Rubrieke - Nataniël

Die hande van tyd

 

 Die seisoen is aan die draai, die blare val en die nagte is weer lank en geniepsig. Om my word daar gesnuif, genies en gehoes. ’n Grappie op die verhoog word al hoe gevaarliker, die geringste giggel ontaard in ’n hoesbui en nog ’n brander kieme rol deur die saal.

 

Elke tweede afspraak word afgestel, beloftes word vergeet en gesprekke kortgesny, die mensdom is olik, lamen afgetakel. Selfs my gesondheidsvriendin, homeopatiese

profetes met raad vir almal, is onkant gevang deur ’n loperigheidjie.

 

By die winkel staan ek met my mandjie varshede in die ry en wag om te betaal. Die volgende oomblik gaan die vrou agter my aan die proes.

 

Sy trek haar asem roggelrig in en hoes toe in my nek dat my ganse kindertyd voor my afspeel.

 

Ag, nee, siesag, sê ek kliphard.

 

Word jy nie siek nie? vra die vrou verontwaardig en soek na ’n sneesding.

 

Nooit, sê ek.

 

Jy’s gelukkig, sê sy.

 

Ek huil baie, sê ek.

 

Die vrou kom staan voor my. Shame, sê sy.

 

En ons almal dink jy’s die heeltyd vrolik.

 

Ek is, sê ek. Ek huil net baie.

 

Dis broodnodig en baie gesond.

 

Waaroor huil jy so? vra die vrou.

 

Ek huil elke dag as ek Oprah kyk, sê ek. Elke keer as sy vir iemand ’n huis of ’n motor of ’n skool gee, dan huil ek kliphard. Of as iemand gewig verloor of ’n operasie kry of  dwelms oorwin. Ek huil soos ’n baba.

 

En ek huil as Patti LaBelle ’n hoë noot sing, of as twee mense in ’n fliek soen of as iemand die 100 m wen. Ek huil as balletdansers se kouse goed sit, die trane loop as ek aan my peetkinders dink, ek tjank as ek ’n epos ontvang van my broer in Frankryk en ek vergaan as ek ’n foto sien van my oorlede hond, Cher.

 

Ek wil nog vir die vrou vertel hoe ek huil terwyl ek ’n goeie boek lees, hoe ek partykeer langs die N1 moet stilhou, want ek tjank oor ’n mooi stuk musiek. Ek wil haar ook vertel dat alles nie net pret is nie, ek huil oor elke nuwe plooi, ek huil van spanning voor ’n nuwe vertoning, ek weeklaag oor ’n aaklige resensie, ek ween oor die onversorgde kinders van die wêreld, en ek grens oor ek mense moes groet voordat ek gereed was.

 

Maar ek is skielik voor in die ry en moet betaal. Terug by die huis kan ek die grieperige vrou se verbasing nie uit my kop kry nie. Ek krap rond tussen my boeke en gaan dwaal op die Internet. Ek het nie gelieg nie. Trane bevat stresverwante vloeistof en is een die

liggaam se maniere om verligting mee te bring.

 

Mense huil as gevolg van moegheid, hartseer, skok, irritasie, teleurstelling, frustrasie, sentiment, verlange en blydskap, met ander woorde, wanneer hulle oorweldig is.

 

’n Beroemde dokter senavorsing wys hoe wewenaars baie makliker siek raak en selfs sterf as weduwees.

 

Weduwees het sosiaal meer die geleentheid om te huil en oor hul smart te praat en emosies word nie opgekrop nie. Die onvermoë of onwilligheid om te huil kan lei tot probleme soos hoë bloeddruk en maagsere.

 

Volgens ’n ander studie word kinders dikwels deur ouers geleer om nie te huil nie. Hierdie kinders ontwikkel nie net fisieke simptome soos om uitermate te sweet, ekstra speeksel af te skei en merke op die vel te ontwikkel nie, maar ondervind later in hul lewe ernstige probleme met die hanteer van emosies.

 

Orals word tegnieke aanbeveel vir mense wat dit moeilik of onmoontlik vind om te huil. Akteurs maak van die emosionele geheue gebruik – ’n hartseer of ontstellende insident word onthou. Ander glo aan die gebruik van bevrydende elemente soos skilderye, reuke, klanke, selfs juwele of klere wat aan ’n geliefde behoort het. Op ’n Nieu-Seelandse webwerf word mense aangeraai om te fokus op foto’s van verskillende blomsoorte. Ander beveel aan dat elkeen sy eie rede vir ’n droë oog moet konfronteer, hetsy sosiale druk, opvoeding of ou mites oor manlikheid.

 

Daar is ’n berg van inligting beskikbaar, navorsing is ’n aanhoudende proses en heelwat van die geleerdes verskil van mening.

 

Een ding is seker, die mensdom het ’n behoefte om te huil, skoon temaak, te sê Eina, of Help my, of Ek is bly. Sommige mense vestig hulself naby die see, ander in die binneland. Ander wil leef naby berge, wingerde of die woestyn. Ek?

 

Ek bly na aan trane.