Rubrieke - Nataniël

Botteltjies

“Ek voel treurig,” sê sy.

“Ek weet,” sê ek. “Ek kan dit nie vat as goed wegraak nie.”

“’n Mens raak so mismoedig,” sê die vrou.

Ek sê: “Dalk lê dit onder ’n kussing of agter in ’n laai.”

“Waarvan praat jy?” vra die vrou.

Ek sê: “Die oorbel.”

“Dis nie waarvan ek praat nie,” sê die vrou. “Ek was te moeg om altwee aan te sit. Ek praat van hierdie plek waar ons woon. Dis so treurig. Al die inbrake en moorde en pryse wat opgaan en mense wat weggaan en kindertjies wat op straat slaap en die kapings en die gekla en die gemors in die koerante en die gemors by die Olimpiese Spele en die korrupsie! Alles! Alles! Waar gaan ek heen?”

Ek sê: “Waar wil jy heen?”

“Nêrens,” sê sy. “Ek kan tog net hier bly. Maar hoe voel ’n mens weer beter? Hoe kry jy dit reg? Jy’s mos altyd gelukkig, ek sien hoe staan en giggel jy hier met die mense.”

“Ja,” sê ek. “Ek giggel maar.”

Die vrou vertrek. Ek kyk haar agterna en weet dat ek nie altyd gelukkig is nie. Ek slaap ook onrustig, my keel trek ook toe as ek die stories hoor, ek wonder ook oor die toekoms en bekommer my ook oor my oudag en my veiligheid. Weghol is nie vir my ’n opsie nie.

Maar dis beslis ook nie ’n opsie om op hierdie gekke kontinent my lot blindelings oor te gee aan enigeen wat koning kraai, of ek nou sy naam kan onthou of nie.

My waarheid is dit: Nommer een! My land het nog nooit ’n naam, ’n taal, ’n vlag of ’n volkslied gehad nie. My land het nog altyd bestaan uit my familie, vriende, vreugde, talent, stories, gehoor, hartstog en ideale. Enigiets anders is ’n reis, ’n besoek, ’n leerproses, ’n oorlog of ’n ompad

Nommer twee! Jy kan jouself nooit, ooit laat beter voel tensy jy iemand anders laat beter voel nie. Dis ál hoe dit werk. In ’n klein huisie op Porterville het ant Susie en ant Kit gewoon. Hierdie huisie was gevul met botteljies. Konfytbotteltjies, koeldrankbotteltjies, medisynebotteltjies en honderde flessies en glashouers. Elke dag is nóg botteltjies opgespoor, gewas en gestoor. En elke dag is botteltjies gevul. Met konfyt, lemonade, beskuit, koekies, ingelegde vrugte, vla, appelkooslekkers, meelvisse, neute, rosyntjies, muntstukke, vetkryte, potlode, blomsaadjies, gedroogde blomme of knope. Nie ’n enkele siel, bekend of onbekend, geliefd of betwyfel, is ooit daar weg of verby sonder ’n bottel in die hand nie.

En met elke geskenkie wat (sonder ’n woord) oorhandig is, het ’n grens verskuif, is ’n deur oopgeskop, is ’n seerplek genees, is hoop gebore, is ’n belofte gemaak, is ’n kind getroos, is ’n grootmens moed gegee, is ’n oumens bemoedig of vertroos.

Dis nie dat ant Susie en ant Kit gedryf is deur barmhartigheid of skynheiligheid nie, dit was bloot ’n leefwyse, iets waaroor daar nie besluit of gepraat is nie, dis wat jy doen, jy stop ’n ding in die hand. Hulle huis was die opwindendste plek op aarde. Dit het ons as kinders vervul met afwagting en verwondering. Nie om net te ontvang nie, maar om te wonder waarmee hulle besig was, ons was nooit seker nie, maar ons het geweet dit was groot en dit was goed

Hierdie leefwye is vandag die belangrikste wet in my land. Begin klein, gee weg, gee dadelik, gee aanmekaar, gee oorvloedig, gee aan enigeen, gee luuks, gee gewoon, gee prakties, gee plesierig. Bak twee koeke in plaas van een, maak ekstra aandete en lewer af, nie net by dié wat swaarkry nie, ook by dié wat het. Dis tydrowend, dikwels uitputtend, af en toe duur, maar genugtig! Dis opwindend.