Rubrieke - Nataniël

Langs die vuur

Vir heelwat mense is die oomblik só groot, hy glip verby voordat daar op ’n aktiwiteit of ’n plesier besluit word; ’n paar ontsnap wel na ’n stadige koffie in ’n nabye restaurant of ’n glas ystee in die stilte van die tuin.

Vir my is daar geen groter genade as ’n kopkussing en ’n paar toe oë nie, maar wanneer ek my paar los minute ontdek en ek is reeds in die omgewing, glip ek onmiddellik in by een van my gunsteling-winkels en snuffel soveel as wat ek kan. Een van hierdie heerlike plekke is MG Design Box in Waterkloof. Ek verloor myself tussen rakke sepe en olies, ontwerperskussings en kerse, eetgerei en berge blink goed wat geen doel het in my lewe nie, maar wel op ’n manier in die kattebak beland.

Op ’n dag staan ek en bewonder ’n hoop Oosterse kussings toe ’n vrou by my verbyskuur. Sy kyk met slap oë na ’n stapel borde, tel een op en sit hom dadelik weer neer. Sy lig ’n sepie uit ’n bak, draai dit twee keer om en sit dit neer. Maar ruik hom! dink ek hardop.

Die vrou beweeg na die juwele. Sy lig ’n halssnoer op en kyk daarna sonder die geringste uitdrukking op haar gesig. Daar’s ’n spieël! brom ek in my bakhand. Sy laat val die halssnoer en draai om. Agter haar lê ’n toring gooidoeke van die sagste winkelpels denkbaar. Geen lewende wese kon nog ooit die versoeking weerstaan om daaroor te vryf nie. Die morsdood vrou lyk soos een wat staar na ’n wynvlek op ’n biduurmat.

Ek wil gil. Voel dit! Vat net daaraan!

Sy staan net. Verlore en versteen. ’n Winkelpop met ’n brandwond sal meer vreugde uit die lewe haal. Ek snuif ’n stapel sepe, gryp ’n bondel wierook, vry gou ’n kussing en koop ’n paar geborduurde skoentjies wat ’n dwergbruid sal knyp, maar dit blink en ek is histeries.

Op pad huis toe sing Tina Turner my bloedsomloop in ’n ander rigting en ek dink aan die beelde wat my lewe help vorm het en my altyd sal bybly. My ouma wat buk om nog ’n verrassing uit die lou-oond te lig, Jossie Gouws wat haar hande oopvou voor die koor, Bette Midler wat uit die helikopter klim in The Rose, Barbra Streisand gillend voor op die boot in Yentl, Topsi wat ’n hand vol blare in die limonade druk, Catherina de Bliquy wat nóg ’n ragfyn kwashaal oor haar doek vee, Patti LaBelle wat haar kop agteroor gooi ná ’n drie-oktaaf-glissando, Oprah wat gesels oor skelm eet met ’n paar miljoen dollar skitterend aan haar ore.

Dis ’n sirkel vrouens, almal met lang, aktiewe lewens, almal verbind deur een kenmerk, hartstog, onblusbare hartstog vir wat hulle doen. En dit verdwyn nie, dit verflou nie, dit bly teenwoordig, ’n deurslaggewende dankbaarheid vir talent en die vreugde daarvan en ’n brandende begeerte om dit te deel met die res van die mensdom. En so is ons gemaak, hierdie oop vuur bly nooit jou eie nie, dit word gesien deur vele en leer jou om te soek na dié van ander.

Onlangs blaai ek deur ’n gehawende album in my stoorkamer en ontdek ’n foto van myself, geneem toe ek ses jaar oud was. Ek staan met ‘n kroon en ’n swaard, geklee in ’n strepieskamerjas, met watte getoor tot ’n koningskleed. Ek blom in my eerste kostuum, mal van blydskap oor my eerste skoolkonsert. Nou pryk ek in ’n ander strepiesjas, een van die kostuums uit die vertoning My brother Fonzo. En die blydskap is nog steeds daar, die waansin, die spanning en die trots, elke emosie wat saamtoer vandat die hartstog kleintyd kom wakker maak is.

Ek dink aan die dooie vrou in die winkel en ek leef met dankbaarheid vir elke familielid, kunstenaar, onderwyser of vriend wat hul hartstog aan my kom wys het. Ek woon, soos ’n sigeuner, langs die vuur, na aan die vlam, nuuskierig en verwonderd, bly dat die vreugde nie oud word nie, dat ek steeds ontvangs kan neem van ’n nuwe uitdaging, ’n nuwe reis, ’n nuwe liefde.