Rubrieke - Nataniël

Eerste herfs

Met die jare het ek geleidelik leer oorleef en beleef, en probeer om soveel as moontlik te verstaan en te ontvang tydens elke draai van die weer. In die somer onthaal ek met voorbarige slaaie, probeer koel bly in kraamdrag en maan my vriende om die son te vermy, in die winter eet ek sjokolade voor die kaggel en dra my mooiste klere, in die lente kry ek hooikoors van die jasmynbos en raak verlief op enige ding wat in my rigting glimlag.

Maar elke jaar as ek my eerste winterkraag opslaan en die winkels begin stroop vir nuwe stewels, besef ek ek het weer die herfs gemis. Ek kan onthou my grasgroen tuin het begin bont raak, ek het die eerste komberse begin uitpak en in ’n stadium het ek begin brou aan my eerste pot groentesop, maar die herfsmaande bly nou maar die besigste tyd van my jaar en so glip hierdie rykste van seisoene my elke keer verby.

Hierdie jaar is dit anders. In dié stadium van my lewe kry ek niks meer gedoen as ek dit nie neerskryf nie. En alles wat ek ooit geleer het of kortliks na verlang het tydens hierdie seisoen, skryf ek nou hier neer en wie-ook-al wil saamkuier, is welkom, hierdie is my eerste herfs.

Doen iets: Ontsnap uit die huis. Herfs is die perfekte tyd vir beskaafde ontspanning in die buitelug. ’n Piekniek, ’n staptog of ’n kuier in die tuin, selfs die bittereinders wat die res van die jaar sonder suurstof deurdruk, behoort beskut en bekoor te word. Goudbruin bome of ’n welige rankplant wat uitbundig roes teen ’n tuinmuur.

Onthaal: Hierdie is die een tyd van die jaar wat smeek om informele gasvryheid. (Nie my groot gunsteling nie, maar ek gaan hierdie jaar probeer.) Lang tafels, versier met vrugte en herfsblare, gedek met skottels vol kleurryke en moeitelose disse en ’n stapel groot, weelderige servette – selfs die familie raak draaglik.

Geure: Kaneel, gemmer, neutmuskaat, appel en peer. En pampoen! Maak pampoensop en eksperimenteer met sterk speserye. Sny in skywe en braai in die oond, sny in repies en roerbraai met gekapte ui, stoom dit en bedien met heuning en gedroogde vrugte of vul dit met neute, bruinrys en heel uitjies en bak in die oond.

Die stoep: Is daar enigiets in die lewe wat ’n hart warmer maak as ’n kuiertjie buite wanneer die lug sy eerste knyp gee? ’n Bottel goeie wyn, ’n altaar van kerse, ’n bord vol kase, die ritsel van ’n boom wat ontklee en die geselskap van ’n groot liefde, hoe kon ek ooit hiersonder leef? Alle pieperigheid is nou verbode, herfs bied jou die verfrissende kombinasie van ’n bytende aandlug en ’n sagte, dik trui, waar skuil daar groter moontlikhede?

Vir die huis: Ek glo vas dat die ligging en omgewing van ’n gebou ook die interieur bepaal. Sodra ’n drumpel die oorsaak is van ’n ligte skok, weet ons daar’s fout. Maar vir elkeen wat steeds behoefte het aan strepe, blokke, patrone of dergelike waansin, is hierdie die seisoen om te speel, dapper te raak en buite die reëls te baljaar. Eksperimenteer met gedroogde blare, kruie en hout met sterk reuke. Vergeet die blompot en hang kranse of gerwe teen die muur of voor ’n kas. Haal uit die Kersfeesliggies en bondel dit in ’n glasbak met blare of mooi peulgroente. Red ’n moeë staanlamp met ’n Skotse serp en beloon daai getroue rusbank met ’n oordadige kombers.

Die groot gier: Ek kondig met trots aan, die terugkeer van ’n gunsteling! Hierdie seisoen vier ons onbeskaamd die kroning van ’n onbetwiste wenner, die toebroodjie! (Aan elkeen wat ek nog ooit geïgnoreer het op ’n lughawe, ek is jammer, ek het jou nie gesien nie, ek was op pad na British Airways se sitkamer en die skinkbord driehoekbroodjies. Mag ander lugrederye binnekort ook helderheid ontvang!) Hierdie stapelvoedsel is skaamteloos steeds die mees modieuse, tydloosste en vindingrykste happie op enige tafel, van die luuksste hotel tot die eensaamste plaaskombuis. Vars, elegant en opwindend, hoe kan jy weier? Kaalkop-kombinasies: komkommer en pesto, Edamkaas met rissiekonfyt, olyfpuree met gebraaide knoffel en vars tamatie, kalkoen met pruimblatjang.

En laastens, ’n pleidooi: Hou op hark! Hou op vee! ’n Herfsblaar is ’n seëning, ’n geskenk van bo, ’n simbool van die ewige lewensiklus, ’n gratis geskenk.