Rubrieke - Nataniël

Die geheim van gemors

’n Geheim is iets wat weggesteek word, iets wat jy nie weet, behoort te weet of wil weet nie. Gemors is iets wat nie versorg of beskerm word nie, maar wel sigbaar is. Gemors is nie noodwendig vuil, stukkend of vrot nie, wonderlike goed, kosbaarhede of slim uitvindsels wat sonder respek en orde behandel word, kan uiteindelik as gemors kwalifiseer.

Vir effek word daar dikwels in toesprake en artikels gebruik gemaak van statistieke: elke soveel sekondes vind ’n aanranding of moord plaas, elke soveel sekondes
word ’n baba gebore, elke soveel sekondes verloor die reënwoude nog ’n boom. Hier is myne: Elke soveel sekondes skree iemand: Gaan pak reg jou kamer! (’n Taalkundige sal moontlik die sinnetjie wil versorg en verander na: Gaan pak jou kamer reg! Moenie. “Reg” hoort in die middel van die sin. Dis hoe daar geskree word. Deur ouers, onderwysers, toesighouers, pleegouers, eggenotes, broers en susters.)

In die netjiesste huise, die mees onberispelike kantore, die mooiste hotelle, die mees gesogte restaurante en die duurste slaapkamers is daar altyd ’n tas, ’n plastieksak, ’n kartondoos, ’n rak, laai, houtkis of kabinet waarin die chaos broei. Iewers is daar altyd ’n gat waarin die oorvloeisels gestop word.

Ek leef netjies, ek kan nie sonder dissipline, beplanning en absolute orde funksioneer nie, ek word beskou as pynlik en minimalisties, iemand het al selfs gewaag om my sterreteken (ja, ja, ek is ’n Maagd) te blameer vir die moordende aandag aan detail. Maar jy sal wel in my huis ’n paar laaie ontdek wat jou vir nagte kan wakker hou. In die een stoorkamer is daar ’n krat wat een keer per jaar oop en dadelik weer toegemaak word, in die garderobe is ’n tas waarin twintig jaar se frille wag om terug te keer na die verhoog, en in my badkamer, heel onder in ’n kas, staan ’n houer wat wag om my verhaal te voltooi.

Dis ’n mooi houer, ’n geskenkdoos uit stewige karton, bedek met glansende plakpapier en voltooi met ’n deksel vol fyn versierings. Ek het hierin ’n baie spesiale stel skryfbehoeftes ontvang terwyl ek nog ’n student was. Nadat ek alles gebruik het, het ek al die gelukwensinge van my 21ste verjaardag daarin gebêre. Dis nou nog daar. Daar is ook ’n knoop (ek weet presies wie s’n en onder watter omstandighede dit afgebreek het), ’n brief van ’n skoolmaat, ’n foto van my eerste liefde, die begin van ’n onvoltooide gedig (so diep, ek kan nou nog nie uitpluis waaroor die gedig moontlik kon handel nie), uitknipsels met onnosel uitlatings wat ek gemaak het aan die begin van my loopbaan, resepte in my ouma se handskrif, ’n dagboek uit my skooljare en vele, vele meer. Meer as twintig jaar al word goed in hierdie houer geprop. En daar moet ’n rede wees. En om dit te ontdek moet ek regpak.

Regpak gaan nie oor weggooi, mooimaak of spasie nie. Dit gaan oor die hantering van ’n voorwerp, om dit vas te hou, te beleef, herleef of deurleef. Dit gaan oor
ontdek, onthou en ontsyfer. Bitter min, indien enigiets, is toevallig. Daar is ’n rede hoekom jy een ding weggooi en ’n ander ding wegsteek. Dis die geheim van gemors. Dat jy iets weer raakloop wanneer jy oud of wys of desperaat genoeg is. Dit bekyk en rede vind vir jou reis, rigting vir die swerftog. Jy kan begrawe wat uiteindelik verby is, voltooi wat nog half is.

Klaar met die laai? Mooiskoot. Probeer nou die lyf, die hart en die brein, drie houers met talle geheime onder hope gemors.

  • Muriel van der Mescht

    Ek is mal oor Nataniel! Hy is ongelooflik talentvol en reguit! Jy kan maar luister en lees wat hy te se het! Ek blaai altyd eerste na sy rubriek toe in Sarie! Ek is op die oomblik in Engeland en mis Sarie en Nataniel!

  • Breggi Bredenkamp

    Ai, Nataniël ek wens jy wil eendag daardie geskenkdoos se inhoud in boek-vorm omskep, met foto’s natuurlik! Ek ek hoop ek leef lank genoeg om dit te beleef!