sr0810kaalkop
Rubrieke - Nataniël

Kos met strikke

Soos gewoonlik was dit twee sekondes voor spertyd en daar was nie tyd vir dink nie. Ek het een of ander voorspelbare antwoord gegee soos “vriendskap” of “enige goeie boek”. Later het ek ’n bietjie daaroor gedink. Dis waar, ek het fantastiese vriende, ek bestee die helfte van my leeftyd tussen stapels boeke, ek het ook groot plesier uit ander geskenke soos ’n paar unieke skilderye, horlosies wat spesiaal vir my uit die buiteland hierheen gebring is, die kookboek wat my ma in my sak gestop het die dag toe ek die huis verlaat het, versamelings glas en porselein en juwele wat al jare lank skitterende diens lewer. Al hierdie goed sal my ewig omring of bybly.

Ek het ook besef dat van my gelukkigste oomblikke op hierdie aarde was tydens die ontvang van ’n eetding. Van die mees eksotiese geisha-happies wat Charlene uit die Ooste bring en sjokolades wat Erik uit Frankryk stuur tot karamelkoekies wat Charl uit Argentinië bring, die feeverhale wat Rachel in haar kombuis optoor en die sakke vol goue skuinskoek wat Mariëtte laat aflewer. (Ek kan nie glo daar is steeds so min mense wat skuinskoek ken nie. Dis ’n hemelse, diamantvormige, diepgebraaide, anysgeurige stuk plesier, iets tussen ’n vetkoek en ’n beskuit. Dit neem tyd en talent om reg voor te berei en kan die Suid-Afrikaanse ekonomie uit sy ellende verlos as iemand dit op groot skaal begin bemark. Ek het skuinskoek kleintyd ontdek toe Danie Nel se ouma dit uit Sutherland gestuur het, daarna moes ek jare wag om dit weer in Kakamas te herontdek.)

Hierdie jaar was moeilik. Teëspoed, onsekerheid, siekte, misdaad en roekeloosheid was orals, baie mense het hul vastrapplek verloor, baie draai hul sente om en vermy die winkels. Al hoe meer hoor ek: “Ons gee nie hierdie jaar geskenke nie.” Genade. Jy kan net sowel sê: “Ons haal nie hierdie jaar asem nie.” Duisende mense glo Kersgeskenke is wêrelds. Dis waar. Ander glo dis geldmors. Dit kan wees. Ander dink dis onnodig. Bog. Dis absoluut nodig, onbetwisbaar noodsaaklik.

’n Geskenk is ’n boodskap, ’n gebaar, ’n brief, ’n bevestiging, ’n oomblik, ’n viering, ’n verklaring, ’n hartklop, ’n uiting, ’n tweeledige genot. Daar is geen mens te oud, te jonk, te slim, te belangrik, te mooi, te beroemd, te suksesvol of te befoeterd om nie die gee of ontvang van ’n geskenk te koester nie. Begroting is egter vir baie ’n probleem, nou meer as ooit. En dis waar die papiersak, die glasbottel, die konfytfles, die kartondoos, die mandjie, die waspapier, die mengbak en die bakplaat, die rol lint en die skêr trots ’n tree vorentoe gee. Ons noem dit Kos Met Strikke.

Vir honderde jare het ons nasie oorloë gewen, rampe oorleef, skole en kerke gebou, trane verdryf en families versterk met bottels vol vrugte, blatjang, konfyt en stroop. Skinkborde vol plaatkoeke, krimpvarkies, klapperys, skons, sjokoladerol, skuimpies en Hertzoggies is by kerksale afgelaai. Bakke vol bobotie, hoenderpastei, herderspastei, melktert, yskastert, dadelpoeding en koekstruif is oor die straat gedra. Bottels vol gemmerbier en limonade is gestrik en geplak. Bekers vol vla of brandewynroom is gekroon met doilies. Blikke vol soetkoekies, neutkoekies, mosbeskuit, kaneelballe en kaasvingers het langs die Kersboom gewag.

Ek dink nie my ouma het dit eens een keer in haar lewe oorweeg om ’n geskenk te koop nie. “Vir wat sal ek ’n ander man se goed loop weggee?” sou sy gesê het. ’n Geskenk word gemaak. ’n Kombers, ’n trui, ’n geborduurde lappie, ’n kussing of ’n kaartjie, alles is gemaak, tydsaam en met sorg. Vandag is daar net so min tyd soos geld, maar hopelik is daar nog die sorg. En die kombuis bly die redding. Die voordele is veeltallig, die genot, die bevrediging, die terapie, die terugkeer na ’n waardevolle geskenk. Vind ’n fles. Maak dit vol. En gee dit ’n strik.