Artikel zu Nachrichten aus Politik, Wirtschaft, Technik und Sport, aber die privaten Blogartikel, wo Menschen fcber irgendwelche Neuigkeiten, Erfahrungen, Meinungen oder Begebenheiten aus ihrem Leben erze4hlen, die wurden in den letzten Wochen -zumindest bei mir- spfcrbar weniger. Quelle: Stille in der deutschen Blogosphe4re? | GESICHTET.net