Rubrieke - Nataniël

Lint, lig en lafenis

Van kristalballe uit Harrods tot dennebolle uit Kuilsrivier, van geborduurde Kerskouse tot macaroni-engele, van rolle kunspêrels tot antieke kershouers en ragfyn lint, alles word uitgestal. Nie op Kaalkop of hier by my aardse familie word die Kersboodskap gevier met ’n skrapse affêretjie nie, ons doen dit met oorgawe, ons doen dit behoorlik.

Die maande lange soektog na elkeen se geskenke bereik nou ’n klimaks (ek het reeds in Julie begin, die oomblik is té groot) en berge verrassings word sorgvuldig toegedraai en versier. ’n Jaar lank word daar dopgehou, wat is nuut, wat is opwindend, wat is uitstekend en wat verskaf vreugde? Ná deeglike bepeinsing, uitprobeer en weer probeer is die gunstelinge gekies en die beslissing finaal. Hierdie wenners skuil vanjaar in die kouse op Kaalkop:

Musiek: Nommer 1 op die lys is Nianell se meesterstuk, Angel Tongue. Uitgedink en uitgevoer deur Nianell en briljant vervaardig deur Pop Planet se Marius Brouwer (ook verantwoordelik vir die verrassende nuwe album deur Heinz Winkler), verdien hierdie versameling songs ’n permanente plek naby jou oor.

Leesgoed: ’n Boek gekies met sorg en gegee met liefde, bly ’n tydlose en welkome geskenk. Twee boeke word hierdie jaar in hope uitgedeel. Don’t Move deur Margaret Mazzantini is die meesleurende monoloog van ’n pa aan sy sterwende dogter. Father Joe – The Man Who Saved My Soul is geskryf deur die Britse satirikus Tony Hendra en bring hulde aan ’n monnik wat jare lank sy geestelike leier was. Briljant.

Skoonheid: Ek het al voorheen verduidelik dat die geheim van ewige jeug skuil in Clarins se nagroom, kan ’n mens selfs meer vreugde op aarde verwag? Clarins se nuwe reeks velsorgprodukte vir mans bied nou uitkomkans aan elke ondier, daar is ’n room vir enige krisis. Storm nou apteek toe en verander die padda in ’n prins.

Die Mandjie: Een van die heerlikste geskenke om te gee of te ontvang is wat in my vriendekring bekend staan as Die Mandjie. ’n Ongewone mandjie of houer word gevul met ’n groot verskeidenheid van dieselfde tipe produk, eksotiese kase of elke denkbare sjokolade tot jou beskikking of tuisgemaakte jellies en konfyte. ’n Kissie vol kruieplantjies of ’n versameling van die beste wyne, beplan sorgvuldig ’n unieke versameling en kweek nuwe passies.

Kennis: Die idee om namens iemand op ’n tydskrif in te teken het nog altyd vir my geklink na ’n flou storie. Totdat iemand onlangs vir my ’n jaar se uitgawes van ’n gunsteling-tydskrif as geskenk gegee het – nou’s ek verlore daarsonder. Almal is op soek na inligting en nuwe idees, ’n horde internasionale tydskrifte spesialiseer in verskeie rigtings van finansies tot kookkuns, natuur, avontuur, handwerk en modes, ’n praktiese geskenk wat heeljaar plesier verskaf.

Wit goed: Wit simboliseer vrede, geluk, hoop, lig en genesing. Geen geskenkstapel is volledig sonder ’n paar wit goed nie. Sagte handdoeke (die pad na my hart), spierwit kussingslope, ’n handvol sepe, ’n armvol kerse, ’n bondel skryfpapier, ’n reusetafeldoek of ’n bos vars blomme. En as daar nog iewers ’n huishouding sit en sweet oor ’n tafel bont breekware, ’n stel bruikbare wit borde bied onmiddellik langdurige uitkoms.

Ontsnap: Nie elke geskenk hoef onder die boom te wag nie, ’n aand van ontvlugting, ’n broodnodige paar romantiese ure of ’n langverwagte samesyn tussen vriende is dikwels die verkwikking wat ons die langste bybly. Bespreek ’n tafel of twee in ’n restaurant waar tyd stilstaan en die kombuis kan toor. Van ons gunstelinge: 95 Keerom Street (Kaapstad), Topsi & Company (Franschhoek), Deluxe (Johannesburg), The Red Tomato (Pretoria), Café Delicious (Pretoria), Donatello’s (Centurion) en Laborie (Paarl).

En vir almal wat steeds raadop is of onseker bly oor die vriendekring se nuutste giere, is daar net een uitweg, die saamsleeptoets. Nooi jou vriendin vir koffie en sleep haar deur die naaste Woolworths of @home. (Ek is nie die grootste voorstander van kettingkopies nie, maar hierdie twee reuse kry dit eenvoudig net reg. Die verskeidenheid, kwaliteit en beskikbaarheid move my.) Hou dop waar die oë rek, waar word gevoel en waar word geruik, een diep teug aan ’n pot vol geur en sy vertel jou alles.

Aan elkeen wat hierdie jaar saamgelees, gekuier en gekook het, my beste wense vir ’n feestyd vol vreugde, wonderlike smake, sielsrus en hope verrassings!