Rubrieke - Nataniël

Knyp

Ek het nie geweet van dié storie nie. Verlede Kersfees het ek by my winkels gesien die mense koop sulke versigtige geskenkies, twee sepies in plaas van ‘n halssnoer, in my straat was twee praghuise te koop vir ‘n appel en ‘n ei, by Kindersorg het die bydraes al hoe minder begin word, Valentynsdag was daar skaars ‘n rooi strik in sig, van my gunsteling-tydskrifte raak al hoe dunner en uitnodigings na sosiale geleenthede raak al hoe minder. Maar ek het my glad nie hieraan
gesteur nie, ek het gedink mense is ‘n bietjie besig, ek self hol soos ‘n hoender, dalk is dit ons land se politiek, dalk maak almal gereed vir die Wêreldbeker, dalk
verbeel ek my.

Toe hoor ek vriende in Amerika het hul huis verloor, in Frankryk wurg die mense aan hul klein salarissies, boetieks in Engeland gee 75% afslag op die nuutste modes, maatskappye dank duisendes af en in my faksmasjien verskyn daar elke oggend nog tien noodkrete.

Ek bel die bestuurders by my winkels. Maak ons geld? skree ek.

‘n Bietjie, sê hulle. Die mense koop, maar net wat hulle nodig het.

Ek het nog nooit van sulke nonsens gehoor nie. Wie koop net wat hulle nodig het? Nonne en gevangenes? Uiteindelik bel ek ‘n finansiële persoon en vra wat gaan aan. Hoe is dit moontlik dat almal skielik arm is? Hy verduidelik toe dat dit ‘n wêreldkrisis is, geld wat nooit rêrig bestaan het nie, is nou heeltemal weg. Ek skrik groot. Ons is in die knyp, aan die knyp. Nou moet ek ook knyp. Hoe knyp ‘n mens? Het ek al geknyp?

As student moes ek swaargekry het, maar ek het nie, daar was goed soos beurse, pryse, vakansiewerk en ouers. Daarna het ek begin werk, daar was min geld,  maar ons was jonk, ons het anders gelewe, saamgewoon, saamgery, plangemaak, gebaljaar. Later was daar meer geld, af en toe was daar ‘n klein bietjie moeilikheid ná die koop van ‘n té duur skildery of 5 paar ontwerperskoene in Londen, maar knyp? Nooit!

En so beland ek in een van die uitdagendste en verrassendste situasies van my lewe. Ek besluit ek gaan saamknyp, ek gaan vir ‘n hele maand net koop wat ek nodig het.

Die eerste paar dae gaan dit heel goed. Teen die vyfde dag begin ek kriewelrig raak, ek moet ‘n groep mense gaan toespreek en het niks nuuts om aan te trek nie. Ek grawe tussen die klere en ontdek 6 hemde wat ek nog nooit gedra het nie, ek is te dik om die knope vas te kry. Ek improviseer ‘n asemrowende uitrusting uit ‘n paar ouer kledingstukke. En hou op eet.

‘n Week later moet ek vriende onthaal. Hulle ken reeds die meeste van my breekware en ander versierings. Ek grawe weer, hierdie keer in my stoor.
Ek ontdek hope geskenke, goed wat vinnig weggepak is ná ‘n partytjie en nooit weer onthou is nie, borde, koppies en pierings, kershouers en glase.

So ontdek ek ook stapels boeke wat nog in hul sakkies in laaie gestop is, ander het tussen die rakke verdwyn en is nooit gelees nie. In die linnekas wag daar stelle servette en beddegoed wat gebêre is vir ‘n ander dag en toe nooit gebruik is nie.

Dis nou al 6 maande. Ek knyp nog steeds. En ek lewe nog net so goed soos voorheen. Ek kyk net ‘n klein bietjie anders na alles om my, waardeer dinge ‘n klein bietjie meer, gebruik goed ‘n klein bietjie meer. En leer baie meer oor myself, dis ‘n skoonmaakproses en dis verfrissend. Die finansiële persoon sê dit gaan nog ‘n rukkie aanhou, hulle het nog nie die verlore geld opgespoor nie. Verlede week het ek geknak en ‘n boetiek leeggekoop. Dit was fantasties.

Nou’s ek weer kalm. Ek gaan weer aan.