Rubrieke - Nataniël

Die ewige romanse

Die mensdom het nét herstel, dan pryk die eerste Paashaas se sjokoladegevreetjie iewers op ’n rak. En so draai die wêreld van die kasregister.

Vra iemand waar het Valentynsdag sy ontstaan gehad en hy sal jou waarskynlik vertel in ’n sjokoladefabriek of ’n juwelierswinkel. Gaan krap jy rêrig rond, kom jy agter niemand is seker nie, daar’s ’n hele paar verhale.

Die algemeenste een is dié van Sint Valentyn. Die Romeinse Keiser Claus II het ’n tekort aan soldate gehad vir sy bloeddorstige manewales. Hy het besef dat jong mans nie hul geliefdes of bruide wou verlaat nie en het eenvoudig huwelike in Rome verbied. ’n Priester met die naam Valentyn het egter in die geheim aangehou om paartjies in die eg te verbind. Op 14 Februarie (hulle reken in die jaar 270) moes hy uiteindelik met sy lewe daarvoor boet.

14 Februarie was ook die dag waarop Juno, die antieke godin van huwelike, met ’n openbare vakansiedag vereer is. En die dag waarop ’n heidense fees gevier is waarop jong mans hulle kon vermaak met die meisies van hul keuse. (Omtrent iets soos ’n biertuin by ’n plaaslike kunstefees.)

In die Middeleeue het die Engelse en die Franse vas geglo dat 14 Februarie die dag is waarop duiwe se paartyd begin en hierdie dag het sedertdien ’n romantiese geurtjie gehad.

So bewandel ek ook elke Februarie die winkelgange en vermaak my met arms vol kerse, hartvormige sjokoladekoeke en die mooiste houers vol eetgoed, gedroogde blomme en beddegoed geborduur met romantiese motiewe. Tydens een van hierdie plesiertogte loop ek ’n ou kennis raak.

En wie’s jou Valentyn? vra sy.

My wat? vra ek.

Vir wie koop jy al dié goed? vra sy.

Vir myself, sê ek.

Sy staar my oopmond aan.

So, is jy nou romanties op jou eie? vra sy.

Maar natuurlik, sê ek. Elke liewe dag.

By die huis staan ek en kyk na my inkopies. Moet die romantiese my nou verbygaan, want ek is sonder Valentyn? Kerslig, ’n besonderse ete, ’n tydlose lied, ragfyn tafellinne, oorspronklike verpakkings, ’n hartroerende gedig, ’n kosbare brief, ’n splinternuwe uitrusting, ’n onverwagse kompliment, het ek nou skielik iemand nodig om enige van hierdie dinge te geniet? Is romanse, romantiek, noem dit wat jy wil, my verbode, want ek loop alleen?

Hierdie jaar is ek elke los oomblik in die winkels. Ek wag my ou kennis in. Ek wil haar graag vertel.

Romanse is mev. Laubscher, my biologie-onderwyseres, wat elke dag by die skool opgedaag het deftig genoeg vir ’n banket, krismisrose tussen die proefbuise gerangskik het en vraestelle uitgedeel het met die mooiste naels op aarde.

Romanse is mrs. Garreth, my Engels-onderwyseres, wat ’n boek met soveel ontsag kon vashou dat jy bly wonder het of sy toorgoed daarin bêre.

Romanse is om een keer elke twee jaar ná ’n konsert te kuier saam met Shaleen Surtie-Richards en só te lag dat jy ’n week lank rugpyn het.

Romanse is my vriendin Therése, wat in die middel van die dolste week een oggend vroeër opstaan sodat sy vir my ’n blik beskuit kan kom aflaai voor my koffie koud raak.

Romanse is om jouself elke middag vyfuur gaar te huil as Oprah vir iemand ’n huis of ’n motor of ’n skool gee, al weet jy dis TV en sy’t miljarde.

Romanse is om elfuur in die oggend gin te bestel, al drink die res van die wêreld tee. En elfuur in die aand tee, al drink die res van die wêreld gin.

Romanse is om onmiddellik vir jouself die grootste, pienkste doos sjokolade te gaan koop, dit ten aanskoue van die ganse Skepping motor toe te dra en nog vóór die eerste robot al dies met die neute in te verslind.

En die Valentyn? Dié bly ’n bonus, nooit ooit ’n vereiste.