Rubrieke - Nataniël

Fabelagtig

In Fulham Road het ek by die winkel van my gunsteling-juweliers ingestap en besef die lewe is die moeite werd, alle ellende sal wel eendag tot ’n einde kom. (Butler & Wilson ontwerp en vervaardig ongewone kostuumjuwele. In dieselfde glaskas sal ’n arend van diamanté, ’n kopbeen van regte diamante en ’n stoomtrein van bont kristal langs mekaar uitgestal wees.) Voor my het die mooiste borsspeld van kristal gelê, pikswart en groter as my oopgestrekte hand

Dit was fabelagtig. Sprakeloos en bewend het ek gestaan en staar. Mooier was daar nog nooit. Toe’t ek omgedraai en uitgestap. Ek! Ek wat alles koop wat ek sien! Ek wat geen steen onaangeraak laat nie! Ek wat in Londen is vir inkopies! Niemand sal ooit kan verklaar wat daardie dag in my brein aan die gang was nie.

Die volgende oggend moes ek na Venesië vertrek. Ek kon die hele nag nie slaap nie. Vroegoggend, op pad na die lughawe, het ek by die winkel stilgehou. Dit was nog gesluit en sou eers twee uur later oopmaak. Met letsels in my binneste is ek Heathrow toe.

In Italië het ek honderde katedrale, museums, boetieks, galerye, grafte, gragte en gondels gesien, maar niks kon die skoonheid van die verlore borsspeld oortref nie. Dus, ’n hele jaar lank loop en droom ek daarvan, vertel almal daarvan en bly steeds in verwondering oor my kortlikse waansin. En toe, ’n paar maande gelede, ontvang ek ’n SMS op my foon. Madri, my sussie, is in Londen en staan en kyk na die borsspeld. Ek kan nie glo dis nog steeds daar nie.

Koop! tik ek histeries.

Gekoop! kom die antwoord vyf minute later

Drie weke lank loop ek op wolke. Uiteindelik is ek in die Kaap. Voor die konsert bring Madri die borsspeld. Dis nog net so mooi. Ná al my vertellings, beskrywings en oordrywings is dit nog steeds fabelagtig. Dis modern en eenvoudig, dis outyds en oordadig, dis vol beloftes en fantasie, dis vol geskiedenis en komplikasies.

Ek het nog nooit die borsspeld gedra nie. Maar elke aand sit ek op my bed en kyk daarna, soos een wat nog nooit iets besit het of ’n blink ding onder oë gehad het nie. Ek word net nooit moeg daarvan nie, dis soos ’n boek wat elke aand ’n ander storie vertel. En dis geen geheim dat ek ’n versameling ringe en borsspelde het wat vanuit die buitenste ruim sigbaar is nie, maar hierdie een is anders, hy word kort-kort uit die kas gelig en aan almal gewys, almal snak na hul asem, ek glimlag soos ’n trotse pa en gaan bêre weer my baba

Simpel en sondig? Oppervlakkig en materialisties? Nee, nee, meer as ’n eeu lank al is die ontwikkelde wêreld gefassineer deur die vyftig of meer Paaseiers wat Carl Fabergé met die draai van die vorige eeu vir die Russiese adellikes geskep het. Welvaart, korrupsie, wreedheid, hartseer, afguns, hoop, liefde, eksklusiwiteit, skoonheid en ongeëwenaarde vakmanskap is alles vasgevang in hierdie voorwerpe, elkeen slegs ’n paar sentimeters in omtrek

Dekades lank al fassineer die versameling juwele van Wallis Simpson, hertogin van Windsor, miljoene van ons. Is dit oor die kosbare minerale en edelgesteentes, die name van die wêreld se voorste ontwerpers, die ongelooflike bedrae geld wat bestee is en die unieke ontwerpe? Of omdat een onverskrokke vrou aan die hele wêreld gewys het liefde is magtiger as enige koningshuis of regering?

Gelukkig is elkeen wat tussen sy besittings iets ontdek, iets kleins en kragtigs, blink en belowend, asemrowend en vol geheime, ’n speelding om die hart te lig. In my kas is daar nog ’n paar goed – ’n antieke kookboek, briewe van my ouma, ’n paar skoene gegiet uit blinkers, ’n twee honderd jaar oue geborduurde lap – elkeen weergaloos, magies en vol verhale. Elkeen my redding op ’n dag wanneer ’n reis van enkele minute my wegvat van teleurstelling, moedeloosheid, uitputting, ooreising of angs.

Elkeen fabelagtig.